|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
MEDIESE ETIEKGESONDHEIDSRISIKO EN MEDIESE FONDSE
- DR MC DURAND -
Mediese fondse bied n groter en groter las op die inkomste van huishoudings. Dit wil egter voorkom asof hierdie las nie groter is as die paniek oor mediese onkostes nie. Derhalwe is ons nie verras om te hoor dat mediese fondse steeds verdedig word nie. Die volgende aanmerkings ter verdediging van mediese fondse is algemeen:
Ek moet n mediese fonds hê, want sê nou daar gebeur iets met my, en weet jy wat kos mediese sorg vandag?
Ek moet verantwoordelikheid neem vir die toekoms, dit is onverantwoordelik om nie aan n mediese fonds te behoort nie.
Die Here het my tog n goeie verstand gegee, daarom sal ek voorsorg moet neem, en daarom is dit onverstan-dig om nie aan n mediese fonds te behoort nie.
Hierdie verdediging van mediese fondse behels in sy kern die voorsiening van risiko.
Die voorsiening van risiko is geen neutrale saak nie. Derhalwe sal dit goed wees om die kwessie van risiko nader te beskou.
Die konsep van die risiko behoort tot die woordeskat van dobbel. In die wêreld van dobbel is daar geen skerp skeiding tussen veiligheid en gevaar nie. Vir die dobbelaar bestaan veiligheid en gevaar naas mekaar, trouens, vir hom is veiligheid en gevaar vermeng.
Die vraag is of hierdie dobbelaarswerklikheid, hierdie dobbelhuis n werklikheid buite die skimme van die dobbelaar is. In ander woorde uitgedruk: Bestaan gevaar en veiligheid werklik langs mekaar en gemengd met mekaar?
Indien gevaar en veiligheid werklik vir elke persoon vermeng is, sal die persoon byvoorbeeld ewe maklik gevaar of veiligheid kan oorkom (mits die risiko 50:50 is), of sal die persoon gevaar een keer vir elke nege keer veiligheid kan oorkom (mits die risiko vir die ellende 10 % is). Maar is dit werklik so? Is hierdie werklikheid nie maar beperk tot die versinde wêreld van die dobbelaar nie? Hou hierdie versinning rekening met die werklike, almagtige, alwetende, heersende en alles voorbeskikkende God?
Bied God nie aan elke mens n volledige pakket van of verlossing of vernietiging nie? Want indien God óf n pakket van vernietiging óf n pakket van verlossing bied beteken dit ook die volgende: Dat indien iemand vervloek is, sal hy nooit uitkoms vind nie. Alleen gevaar sal hom oorkom, en nooit sal veiligheid sy deel wees nie. Ongeag waarheen hy vlug of wegkruip, sal hy nie die verdelging van God kan ontvlug nie (Openb 6:15-17). Wanneer hy die een gevaar met sukses ontsnap het, sal daar net n volgende gevaar hom oorval. Wanneer hy meen hy is veilig genoeg om te kan rus, sal die gevaar ook daar hom oorval. Juis die veiligheid nadat hy die leeu ontsnap het bring hom by die beer om hom te verslind. Juis die hoop op rus bring die adder se vergiftiging (Amos 5:19). Selfs al gaan dit mensliker wys goed met die goddelose is dit tot sy verdelging (Ps 92:8; Ps 73). Daar kan geen twyfel wees dat indien God n pakket van vernietiging aanbied daar geen veiligheid is nie - want selfs die veiligheid dien tot groter gevaar. Die pakket van gevaar is volledig - want selfs die veiligheid het gevaarlik geword. Geen mediese fonds kan voorspoed bring by hierdie persoon nie. Sodanig is die pakket van gevaar dat selfs nie eens gesondheid voorspoed kan bring nie.
So is die pakket van verlossing aan die verbondskinders ook volledig. Die verlossing bied veiligheid in alle opsigte. So volledig is die pakket van veiligheid dat ook by die siekte die gelowe verseker is dat dit tot sy verbetering inwerk. Siekte bied by die gelowige ryke beloftes. Deur die siekte (soos met enige ander ellende, insluitend die kostes van medisyne) bied God geen gevaar aan sy kinders nie. Nee, Hy bied aan sy kinders deur die siekte die krag tot bekering. Die gelowige is veilig by siekte. So oortreffend is die veiligheid wat God aan sy uitverkorenes skenk, dat selfs gesondheid by die gelowige veilig is. Die genesing van n siekbed en die rus na n siekte-angs is nie die inleiding tot volgende ellendes nie. So veilig is gesondheid by die gelowige dat hy selfs daarvan in dankbaarheid kan geniet. Hierdie genieting sal ook sigbaar aan ander mense wees. Die gelowige maak sy genietig van veilige gesondheid sigbaar in sy gehoorsaamheid aan die wet van God - want daarom en daarvoor leef hy: Die gelowige sal sy vreugde sigbaar maak deur om ses dae te arbei en al sy werk te doen, en slegs op die sewende dag te rus. Die gelowige sal sy vreugde hoorbaar maak deur die Psalms op sy lippe te neem.
Aangesien God nie die wêreld deur risikos regeer nie, kan risikos geen werklike wêreld bied nie.
Daarom sal die gelowige nie kan praat van die risiko van siekte nie - asof dit n werklike rede sou wees om aan n mediese fonds te behoort nie. Daarom sal die gelowige nie meen dat hy werklik verantwoordelikheid dra vir die statistieke van siektevoorkoms in die samelewing nie. Daarom sal die gelowige weet dat sy verstand te skraal is om die verborge raad van God oor gesondheid en siekte te verstaan. Al wat vir die gelowige moontlik is, waarvoor hy verantwoording moet doen en wat hy kan verstaan is dat siekte en gesondheid uit die hand van die Here kom. Maar dan kom dit nie as risiko's nie, maar as volledige pakkette hetsy van vergelding of van verlossing - hetsy as algehele gevaar of as algehele veiligheid. Nooit gemeng nie. Die gelowige hoef nie die skim wêreld van die dobbelaar te deel nie. Die gelowige sal ook nie gefop word deur te dink dat hy beheer het oor sy lot of dit kan ontduik deur n mediese fonds nie.
Ons sal nie meer kan sê: Sê nou daar gebeur iets met my nie.