|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
SKRIFOORDENKING
KRAGVOLLE GETUIES
Handelinge 1:8a
- DS W DE VOS (EMERITUS PRETORIA -
OORGENEEM UIT: DIE KERKBLAD, 13 MAART 1996
Daar word in ons tyd baie gepraat en geskryf oor die doodsheid van die kerk. Van alle kante af word oplossings aangebied en planne beraam.Feit van die saak is dat dinge nie maar kan bly soos wat dit is nie. Wat sê ons opgestane Here en Vors van die Lewe?"... Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees ..."
As die apostels hulle besig hou met vrae wat hulle nie aangaan nie, dan sê Hy vir hulle (en deur hulle aan die hele Christelike kerk) waar die lewe in sy kerk vandaan kom en waarmee hulle dan wél besig moet wees. Hulle (en ons) moet Geesvervulde, kragvolle getuies van die lewende Jesus Christus wees.
Ligkrag en plofkrag
Die woordjie krag in ons teksvers kom van dieselfde Griekse woord as waarvandaan ons woorde "dinamiet" en "dinamo" kom - albei spreek tog van krag. 'n Dinamo verskaf ligkrag en dinamiet besit plofkrag.
Beide hierdie soorte krag het ons kerk en lidmate van Christus ontvang toe die Heilige Gees by ons intrek geneem het. Die Heilige Gees bring ons in verbinding en kontak met die Bron van alle krag, Jesus Christus. Hy het immers gesê: "Aan My is gegee alle mag in hemel en op aarde".
Juis omdat ons aan Hom verbind is wat alle mag het, kan ons krag openbaar. Enersyds is dit die ligkrag van die evangelie wat ons moet openbaar: "julle is die lig van die wêreld ... laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien ...". Dit is immers die evangeliewoord wat al die duisternisse op ons lewenspad verjaag. Versprei ons die lig? Waar is die lig wat toon dat ons deur die Heilige Gees verbind is aan die Bron van alle lig, aan Hom wat gesê het: "Ek is die lig van die wêreld"?
Verberg u u lig onder 'n maatemmer of plaas u dit op 'n staander? Bedroef u die Heilige Gees of word die Vader verheerlik deur die lig wat u laat skyn?
Om vervul te wees met Heilige Gees bring egter nie net ligkrag nie, maar ook plofkrag!
Sommige mense dink immers dat 'n Christen net so mak en sag soos 'n lammetjie moet wees; net altyd liefde en vrede verkondig; net uitroep: "Genade! Genade!" Maar weet u: die krag van die Heilige Gees in ons verdra nie verhardheid nie, het nie vrede met die sonde en ongeregtigheid nie, neem nie verlief met koudheid en louheid nie, versoen hom nie met eiewilligheid nie. Nee! Die krag van die Heilige Gees is ook soos dinamiet - dit ruk uitmekaar, dit slaan plat, dit verbrand en verwoes alles wat teen Gods wil ingaan. Dit veroordeel alle sonde en ongeregtigheid en dit kom met geweld neer op alle koudheid en louheid. En as die sonde en ongeregtigheid so uitgeroei is en word, dan kom daar die daadkragtige lewe tot openbaring, dan brand die geloofsvlam hoog en helder en dan gebeur daar dinge.
Is hierdie plofkrag van die Gees ook in u lewe sigbaar? Die plofkrag wat die kwaad uitdryf en sondebande breek en boeie van die dood losruk?
Die onmoontlike word moontlik
Wie optree in hierdie krag van die Heilige Gees, kan doen wat tevore onmoontlik was. Nee, nie om wonderwerke te doen, siekes gesond te maak, blindes te laat sien, dooies op te wek, in tale te praat nie. Dit is nie in die eerste plek en voor alles kenmerke van 'n lewende kerk nie. Wat dan? Christus sê: "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ..."
Dít is 'n wonderwerk! Ons tonge kom los!
Maar is dit nou so onmoontlik om van Christus te getuig dat jy eers spesiale krag, hemelse krag, die krag van die Heilige Gees hiervoor moet ontvang? Ja, dit is, want die woord "getuie" in ons teks moet ons nie ligtelik opneem nie. Dit beteken letterlik "martelaar". As getuie van Christus moet jy dus letterlik bereid wees om, as dit moet, jou lewe vir Hom te gee voor 'n vuurpeleton of 'n brandstapel.
Sien u kans daarvoor? Besef u nou waarom die gelowiges en die kerk die ontsaglike hemelse krag van die Heilige Gees deelagtig moet wees?
Niemand van ons is bereid om sommer so vir iemand anders te sterf nie, wat nog te sê as dit die marteldood moet wees! Maar as die Gees in ons harte woon, dan is ons bereid om onder alle omstandighede die evangelie van Christus te verkondig en juis dit sal ons dikwels in botsing bring met die vyande van die kruis. Dit mag selfs daarop uitloop dat jy beskimp en gesmaad, verag en gehaat word - My het hulle gehaat, hulle sal julle ook haat, het Christus gesê. Die dienskneg is immers nie meer as sy heer nie. Dit kan ook daarop uitloop dat jy liggaamlike geweld aangedoen word en selfs moet sterf vir die belydenis dat Christus jou Saligmaker is.
Mens kan dit nie in eie krag doen nie. Alleen as die krag van die Heilige Gees in jou is, sal jy nie beswyk nie. As die Gees in ons harte woon, dan lewe ons waarlik. Dan word die onmoontlike moontlik. Bereidwilligheid om die evangelie van Christus te verkondig is 'n wonderwerk!
Wat sal ek en u doen as die tye van besoeking kom? As ons letterlik martelaars vir Christus moet wees? Sal u bly getuig? Of nee, die vraag is eintlik: "Is u nou besig om die evangelie van Christus uit te dra?" Dit is 'n feit dat wanneer dit te goed gaan, geloofsgroei verminder. Die teendeel is ook waar: "Die bloed van die martelare is die saad van die kerk". Sou dit nie dalk nodig wees dat die Here in hierdie land die kerk 'n keer in verdrukking moet bring sodat die ware lewe weer sigbaar sal word nie?
Lewe in die kerk sal nie deur allerlei lapwerk van buite kom (vroliker wysies, korter preke, sensasie, ensovoorts nie, maar deur gehoorsaam aan Christus - die suiwere evangelie onder alle omstandighede te verkondig (in die kerk deur prediking, huisbesoek en katkisasie, maar ook daarbuite deur sending en evangelisasie) - die evangelie is immers 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo!
Wees dan ware getuies van Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees! Dan sal daar lewe in die kerk wees! Blye, jubelende, God-verheerlikende lewe!