Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Hervorming

AKTUEEL: Oktober: Maand van beslissings       

Dobbelkultuur

SKRIFOORDENKING:
Kragvolle getuies (Hand 1:8a)

"Die oplossing van VIGS"

Sekretariaat vir Volksbou-Media uitreiking

Die vrou in kerklike ampte?

'n Geestelike skisofrenie?

Ons strydvaardigheid in kerkverband

Die wegraping?!

KERKLIKE JOERNAAL: 
Reformasie of deformasie?

Instituering van GK Orania

OPVOEDING EN ONDERWYS:
PUK en UNW kan een, 'uniek' word

Deputate CO oor PUK en UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Krisis in Onderwys kring uit

NG Sinode steun ANC grondroof

PERSRUBRIEK: 
Dir is wat Rome sê

Bywoning van eredienste

Die pad van 'n nuwe Psalmberyming

Geloof in die skeppingswerk van God of aan evolusionisme?

KOMMENTAAR: 
'n Sinode van verydelde hoop?

Betwisbare sake op NG Sinode

GESPREK MET LESERS:

MEDIESE ETIEK: 
Gesondheidsrisiko en mediese fondse

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 6  No 6 November 2002

DIE WEGRAPING

-  DS HPM VAN RYN (WILROWPARK) IN:  DIE KERKBLAD, 3 JULIE 2002  (BL 22 & 23)  -

Die wegraping is iets waaroor baie gelowiges deesdae praat. Boekwinkels is vol boeke met die wegraping as tema. Oor die radio hoor ons ook advertensies van gewilde boeke wat oor die wegraping handel. Maar wat behels die wegraping en waarom preek Gereformeerde predikante nie daaroor nie?

Aanhangers van dié leer hou verskillende variasies voor en daarom is dit moeilik om presies te sê wat hulle glo. Die wegraping is in kort 'n leerstuk wat sê dat Jesus voor sy finale weder-koms skielik eers nog 'n slag sal kom om die gelowiges te haal. Hy kom die gelowiges haal sodat hulle die tyd van die groot verdrukking, wat net voor die finale wederkoms gaan plaasvind, kan vryspring en dit hulle gespaar kan bly.

Die groot verdrukking gaan dus net die ongelowiges tref wat op aarde gaan agterbly, want Jesus het sy kerk kom wegraap. Wanneer hierdie tyd verby is, dan gaan Jesus weer kom om te oordeel en dan gaan die ewige lewe aanbreek. In totaal kom Jesus dus drie keer aarde toe - eers met sy geboorte, dan met die wegraping en dan met die wederkoms. Dit klink baie troosvol, maar is dit waar? Is dit regtig wat die Bybel sê?

Begronding?

Die woord "wegraping" staan nêrens in die Bybel nie. In die Ou Vertaling staan die woord "wegraap" net drie keer en dit net in die Ou Testament (Jer 8:13; Sef 1, 2 en 3). By aldrie hierdie tekste gaan dit oor God wat ongehoorsames gaan bymekaar maak om hulle te oordeel. Hier is dus nie sprake van 'n wegraping soos wat hierdie leer bedoel nie.

Waarop word die leer van die so-genaamde wegraping dan begrond? Dit word begrond op gedeeltes soos 1 Tessalonisense 4 :17. Kyk, daar staan dit dan in die Bybel, sal aanhangers van dié leer sê: "Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug: en so sal ons altyd by die Here wees." Daar staan dit mos. Die Here gaan ons kom wegraap! En kyk maar na Matteus 24: 40, 41: "Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat." Skielik sal al die gelowiges van die aarde weggeneem word en dan sal die groot verdrukking aanbreek onder die ongelowiges

Weerlegging

Is dit regtig wat daar staan? Dat Jesus die gelowiges van die aarde gaan wegneem sodat hulle die groot verdrukking gespaar kan bly? Staan daar regtig iewers in die Bybel dat Jesus nog twee keer gaan kom? Nee, dit staan nêrens nie. Inteendeel, Matteus 24 waarsku gelowiges juis om gereed te wees vir die volgende en finale koms van die Here - die wederkoms. Daar staan niks van 'n wegraping voor die wederkoms nie.

