|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
OPVOEDING EN ONDERWYSPUK en UNW kan een, 'uniek' word
Alet Rademeyer berig in BEELD, Donderdag 3 Oktober 2002, oor 'n gesamentlike verklaring van die Potchefstroomse Universiteit en die Universiteit van Noordwes betreffende 'n voorlegging aan die minister van onderwys, mnr Kader Asmal, vir samesmelting van dié twee instellings as volg:"Dit sal tot 'n nuwe en unieke hoëronderwysinstelling lei wat 'n fyn balans handhaaf tussen vereiste eenheid en noodsaaklike diversiteit".
Volgens dié berig het afgevaardigdes van albei universiteite in Pretoria hul voorstelle aan Asmal oorhandig. Luidens 'n verklaring is die voorlegging "konstruktief, innoverend en uniek in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse hoër onderwys".
"'n Nuwe hoëronderwysinstelling sal gevorm word volgens die riglyne van die nasionale plan vir hoër onder-wys, met grondwetlik verskanste waardes.
"Die nuwe instelling sal 'n omvattende, multi-kampusinstelling wees", aldus die verklaring.
Die instelling en sy tussentydse raad sal teen 30 Junie 2003 geskep wees. Die tussentydse raad sal bestaan uit lede van elke raad. Hulle sal tot twee jaar in die oorgangstyd dien.
In dié tyd sal die tussentydse raad saamwerk met die bestaande rade, senate, besture en ander strukture om beleidsraamwerke vir die nuwe instelling te vestig. Die huidige rade sal voortgaan om te fokus op bestuurskwessies.
Volgens die berig sal die universiteite voor die einde van die volgende maand 'n gesamentlike oorsigkomitee van rade skep. Die twee besture sal ook 'n gesamentlike operasionele komitee vorm om onder meer voorbereidings te tref vir die daarstel van die tussentydse raad.
Die verklaring vermeld ten slotte, dat die oorsigkomitee nog voor die einde van die jaar 'n tydelike begroting vir die proses aan die ministerie sal voorlê.
Dit is sonder meer duidelik dat die Christelike etos van die Potchefstroomse Universiteit onder hierdie om-standighede in die gedrang is en prysgegee sal moet word. Op 'n geïntegreerde, gesamentlike kampus kan dit onmoontlik meer tot sy reg kom nie.
Voorspruitend kan gevra word of studente uit Gereformeerde huisgesinne blootgestel kan word aan die nuwe sekularisme wat ongetwyfeld aan intergeloofsbenadering en gelykheid van godsdienste onderwerp gaan word. Die uniekheid van die PU vir CHO met sy aanvanklik Bybels-Christelik gedrewe waardes is al geruime tyd in die weegskaal teenoor politieke en stoflike belange. Hierdie samevoeging met die UNW is die uiteinde van die pad waarop dit wat herinner aan sy trotse verlede, finaal vernietig word.
Studente in talle vakrigtings kan elders 'n heenkome vind. Daar is reeds 'n vrye akademie vir Christelike volkseie Onderwys opgerig wat streef na uitbreiding.
Dit is meer as duidelik dat die teologiese skool van die Gereformeerde Kerke geen deel van die voorgestelde geïntegreerde instelling kan wees nie. Die Gereformeerde godsdiens kan onder dié omstandighede nie as uniek en verbindend dien en as reël van die geloof voorskriftelik onderrig word nie. Dit maak die pad oop vir reformasie van die teologiese skool, wat onafhanklik van die liberale gees wat lankal in die PU vir CHO aanwesig was, as 'n inrigting vry van die staat, weer voluit 'n skool uit en vir die verband van die GKSA sal kan wees.