|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
KERKLIKE JOERNAALREFORMASIE OF DEFORMASIE?
Verslag van 'n Ouderlinge Werkswinkel wat gehou is op Saterdag 12 Oktober 2002, aangebied deur die Gereformeerde Kerk Klerksdorp onder verantwoordelikheid van dr FRP de Bruyn, met die medewerking van prof CJH Venter en dr Wim Vergeer.Tydens hierdie Werkswinkel is die tradisionele viering van die Sondag en die bywoning van die eredienste betwyfel en "vernuwende" denke ten opsigte daarvan voorgestel en oorweeg.
Allereers is 'n "gestandaardiseerde verwysingsraamwerk" krities beskou.
Dié raamwerk "vra van ons koelkoppe en nugtere denke. Die Heilige Gees praat met ons in die idioom van die hede en nie in die idioom van die verlede nie". ... "Vanuit hierdie verwysingsraamwerk het ons ten opsigte van ons geestelike roeping die volgende aannames gemaak:
Dat net Sondag die "Dag van die Here " is. Ons praat gewoonlik ook van Sondag as die Dag van die Here.
Dat daar eredienste op Sondae MOET plaasvind. Dat indien daar nie 'n erediens op Sondag is nie, dit 'n strafbare oortre-ding is. Waaruit lei ons dit af?
Dat eredienste net op Sondae MAG en MOET plaasvind.
Dat nie iets anders as 'n erediens op 'n Sondag gehou mag word nie.
Dat twee eredienste op 'n Sondag gehou moet word.
Dat al die lidmate gelyktydig in een gebou moet saamkom vir 'n erediens.
Dat net die predikant in die erediens mag en moet figureer.
Dat net die diakens die offers vir die diens van Barmhartigheid mag opneem.
Dat ons ons roeping ten opsigte van die jeug en die jongmense nagekom het, as die Woord in die erediens aan hulle verkondig is.
Dat 'n erediens 'n uur moet duur.
Dat die tweede erediens 'n "andersoortige erediens" as die eerste erediens is.
Ons spirituele roeping mag nie ingeperk en aan bande gelê word deur aannnames wat die toets van die Skrif nie kan deurstaan nie.
Daar is soos volg (betwisbaar - PvdK) beredeneer:
"Die idee dat SONDAG .... "die Dag van die Here" is, in die sin wat die Sabbatdag in die Ou Testament "Dag van die Here" was, kan die toets van die Skrif nie deurstaan nie. Daar word wel in die Nuwe Testament gepraat van die "dag van die Here", maar dan word daar deur die spreke verwys na die opstandingsdag van Jesus Christus uit die dood. As Nuwe Testamentiese kerk kan ons nie van Sondag sing soos Psalm 118 van die Ou Testamentiese Sabbat gesing het nie: "Dit is die dag deur God verkore ...". Sondag is nie deur God verkies as dag, uitgesonder bo die ander, waarop die Nuwe Testamentiese godsdienstige handelinge moet plaasvind nie (vgl HK, Sondag 38; 1 en 2 Kotintiërs; Kolossense 2:17).
Ons huidige Sondagsiening kom van Konstantyn die Grote. Die praktyk van 'n tweede erediens op Sondag vind sy oorsprong nie in opdrag vanuit die Skrif nie maar, so is deur die vaders van die 17de eeu gemeen, dat indien die mense op 'n Sondagmiddag in 'n erediens betrek word, die brassery van daardie teëgewerk kan word.
Nêrens in die Skrif is daar 'n aanduiding dat al die gelowiges op 'n bepaalde plek gelyktydig in 'n gebou moet wees vir 'n erediens nie (vgl die situasie in Rome, Korinte).
Koorsang of solosang in die erediens hoef nie noodwendig die eenheidsbeginsel van die gemeente te verbreek nie."
Vir oorweging is voorgestel:
Dat inplaas van om ons spirituele roeping deur Sondag as "dag van die Here" en van Sondag tot Sondag te laat bepaal, ons na hierdie roeping gaan kyk van jaar tot jaar.
Die kerkraad oorweeg 'n "Bedieningspakket" vir 'n jaar wat argumentsonthalwe so daar uitsien:
EREDIENSTE: 52 (gehou op Sondae, Goeie Vrydag, Hemelvaart, Pinkster ensovoorts, en moontlik ook op weeksaande. Hierdie eredienste word so versprei dat daar twaalf Sondae in die jaar is waarop daar nie eredienste plaasvind nie, maar wel byeenkomste vir die jeug en die jongmense. Tien van hierdie Sondae kan oor die jaar versprei word en aan genoemde groepe afgestaan word. Van die twee Sondae wat nou oorbly, word die een, naasste aan Pinkster afgestaan vir 'n gemeentelike werkswinkel met die oog op toerusting van die gemeente se evangelisasie- en sendingsroeping. Die oorblywende Sondag word argumentshalwe "Ekumeniese Sondag" genoem en afgestaan vir ekumeniese aangeleenthede. 'n Saamtrek van die drie Afrikaanse Kerke kan gereël word met die oog op toenadering tot mekaar en vir besinning oor gesamentlike roepingsvervulling op baie terreine.
