|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
'N (NGK) SINODE VAN VERYDELDE HOOP?
RADIO PRETORIA SE NUUSKOMMENTAAR, MAANDAG 21 OKTOBER 2002 Sowel die uittredende moderator, prof. Pieter Potgieter, as die redakteur van die Algemene Kerkbode het op die vooraand daarvan die wens uitgespreek dat die pas afgelope Algemene Sinode van die NG Kerk n Sinode van Hoop sal wees.Met volle respek en begrip vir hulle moeilike taak in die hantering van sensitiewe en kontroversiële onderwerpe moet ons in die lig van die Sinode se besluit ten opsigte van die drie sentrale vraagstukke tot die gevolgtrekking kom dat dit op n sinode van verydelde hoop uitgeloop het. Dit is dan ook veral so omdat daar van die Sinode af nie duidelike leiding en uitspraak met betrekking tot een van dié drie sake gekom het nie.
Die mees brandende kwessies waaroor die Sinode standpunt moes inneem was Bybelgesag, kerkeenheid en homoseksualisme. Al drie sake is met vermydingstaktiek op die lange baan geskuif. Oor die Bybel is sowel die fundamentalistiese as die liberalistiese benadering verwerp en die verslag na teoloë, kerkrade en gemeentes vir bespreking en kommentaar verwys. Die kwessie van kerkeenheid is vir hantering deur n konvent vir kerkeenheid verwys. Wat homoseksualisme aanbetref is die uiteenlopende reeks voorstelle na n tydelike kommissie verwys om glo te kyk of dié met n paar samehangende voorstelle na die Sinode, oor vier jaar vermoedelik, kan terugkom.
Ons kan nou al met sekerheid voorsien dat daar nie oor een van die drie sake met besliste uitsluitsel na die Sinode teruggekeer sal word nie. Die rede is eenvoudig. Die Sinode is nie n eenheid van homogeendenkende afgevaardigdes verteenwoordigend van n homogeendenkende meer as n miljoen lidmate nie. Dieselfde teenstrydige en uiteenlopende standpunte sal na die Sinode terugkeer.
Die oorsaak daarvan lê daarin dat die NG Kerk deur die afgelope jare elemente binne sy geledere duld wat teenstrydig met sy kerkorde en sy geloofsbelydenisse is. En dit moet gewyt word hoofsaaklik aan die verdwyning van die derde merkteken van die ware kerk, naamlik, die kerklike tug oor die leer en lewe van die ampsdraers en lidmate.
Die Amerikaanse skrywer Josh McDowell het dit in hierdie verband kernagtig uitgedruk toe hy gesê het dit gaan nie om verdraagsaamheid nie, maar om waarheid en daar kan net een waarheid wees. Die NG se Algemene Sinode het inderdaad toegelaat dat die druk op hom om verdraagsaamheid jeens andersdenkendes en veral afwykend denkendes voorkeur geniet bo die waarheid van sy eie belydenisse van die Bybel self.
Die gevolg is dat daardie andersdenkendes en afwykend denkendes nou deel van die kerk se hoogste rigtinggewende en besluitnemende liggaam vorm. Hy is n huis teen homself verdeel. Deel van die probleem is dat daar binne die Sinode en die kerk diegene is wat meen dat hulle Christene op eie voorwaardes kan wees, dat die Christelike leer by hulle moet aanpas waar die waarheid nie strook met wat hulle wil hê dit moet wees nie.
Dit lê nie op ons weg om veroordelend te wees nie. Ons is wel diep bekommerd. Want hoe lank kan sulke dikwels heteromorfiese en teenstrydige beskouinge met hul gepaardgaande religieuse norme binne dieselfde kerk gehuisves word ?
Die probleem is nie tot die NG Kerk beperk nie, maar is in mindere of meerdere mate in al drie die (sogenaamde) susterskerke aanwesig. Waar daar soveel opsigtelike struikelblokke in die weg van strukturele eenheid bestaan, is die vraag of daar nie besin moet word oor groter eenheid onder diegene in ons susterskerke wat die Bybel onomwonde as die gesaghebbende Woord van God en sy gebooie en voorskrifte as normatief-eties bindend aanvaar nie.
Die vraag is ook of die Sinode in die aangesig van soveel onvermoë om duidelike leiding te gee nie herinner aan wat Christus die apostel Johannes beveel het om aan die leraar van die gemeente van Laodiséa te skryf, naamlik (Openb 3: 15, 19, 20):
Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm !... Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en ek klop.