|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYKRISIS IN ONDERWYS KRISTALLISEER UIT
- dr Pieter van der Dussen - Pretoriase Akademie vir CVHO -
Snelle opeenvolging van sake in die onderwys
Die gebeure in die onderwysomgewing volg mekaar die afgelope tyd teen n groot spoed op. Dit is ooglopend duidelik dat Kader Asmal die tempo drasties opgestoot het om die onderwysbeleid van die ANC/SAKP op alle vlakke so gou en so vinnig te vestig as wat enigsins kan gebeur. Oor die haalbaarheid en sinvolheid van die deurjaag van die planne word kennelik nie gedink nie, ook nie oor die enorme verlies wat jongmense aangedoen word wat op kort kennisgewing herhaaldelik spronge moes en moet maak nie. Daar is net een doelwit: Om die ideologiese ideaal so vinnig moontlik struktureel te vestig.
Kader Asmal is die verantwoordelike minister van onderwys van die ANC/SAKP. Normaalweg is n minister se taak om beleid in optrede om te sit. In Asmal se geval geld egter dat hy ook ideologie in beleid omsit. Trouens, dit is te betwyfel of daar enigiemand in die ANC/SAKP-regime is met die verstandelike vermoë, oortuigdheid en insig wat Asmal het. Sy vertrekpunte word uiteraard vir hom voorgeskryf in die ideologie van die ANC/SAKP - noukeuriger gesê, van die SAKP. Hy vul hierdie vertrekpunte egter op hoogs bekwame wyse aan met sy persoonlike sieninge wat ooglopend by die SAKP-ideologie inpas, en as dit nie presies inpas nie, is Asmal verstandelik sterk genoeg om óf dit te máák pas, óf die ANC/SAKP te oortuig van sy insigte.
Dryfvere
Asmal se dryfvere in sy politieke optrede kan onder drie uitgangspunte saamgevat word. Die eerste is dat hy hom ten volle met die ideologie van die SAKP vereenselwig, ongeag wat sy formele verbintenis tot die SAKP is. Dit behels volle staatseggenskap oor alles en veral oor almal. Op onderwysgebied beteken dit dat die staat besluit wat geleer word van die laagste tot die hoogste vlak. Vanselfsprekend hou dit baie nou verband met alle lewensterreine en is die staat se seggenskap oor onderwys bepa-lend vir wat op elke lewensterrein gebeur en veral gaan gebeur. Was dit Trotski wat gesê het: "Gee my een geslag kinders.....?" Met tipiese geduld van die Oosterling is Asmal bereid om bietjie te wag vir die resultate wat deur die SAKP met die steun van die ANC beoog word, omdat Asmal besef dat standhoudendheid van die resultate daarvan gaan afhang of n nuwe geslag in staat gaan wees om daarmee voort te gaan.
Asmal se tweede dryfveer is afkeer in en selfs vyandskap teen die Christendom. Daarmee sluit hy regstreeks by die SAKP aan. Sy onderwysbeleid is dan ook uitdruklik daarop gemik om Christelikheid in die onderwys doelgerig teen te werk. Dat hy multi-godsdienstigheid nastreef, is vir die Christen dieselfde as uitgesproke anti-Christelikheid, aangesien multi-godsdienstigheid uitdruklik in stryd met die Eerste Gebod is en die enigheid van die Drie-Enige God in sy wese aantas.
Die derde dryfveer is die doel om die Afrikaner te verneder en te vernietig. Dit spruit deels uit die vyandigheid teen Christelikheid voort, deels uit die SAKP-gesinde ideologiese sieninge, deels uit gewaande veronregting in die verlede. Daarom is die ANC/SAKP se onderwys-taalbeleid doelbewus daarop gerig om Afrikaans op alle vlakke te verneder en as ontwikkelde letterkundige en wetenskapstaal uit te skakel. Dat dit deel van n omvattende ideologiese ingesteldheid uitmaak, staan vas. Die aanslag op Afrikaans is n aanslag op die Afrikanervolk, en die aanslag op die Afrikanervolk is n aanslag op die Christendom. Terselfdertyd is dit op die daarstelling van n wêreldse staat en n wêreldeenheidstaat gerig volgens die kommunistiese tradisie wat in die eerste Babel van Genesis reeds na vore gekom en in die tweede Babel van Openbaring sy hoogtepunt sal bereik - maar ook sy val.