Die Skrifgedeeltes waarna die aanhangers van die wegraping verwys, het gewoonlik op Jesus se finale wederkoms betrekking. Die wederkoms self word in hierdie gedeeltes beskryf. Die twee wat op die land werk en waarvan een saamgeneem word en die ander agtergelaat word, is 'n manier om die oordeel van God te verduidelik. Gelowiges en ongelowiges woon en werk nou nog saam hier op die aarde, maar wanneer die wederkoms aanbreek, dan vind die oordeel plaas en dan word die gelowiges en ongelo-wiges vir altyd van mekaar geskei - een word saamgeneem na die ewige lewe en die ander word agtergelaat vir die ewige dood. Dit wat in Matt 42: 40, 41 gesê word, word dus herhaal in Matteus 25: 31-33.

Hier is definitief geen sprake van 'n eerste en 'n tweede wederkoms nie. Alleen maar een enkele wederkoms wat met verlossing en oordeel gepaard gaan.

Dieselfde met 1 Tessalonisense 4: 17. As daar staan: "Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug", dan troos die Here ons met hierdie gedagte: Wanneer die wederkoms plaasvind, dan kom Jesus en Hy bring die siele van die gelo-wiges wat reeds gesterf het, saam. Hulle liggame sal dan opgewek word, met hulle siele verenig word en daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so, saam met ons geliefdes wat reeds gesterf het, sal ons vir altyd by die Here wees.

Weereens, hier is geen sprake van Jesus wat nog twee keer moet kom nie. Dit is baie duidelik 'n beskrywing van Jesus se finale wederkoms.

Onnodige troos?

As dit dan so was dat daar eers 'n wegraping van die gelowiges sal wees voordat die groot verdrukking aanbreek, dan is groot dele van die Bybel onnodig geskryf, dele wat wat juis geskryf is om die gelowiges in die verdrukking te versterk en te bemoedig.

* Matteus 24: 21, 22 sê byvoorbeeld: "... Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word." Die uitverkorenes word dus nie weggeraap om daardie tyd vry te spring nie, maar God kort die tyd in om hulle tegemoet te kom. Die hele Bybel is ook vol aanmoedigings om tot die einde toe te volhard, soos byvoorbeeld Matteus 24: 13. Waarom sou dit nodig wees as ons dan weggeraap sou word om die verdrukking vry te spring?

* Die hele Openbaringboek is dan ook eintlik onnodig Openbaring is juis geskryf om gelowiges te bemoedig, ook en veral in die tyd van die groot verdrukking. Hoor maar wat sê Jesus in Openbaring 3: 10, 11: "Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat nie-mand jou kroon kan neem nie." In hoofstuk 7 word die gelowiges beskryf wat in die groot verdrukking enduit getrou gebly het. Hulle het dit deurgemaak en met God se genade getrou gebly! Hulle is nie voor die tyd weggeraap nie! In hoofstuk 13: 7 lees ons van die antichris dit: "Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en om hulle te oorwin ... ." En dan in vers 10: "Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges." As die wegraping wel bestaan, sal die antichris nie teen die gelowiges kan oorlog maak nie en sal hulle nie die volharding en die geloof nodig hê nie.

Ons belydenis

Die leer oor die wegraping word daarom ook in geeneen van ons belydenisskrifte gevind nie. Ons belydenisskrifte (byvoorbeeld Sondag 19 van die Heidelbergse Kategismus en artikel 37 van die Nederlandse Geloofsbelydenis) bely alleen maar die troosvolle finale wederkoms van Jesus Christus.

Ons het nie die leer van die wegraping nodig nie. Nee, ons het die vaste troos dat God in beheer is en ook sal wees tydens die groot verdrukking. Hy sal sy kinders daardeur dra. En daarna sal ons Here Jesus Christus, Hy wat bereid was om vir ons sondes te sterf, weer kom om ons in hemelse blydskap en heerlikheid vir ewig by Hom te neem!