|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
BETWISBARE SAKE OP DIE AGENDA TYDENS DIE NG SINODE, 14 - 20 OKTOBER 2002
Die verslag oor die gesag van Die Bybel is deur sommige beskou as die belangrikste kwessie op die agenda.Dit gaan oor die vraagstuk onderliggend aan baie van die kerklike en teologiese debatte van die afgelope jaar. Binne die NG Kerk kry 'n mens sienings oor Die Bybel wat wissel van 'n letterlike aanvaarding van die skepping in sewe dae en van Jona se drie dae in die vis se maag tot by 'n verwerping van letterlike vertolkings van Jesus se maagdelike geboorte en sy liggaamlike opstanding uit die dood.
Die kwessie van homoseksualiteit is beskou as 'n toetssaak vir die standpunt wat die sinode oor Die Bybel inneem, aangesien die interpretasie van sekere Bybelgedeeltes 'n sentrale aspek van dié debat is.
'n Voorstel dat die NG Kerk volle lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) opneem. Tans het die NG Kerk waarnemerstatus, maar hy neem volledig deel aan die SARK se bedrywighede.
Die vraag of Christene, Jode en Moslems dieselfde God aanbid. Die aanbeveling aan die sinode sê ja, maar dat Hy slegs in Christus reg geken en gedien kan word.
Die kindernagmaal. Hoewel dit al in 1998 goedgekeur is, is daar beswaar teen dié besluit en sy motiverings.
Vroue in die ampte in die NG Kerk.
KONFERENSIEAFRIKAANSE GEREFORMEERDE KERKE
BLOEMFONTEIN, 11 /12 SEPTEMBER 2002
Op 11 en 12 September 2002 is n ope konferensie gehou in die N.G. Gemeente Hospitaalpark, met die kerkraad van die N.G. Gemeente Hospitaalpark as sameroepende en toesighoudende kerkraad. Die tema van die Konferensie was:Die Bybel en die krisis in die kerk, Verleentheid of Geleentheid.
Die program was soos volg:
Woensdag.
Opening, verwelkoming en reëlings
1. KRISIS IN DIE VERHOUDING TUSSEN GELOOF EN WETENSKAP.
Mnr. Pieter Pelser NGK Stellenbosch. Skrywer van Evolusie en die Bybel kan hulle versoen word?
2. KRISIS IN DIE GODSBEGRIP. Prof. Dolf Brits NGK-UOVS Bloemfontein.
3. KRISIS IN DIE SKRIFBESKOUïNG. Ds. Hennie Momberg - Geref. Kerk Pretoria-Die Kandelaar.
4. KRISIS IN DIE CHRISTOLOGIE. Ds. Eugene Viljoen VGK Bellville.
5. KRISIS IN DIE EREDIENS. Dr. Koos Adendorff NGK Elspark.
6. KRISIS IN DIE SAKRAMENTE. Ds. Theo Danzfuss - NGK Witfield.
7. KRISIS OM DIE BELYDENIS VAN BELHAR. Dr.Andries Hofmann NGKA Bloemfontein.
8. Uittreksels uit n direkte video-opname oor die "nuwe hervorming" Sarel van der Merwe NGK navorser en kameraman bekend vir sy navorsing oor die New Age.
Donderdag.
Opening.
9. KRISIS OOR DIE VRAAG: "WAT IS GEREFORMEERD"? Ds. Jan Mostert - NGK - Philadelphia.
10. KRISIS OOR DIE FUNKSIE VAN ONS BELYDENISSKRIFTE. Dr. Sampie v Vuuren -Emeritus-NGK.
11. KRISIS IN DIE HARTE VAN ONS LIDMATE. Mev. Linda Malan Huisvrou Geref (voorheen NGK) en Emeritus ds. Paul Du Toit -NGK - Somerset-Wes.
12. KRISIS OM N VREEMDE SPIRITUALITEIT. Ds. Dawid Keta NGKA - Bloemfontein.
13. KRISIS OM DIE CHRISTELIKE ETIEK. Ds. Hendrik Hefer NGK - Brakpan-Suid.
14. KRISIS OM DIE ROEPING VAN DIE KERK. Ds. Attie Bezuidenhout -NGK -Hentiesbaai.
15. KRISIS IN DIE MENSBESKOUïNG. Dr. Rob Visser Teol. Fakulteit-VGK Pretoria.
16. KRISIS OM KERKEENHEID EN WAARHEID. Ds. Chris Saayman - NGK - Eendekuil.
17. VERKLARING EN DIE PAD VORENTOE.
AFSLUITING.