Die ANC/SAKP se onderwysbeleid moet noodwendig teen hierdie agtergrond beoordeel word. Wat die groot haas onder die soeklig bring waarmee Asmal as die verantwoordelike minister die laaste maande poog om die beleid in wetgewing vas te lê en deur te voer. Waarskynlik is Asmal se gesondheidstoestand die hoofrede vir hierdie haas. Dit is te betwyfel of daar iemand anders in die ANC/SAKP-geledere is wat die ideologiese denkbeelde so suiwer en so sterk sal kan deurvoer as wat Asmal dit doen, en hy en die regime besef dit.
Tegelyk het die besef gedaag dat sy tyd kort word. Begin September het hy n byeenkoms met onderwysinstellings op die laaste nippertjie vir n maand uitgestel. Skaars was sy gesprek met Potchefstroom aan die einde van September en die begin van Oktober verby, of daar word aangekondig dat hy op doktersadvies gaan rus. Veelseggend is dat erken word dat hy kanker het en skynbaar in die hospitaal opgeneem is.
Kernpunte
Watter kernpunte is daar in die beleid? Die eerste kerndoelwit is totalitêre beheer oor onderwys op alle vlakke en in alle opsigte, van administrasie en organisasie tot leergange en leerplanne, tot die inhoudelike van alle onderwys. Asmal het sonder skroom - en tot skande van die sogenaamde Afrikanerleiers sonder weerstand - die selfstandigheid van die staatsuniversiteite en -technikons wetlik weggeneem deur hulle private wette te herroep waardeur dit vir hom moontlik geword het om hulle as t ware onder een dak tuis te bring. Dat hy dit werklik doen, blyk uit sy voorskriftelikheid ten opsigte van taalgebruik en die samesmelting van instellings.
Die totalitêre benadering kom volgens die nuutste beleidsuiteensetting vir skole duidelik in die ope. Eerstens is daar die algemene neiging om privaatskole en staatskole wat onderwys en opvoeding betref, aan identiese opvoedingsreëls te wil onderwerp. Uitdruklik betrek dit godsdiens en kultuur. Waar staatskole reeds onder verbod geplaas is om Christelike onderwys te gee en verplig word om multi-godsdiensonderrig in te voer, wil Asmal reëlings instel wat privaatskole minstens tot die nakoming van multi-godsdienstigheid sal dwing. Skole wat subsidie ontvang, is uiteraard onmiddellik kwesbaar. Skole wat nie subsidie ontvang nie, sal egter langs ander weë tot onderwerping gedwing word.
Twee maatreëls staan in hierdie verband uit: Slegs een sentrale staatseksamen sal voortaan op sekere vlakke erken word, en private en selfs provinsiale eksamenliggame sal verdwyn. So word n staatseksamen aan die einde van Graad 9 ingestel wat die leerling se "lewensvaardigheidsvlak" sal toets. Dit sal akademiese prestasie insluit, maar groot klem sal geplaas word op die geestelike ingesteldheid van die leerling. Hiervoor word die verpligte vak Lewensoriëntering ingevoer. Bepaaldelik sal elke leerling bewys moet lewer van simpatieke multi-godsdienstigheid en sal hy die rites en kenmerke van meerdere godsdienste moet ken en daaraan kan meedoen. Dit is nie verniet dat "Dansstudies" as nuwe vak ingevoer word nie. Die Afrika-animisme en die Oosterse mistiek floreer immers op danse van allerlei aard.
Ouers moet kennis neem!
Dit het dringend tyd geword dat ouers moet kennis neem van wat reeds in die staatskole geleer word. Die onmiddellike vereiste is reeds dat selfs graad 00 en graad 0 aan ander godsdienste blootgestel word en dat elke kind aan die einde van graad 3 reeds die eerste rites van ten minste drie godsdienste moet ken. En Asmal wil hierdie reëling ook op privaatskole toepas. Met ander woorde, die gelowige ouer se plig om sy kind as Verbondskind in die ware leer van die Bybel op te voed en te onderrig, word hom ontneem selfs as hy saam met ander ouers n skool sou oprig. Dit is reeds n misdaad om n skool te bedryf as dit nie geregistreer is nie. Asmal sal met groot gemak n skool kan verplig om aan sy bevele gehoor te gee of gederegistreer te word. Sien ons dat ons op geloofsvervolging afstuur deur middel van die onderwys?
Indoktrinasie
Nadat n leerling die Graad 9-staatseksamen afgelê het, kan hy een van twee rigtings kies vir "Voortgesette Onderwys en Opleiding" (in Engels: "Further Education and Training - FET). Hy kan n akademies-gerigte of n tegnies-gerigte samestelling van sewe vakke kies. Twee tale, wiskunde of wiskundige vaardigheid, en lewensoriëntering is in alle gevalle verpligtend. In plaas van simbole sal die syfers 0 tot 5 voortaan gebruik word om prestasievlakke aan te dui, met 0 n aanduiding van druip en 5 van onderskeiding. Verder word die aantal moontlike vakke van 124 tot ongeveer 35 verminder en aangesien hoër- en standaardgraad verval, sal die matriekeksamen aansienlik eenvoudiger en goedkoper kan verloop. Op sigself lyk hierdie voorstelle nie sleg nie en tegnies van aard. Die angel lê egter in dit wat hier verswyg word.
