|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
Hoofartikel
HERVORMING
Kort voor die publikasie hiervan is in Protestantse kerke die Kerkhervorming herdenk. Dit betref die daad van Marten Luther met die bekendstelling van sy besware teen die Rooms-Katolieke Kerk van die laat Middeleeue. Dit staan in die konteks van die pouslike hiërargie en die verkondiging van 'n valse leer en onheilige kerklike praktyke wat geduld is. Elke jaar geld die 31ste Oktober as dag van herinnering aan die 95 stellings aan die deur van die slotkapel te Wittenberg, wat as die begin van die kerkreformasie van die sestiende eeu bekend staan. Maar in vandag se dae word aan die woord "hervorm" ook ander betekenisse geheg. Dit geld sowel die terreine van die kerklike as die staatkundige lewe.Die reg om grond te besit moet nou "hervorm" word. Dis een van die betekenisse van hervorming vandag. Dit betref die verandering in die staatkundige bedeling. Voorheen kon swartes geen grond in blank gereserveerde gebiede bekom nie. Afsonderlike ontwikkeling is nou uit die bose, gelykstelling is nou die mode. Van liberale kant word dit as 'n "hervorming" beskou dat die vorige bedeling plek gemaak het vir dié van die "nuwe Suid-Afrika". Hierdie verandering kan nie as vooruitgang getipeer word nie. Dit staan nie in die konteks van reformasie nie maar in dié van die revolusie. Die huidige toestand in Zimbabwe is die uiterste voorbeeld daarvan. Die ekstreme plaasaanvalle en gewelddadige moord- en roof wat byna weekliks oral in ons land gepleeg word, is nog 'n bewys daarvan.
Die Hervorming van die sestiende eeu staan in die teken van Kerkreformasie. Reformasie en revolusie het altwee die element van verandering, van omwenteling. Reformasie behels terugkeer na die ou paaie waarvan weggedwaal is. Revolusie daarenteen doen weg met die verlede en wil 'n nuwe toekoms bou, gefundeer op die rasionele, die redelike denke van die mens. Revolusie sit die mens op die troon. Reformasie behels die terugkeer na God en die verwerping van menslike instellings waardeur Hy in die samelewing van die kerk en maatskappy onttroon is/word.
Dis merkwaardig hoe kwistig die woord "hervorming" gebruik word om verandering te bewerkstellig. Marten Luther het op die oomblik van die aansit van die 95 stellings op die Slotkapel te Wittenberg die wydlopende gevolge daarvan nie voorsien nie. Hy was eenvoudig getrou aan sy oortuiging van die misstande in die kerk en het slegs terugkeer na die waarheid van verlossing van sondes deur die soenbloed van Jesus Christus beoog. Sy appèl was hoofsaaklik gerig op die afgodery van die aflaathandel om die siele van afgestorwenes uit die vagevuur los te koop. Die Here het dit gebruik om 'n omwenteling, 'n reformatoriese terugkeer tot die suiwere Woord- en sakramentsbediening te bewerkstellig. Allerweë het die daad van Luther navolging gevind en die oë oopgemaak vir die verdorwe toestand van die Rooms-Katolieke Kerk.
Die ANC/SAKP het op 26 Junie 1955 sy Vryheidsmanifes, wat as voorloper van hulle "hervorming" getipeer kan word, aanvaar en bekendgestel. Hierdie manifes dien tans nog as die riglyn vir die totale revolusie wat voltrek moet word. Dít, tesame met die akte van menseregte, is die grondslag van die staatkundige "hervorming" wat sedert 1994 momentum gekry het. Die omwenteling wat dit teweeg gebring het, is gewelddadig bewerkstellig. So is die reformasie van die sestiende eeu gewelddadig teengestaan onder die leiding van kerklike en wêreldlike leiers wat hulle gevestigde tradisies en instellings wou handhaaf. Dis die ongeloof teenoor die geloofsdade van die reformatore. Dis die Satan, die magte van die hel, teenoor die almag van God, die Skepper en Onderhouer van die hemel en aarde. Daar bestaan geen twyfel oor wie die oorwinnaar in hierdie stryd is nie.