Om die pakket nog verder in te klee kom dan nog by:
Weeklikse Bybelstudiegroepe
Kleingroep-bediening
Byeenkomste van belangegroepe rondom die problematiek van hulle beroepe.
Die voorgestelde bedieningspakket sien dan soos volg daaruit:
(1) Eredienste 52; (2) Jeug en jongmensbyeenkomste 10 Sondae;
(3) Toerustingsbyeenkomste vir die gemeente 2 Sondae. Dit wil nie sê dat daar nie aan die einde van die verrigtinge 'n kort dank-seggings-erediens kan plaasvind nie; (4) Bybelstudie - 5 groepe, een keer per week = 200 byeenkomste oor tien maande;
(5) Doopkategese wanneer nodig; (6) Huwelikskategese waar nodig; (7) Belangegroepe soos byvoorbeeld medici, onderwysers, ekonome, regslui ... Een keer per maand = 40 byeenkomste;
(8) Kleingroepbediening: een keer in twee weke. Dit word ge-doen in wyksverband of homogeen of ooreenkomstig ouderdom ensovoorts. Twintig groepe kom 20 keer per groep oor tien maande = 400 byeenkomste per jaar; (9) Kersaand 1; (10) Nagmaal 4;
(11) Diakonale aktiwiteite; (12) Kategese; (13) Susters.
Volgens die inleiers het "al hierdie aktiwiteite een uitkoms: 'Om die heiliges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus' " (Ef 4:12).
Ander sake wat vir oorweging genoem is:
Dat die belydenisklas by geleentheid die kollektes tydens die erediens opneem;
Dat die openbare gebed ook deur iemand anders as net deur die dominee gedoen word.
Dat 'n koor ondersteuning aan die sang tydens die erediens verleen.
Dat die koor in die antwoorddiens sal optree en dat die gemeente hulle optrede toeëien as hulle s'n deur die sing van die AMEN soos na die geloofsbelydenis.
Dat vir die "koinonia" intensiewer en meer uitgebreide geleentheid in die erediens geskep word.
Die geheel is afgesluit deur die opmerking van "ds Frans" dat dit 'n werksdokument is, waarin gedagtes en wenke deurgee word vir besinning "sodat ons ons spirituele roeping op die effektiefste wyse kan vervul."
REDAKSIONELE KOMMENTAAR
Dit is weer een van die sake waar independentisties opgetree word om die orde van die kerk te verander, sonder om dit volgens die voorgeskrewe wyse kerkordelik en kerkverbandelik vooraf te laat dien. Daarbenewens behels dit aantasting van die gesag van die Skrif en belydenisskrifte. Dit is 'n saak wat al die kerke in die verband van die GKSA aangaan, daarom behoort dit te dien op die tafels van meerdere vergaderings alvorens dit vir toepassing voor te stel. Opvattings oor die verstaan van die Skrif, in stryd met tradisioneel Gereformeerde geloofsbeskouings, dien as regverdiging van hierdie eiemagtige optrede.
Die vraag hierbo is of dit as reformasie of deformasie getipeer moet word. Is dit wat die werkswinkel voorstel, uit God of uit die mense? Luister hoe dit aangevoor en gemotiveer is:
"Ons verwysingsraamwerk is die bril waardeur ons na die werklikheid kyk. Hierdie bril is saamgestel uit verskillende faktore uit die verlede en hede wat op die vorming van ons totale mens-wees ingewerk het. Omgewing, opvoeding, intellek, geestelike milieue is, onder andere, van hierdie faktore. Ons psigiese samestelling speel ook 'n rol in ons verwysingsraamwerk wat nie geïgnoreer kan word nie. Omdat ons benadering tot die werklikheid deur hierdie bril bepaal word, moet ons die samestellende dele steeds onder die vergrootglas plaas om te verhoed dat ons blik nie beneweld word en ons perspektief uit pas is met die eise van ons tyd nie. Wanneer die bril verouderd raak, neem geestelike bysiendheid oor en ons fokus slegs op een kol. Hierdeur word ons effektiwiteit om ons roeping op alle terreine van die lewe te vervul, gekortwiek. Vir baie jare is hieraan weinig aandag gegee. ...
"Die Heilige Gees praat met ons in die idioom van die hede en nie in die idioom van die verlede nie."