In die eerste plek word geen melding van taalvoorkeur gemaak nie. Daar is in Suid-Afrika net twee gangbare wetenskapstale, naamlik Afrikaans en Engels, terwyl ander wetenskapstale uit Europa stelselmatig die afgelope dekades doodgewurg is. Soos sake tans staan, kan aanvaar word dat Engels op elke moontlike manier bevoordeel en aan leerlinge opgedwing gaan word terwyl Afrikaans die teenoorgestelde gaan ervaar. Terselfdertyd kan verwag word dat "moedertale" naas Engels aangemoedig sal word. Nie net gaan Afrikaans stryd moet voer om staande te bly nie, maar die status daarvan gaan tot dié van die Swart tale van Afrika verlaag word, met ander woorde sonder enige "bemagtigingswaarde".
Tweedens is die vak "Lewensoriëntering" in sigself n gevaar. Wat behels dit? Min besonderhede is nog bekendgemaak, en waarskynlik opsetlik ten einde eers die begrip te vestig voordat gesê word hoe dit gaan lyk. n Voorlopige verduideliking lui so: "Lewensoriëntering is n holistiese benadering. Dit is n studie van die individu in verhouding met ander en die gemeenskap." Dit is n suiwer horisontalistiese omskrywing sonder enige begin en enige einde, met ander woorde sonder n beginselgrondslag. Verder word gesê wat goeie burgerskap betref, sal leerlinge ingelig word oor die belangrikheid daarvan om diversiteit in n transformerende en demokratiese gemeenskap te aanvaar. Diskriminasie op grond van ras, geslag, ouderdom, taal en kwessies soos vreemdelingehaat sal aandag kry. Die belangrikheid van nasionale trots, gemeenskapsdiens en betrokkenheid in n demokratiese samelewing is deel van die vaardighede wat n leerling sal moet leer. Vir n buitestaander klink dit goed. Vir die Afrikaner en veral die Christen-Afrikaner is dit egter onheilspellend.
Doelwit
Waarop stuur hierdie vak af? Asmal self stel dit so: "Leerlinge wat lewensoriëntering van 2004 af as verpligte vak in graad 10 tot graad 12 neem, sal aan die einde van hul skoolloopbaan weet wat dit is om n goeie landsburger te wees." Die vraag is natuurlik: Goed volgens wie se en watter norme?
Die antwoord hierop is te vinde in n uitgebreide verslag oor onderwysbeplanning wat enkele maande tevore uitgereik is. Daarin word gestel dat slegs leerlinge wat in die Graad 9-staatseksamen blyk van n ingesteldheid tot demokratiese transformasie toon, tot die laaste skoolfase op pad na matriek toe toegelaat sal word.
Diegene wat nie aan hierdie vereiste voldoen nie, sal n oriënteringskursus kan doen ten einde die regte ingesteldheid te ontwikkel. Prakties beteken dit dat die gelowige Christenkind nie verder as Graad 9 sal kan gaan nie tensy hy tot multi-godsdienstigheid en alles wat daarmee gepaard gaan, instem. Geloofsvervolging verskyn voor ons oog, hierdie keer saam met die beeld uit Openbaring dat diegene wat nie die merk van die dier dra nie, nie toegelaat sal word om te koop of te verkoop nie. Gelowige kinders sal immers op hierdie wyse uit die arbeidsmark geweer word.
Wat kan gedoen word?
Die betreklik beperkte inligting wat aan die publiek in die algemeen bekend gestel word, is met opset onvolledig sodat daar nie alte veel kommer moet ontstaan nie. Agtergrondinligting is wel beskikbaar, maar meestal moeilik bekombaar en veral moeilik om deur te lees en deur te sien. Tog is dit wat bekend is, duidelik al voldoende om die alarmseine te laat aanslaan.