Die konferensie is bygewoon deur leraars, kerkraadslede en lidmate vanoor die hele land. Daar was ongeveer 250 individue en afgevaardigdes teenwoordig uit meer as 75 NG Gemeentes, 8 NGKA Gemeentes, 4 Vrye Gereformeerde Kerk Gemeentes asook die Gereformeerde Kerk, die APK en nog ander individue. Baie van die persone wat die vergadering bygewoon het, het dit as afgevaardigdes van hul gemeente of ring bygewoon per geloofsbrief.
By die konferensie is daar 16 onderwerpe hanteer. (Sien vermelde program.) Elke onderwerp is deur n spreker ingelei, waarna die konferensie gangers geleentheid gehad het om aan die gesprek deel te neem. Persone wat aan die bespreking deelgeneem het, het dit in hul persoonlike hoedanigheid gedoen. Daar is besluit dat uitsprake deel van die konferensie sou word, waar die konferensiegangers eenparig so sou besluit. Voorstelle wat gemaak is, is aan die einde van die konferensie hanteer.
n Duidelik beeld van die situasie in die kerk het uit die referate en die deelname aan die bespreking na vore gekom.
Aan die einde van die vergadering is van die volgende voorstelle eenparig goedgekeur:
1. Konferensie
1.1 n Soortgelyke konvent/konferensie moet voortaan op n gereelde basis (moontlik jaarliks) gehou word vir meewerkende gereformeerddenkendes.
1.2 Die konferensie moet genoeg tyd laat vir lidmate om te kan deelneem.
3. Die Skrif en die Wetenskap.
3.1 Die konferensie waarsku teen die oor én onderskatting van die wetenskap, deur na die metode van die wetenskap te verwys. Die wetenskaplike formuleer teorieë, soms spekulasies, om gegewens te orden. Die probleem ontstaan wanneer daardie teorieë tot absolute waarhede verhef word en sodoende tot ideologieë vervorm word, soos in die geval van die evolusieteorie gebeur het.
4. Die ouderling en die plaaslike gemeente
4.1 Die vergadering is dit eens dat met die oog op die herstel van die kerk daar ernstig besin sal moet word oor die herstel van die amp van die ouderling in die kerk asook oor die plek en rol van die plaaslike gemeente.
4.2 Die konferensie doen n beroep op elke lidmaat wat die Woord van God liefhet, om op te tree teen elke afwyking van die leer van Christus.
5. Onderwys
5.1 Die konferensie versoek almal teenwoordig om hulle kerkrade op te roep om behoorlike toesig te hou oor die onderwys wat dooplidmate in skole ontvang en om ouers en onderwysers in te lig en leiding aan hulle te gee oor gevare wat skuil in materiaal wat in die kurrikulum aangebied word.
6. Minagting van die legitimasie-eed.
6.1 Hierdie vergadering lê n klag teen ons kerk omdat dit moontlik geword het om byna enige afwykende teologie te leer sonder enige gevolge omdat die Skopus benadering ruimte laat vir prediking wat lynreg teen die Bybel en die Belydenisskrifte is, en predikers daardeur hul legitimasie-eed verbreek.
7. Opleiding van studente
7.1 In die lig van uitsprake deur sekere professore rondom basiese geloofswaarhede van die Skrif, wat die onfeilbaarheid van die Skrif in gedrang bring, en die feit dat studente van die Ned.Geref. Kerk en andere hulle opleiding by die genoemde professore ontvang, verklaar die konferensie dat die situasie geheel en al onaanvaarbaar is. Daarom rig die konferensie n oproep tot die Algemene Sinode en die betrokke toesighoudende instansies om onverwyld aan hierdie saak aandag te gee.
8. Krisis en geleentheid
8.1 Ons as konferensiegangers is besorg oor die krisis in die Gereformeerde kerke, maar sien dit positief as n Godgegewe geleentheid om weer sinvol ons geloof in die God Drie-enig, sy Woord en ons Formuliere te bely voor die kerk en die wêreld. Ons verbind ons om elkeen in eie gemeente en omgewing dit wat ons by die konferensie van die Heilige Gees ontvang het, te gaan meedeel en te versprei.
8.2 Die konferensie het baie sterk onder die indruk gekom dat die kenmerke van die ware Kerk van Christus, naamlik: Suiwere Woordverkondiging, die suiwere bediening van die Sakramente en die toepassing van die Tug weer sterk onder die aandag van die kerk gebring moet word. Die N.G. Kerk word baie dringend opgeroep om erns te maak met die toepassing van die tug tot eer van God en tot heil van die kerk.
8.3 Die konferensie betuig sy dank teenoor die vele dosente en leraars wat erns maak met die bevordering van die kenmerke van die ware kerk met betrekking tot die Woordverkondiging, sakramentsbediening en die toepassing van die tug tot eer van die Here en tot heil van die kerk.