Vandag vereis dit geloofstrou en geloofsgehoorsaamheid om die stryd in die krag van God aan te durf. Dit was in Luther se geval net so. Dit is so ook vandag in die kerklike en maatskaplike opsigte van die bestaan.
Nou weer word daar gepraat oor 'n "nuwe hervorming" met die oog op die verstaan en verklaring van die Skrif. Dit word aangevoor deur teoloë van die "Jesus-seminaar". Hulle gedagtes steun sterk op motivering wat deur die Duitse teoloog Rudolf Bultmann en van sy navolgers gedoseer is. Dis in werklikheid geen hervorming nie - dis geen reformasie nie! - maar misvorming van die Bybelse boodskap. Die Skriftuurlike waarheid word betwyfel en geïnterpreteer as mites wat ontmitologiseer moet word. Die Bybel verskaf slegs "boodskappe" wat die mens daarin moet lees en verstaan. Ons is weer terug by die Paradystoestand waar Satan ook die woorde van God verdraai het en 'n bepaalde betekenis daaraan geheg het soos dit hom pas. Dis geen hervorming nie maar revolusie teenoor God!
Ons moet onderskei waarop dit aankom, die geeste beproef of hulle uit God is. Dit leer die Bybel ons. Vir ons om dit toe te pas in die omstandighede van ons bestaan. Ons sal dit nie kan nie, nie sonder die krag en wysheid wat ons van God deur sy Heilige Gees moet ontvang.
Hoe pas ons dit toe? Aanvaar ons die interpretasie van die Bybel soos dit die mens pas? Aanvaar ons die redusering van die Psalmgesang in die eredienste om dit aan te pas aan menslike sienings en behoeftes? Aanvaar ons op gesag van slim praatjies dat vrouens in kerklike ampte kan dien? Aanvaar ons in plaas van die nagmaalsgebruik van tafel en beker(s) die misvorming van die sakrament deur dit met kelkies in die banke (en dalk saam met jong kinders) te gebruik? Aanvaar ons 'n liturgie in die kerk wat mensgerig is en waarby die suiwere Woordverkondiging en die eer van God as die sentrale saak in die gedrang kom? Is ons te bang om kerklike tug te bedien waar openlik afgewyk word van die leer en lewe volgens die Here se Woord?
Daar is gelukkig nog 'n strewe na ware hervorming, na reformasie in die kerk. Daar is ook 'n hunkering na die behoud van die goeie ou paaie. Dit betref nie slegs 'n gevestigde tradisie nie. Teen die invoering van afwykende liturgiese vernuwings word wal gegooi. Maar dit word nou ook die tyd om op te staan en openlik 'n geveg te begin met die liberale teoloë wat in die Afrikaanse kerke 'n botoon voer. Artikel 71 van die Gereformeerde Kerkorde lui soos volg: "Die kerklike tug is geestelik, daarom is, afgesien van die burgerlike straf, die kerklike sensuur noodsaaklik om die eer van God te handhaaf, die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen en die aanstoot uit die gemeente van Christus weg te neem."
"Die allerbelangrikste rede waarom die kerklike tug so uitvoerig in die Kerkorde behandel word, is omdat die toepassing van die tug 'n kenmerk is van die ware kerk, saam met die suiwere bediening van Woord en sakramente (art 29 Nederlandse Geloofsbelydenis). - Daar kan geen sprake wees van suiwere Woordbediening (prediking) as daar nie strenge toepassing is van leertug nie; as daar nie tug toegepas word oor valse prediking en dwaalleer nie, sal die kerk baie gou ontaard in 'n valse kerk (vgl art 80 KO). Daar kan ook geen sprake wees van suiwere sakramentsbediening as daar nie strenge toepassing is van tug oor lidmate se leer en lewenswandel nie; as mense wat ongelowig en goddeloos lewe, sonder tugtoepassing toegelaat word tot die sakramente, word die verbond van God ontheilig en word sy toorn oor die hele gemeente opgewek (vgl HK V/A 82; ook artikels 76 en 77 KO)." aldus dr Jan Visser (Die Kerkblad 23 Oktober 2002, bl 28, 29). Ons is Gereformeerd om blywend te reformeer. Laat ons dan ware hervorming, die skriftuurlike reformasie van en in die kerk en samelewing soek en bevorder.