Die stryd het duidelik twee onderskeibare fronte, naamlik Christelikheid en Afrikanerskap. Vir die gelowige Afrikaner loop die twee saam: Die stryd om Christelikheid behels die stryd om Afrikanerskap, en omgekeerd. Dit is die afgelope eeu en langer goed verwoord in die uitdrukking "Christelik-nasionaal" en "Christelik-volkseie". Dat daar in die dubbele opsig wat in hierdie uitdrukking vervat is, die afgelope eeu te veel op struktuur en veral die staatstruktuur gesteun is, kan nie ontken word nie. Tans geld egter die teenoorgestelde, naamlik dat dit juis die staatstruktuur is wat die "Christelike" en die "nasionale" en die "Christelik-nasionale" nie net bedreig nie, maar doelgerig aanval.
Hieruit volg onvermydelik: As die Afrikanervolk sy waardestelsel wil behou, sal hy hom teen die staatstruktuur se aanslag moet verweer en sterk maak. Dit laat aan hom geen ander keuse nie as om sy eie struktuur daar te stel. Soos Asmal namens die SAKP die onderwys as speerpunt kies, so sal die Afrikaner dan die onderwys as speerpunt moet erken en daardie speerpunt moet teéstaan totdat hy die proses omgekeer het.
Instellings soos CVO-skole, ARSO-skole, die tuis-onderrigbeweging en andere is reeds bekend. Hulle het oor vyftien jaar bewys dat dit moontlik is om op hierdie vlak sinvol en doelgerig weerstand te bied. Selfs op naskoolse vlak is eie instellings vir hoër onderwys as haalbaar bewys en is die Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys voluit op dreef en besig om gevestig te raak met opleiding in ekonomiese wetenskappe, opvoedkunde, regte, tale en dies meer. Daar is dus reeds vestings van waaruit weerstand gebied word en gebied kan word. Dit berus by elke Afrikaner of hierdie vestings sal voortgaan om weerstand te bied en hoe sterk die weerstand sal wees.
Ook die kerke moet wakker word!
Dit het egter die hoogste tyd geword dat die reggesinde Afrikaanse kerke hulle roeping teenoor hierdie saak sal begin nakom. n Handjievol plaaslike kerkrade doen dit wel, maar die kerkverbande skram voortdurend daarvan weg om die staatsonderwys te kritiseer, laat staan nog teen te gaan. Gewetens word gesalf met mooi besluite en gebede vir "Christelike onderwys". Waar? Deur wie? In die staatskole? Deur n staatsonderwyserskorps wat toenemend uit onchristelike lede bestaan?
Die Afrikaanse kerkstrukture se skuld aan die Afrikanervolk is baie groot. Toe hulle moes gewaarsku het, het hulle hul, onder Broederbondinvloed, in die klooster van "nie-in-politiek-betrokke-raak-nie" teruggetrek, maar ook en veral omdat dit die maklikste en veiligste uitweg was. Nou sal die kerke egter moet begin besef dat hul eie voortbestaan op die spel geplaas word as die anti-Christelike skoolonderrigplanne deurgaan. Die kerke moet besef dat hulle binne een geslag, binne twintig jaar, sonder nuwe jong lidmate gaan wees nadat die jongmense van vandag deur indoktrinasie van die kerk vervreem geraak het. Trotski se woorde galm uit: "Gee my een geslag kinders en ek vernietig die Christelike kerk.....".
Christelike onderwys in onafhanklike Christelike skole en op naskoolse vlak is nie meer nie, was trouens nog nooit, "politiekery" nie. Deuteronomium 6 is hieroor n ernstige vermaning aan ouers en ook aan kerke. Die kerke is geroepe om die Koninkryk van Christus in hierdie land staande te hou. Die skrif is aan die muur en hulle sal eenmaal rekenskap moet gee of hulle die skrif verstaan en daarvolgens opgetree het. Nie net die Afrikaanse kerke nie, ook die Engelse, ook die Swart kerke moet wakker word. Ook hulle voortbestaan word bedreig. Ook hulle het n taak en roeping, en ook van hulle sal eenmaal rekenskap gevra word.
Dodelike bedreiging
Laat ons onder geen illusie verkeer nie: Die toestand is kritiek, die bedreiging dodelik. Nogtans word die tyd ons gegun om te besin en te beplan en op te tree. Ons geloof word elke dag beproef en al hoe meer beproef. Laat ons nie moedeloos word nie. Ons het hier met n aanslag nie net teen die Afrikanervolk te make nie, maar teen die Koninkryk van Christus. Daarom mag en moet ons in die Naam van die HERE hierdie aanslag nie uit die weg gaan nie, maar juis tegemoetgaan. Soos voor Bloedrivier dreig die duisternis om weer oor hierdie deel van Afrika toe te sak soos wat dit reeds na die Noorde toe gebeur het. Maar soos by Bloedrivier weet ons dat die Here Sy kinders bewaar en dat die magte van die duisternis voor sy Lig die wyk moet neem.