|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
REDAKSIONEEL
Dit is al weer die laaste uitgawe van hierdie jaar en tewens die voltooiing van die sesde jaaargang. Die volgende uitgawe verskyn DV in Januarie 2003 as nommer een van die sewende jaargang.Die Here het ons in die afgelope jare bygestaan en gelei. Daar is baie stof tot dankbaarheid. Aan die ander kant is daar toenemende kommer oor die verloop van sake op die tereine van die staat en samelewing wat nie aan die kerke verbygaan nie en 'n sekulêre invloed bevorder. Die onderwys word deur die staat gedwing in 'n rigting dat verbondsonderrig, soos die Bybel ons voorskryf, bykans onmoontlik word. 'n Valse ideologie van menseregte is die grondslag van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika, waar die samelewing aan onderwerp word.
Die afgelope jare het ons deur middel van ons blad gedurig en sonder vrees gemotiveer en geprofeteer teen die stelselmatige aftakeling van die Skrifgesag wat al hoe blatanter in die Afrikaanse kerke, met nog steeds 'n formele binding aan die Gereformeerde belydenisskrifte, weerklink. Dit is onrusbarend dat daar geen leertug op die talle professore en predikante wat openlik kettery verkondig en in die kerklike en sekulêre pers bekendstel, toegepas word nie. As gevolg daarvan raak ons al hoe meer gewikkel in 'n dispuut oor die waarheid van God se Woord waaroor volgens menslike standaarde en rasionele argumente besluit word. Hierdie tendens sal in die jaar wat voorlê voortduur en op kerklike vlakke 'n toenemende rol vervul.
Die getroue verkondiging van God se Woord en die kragtige verwerping van alles wat daarmee strydig is, is die enigste wat ons te doen staan om die ongetwyfelde Christelike geloof te bewaar en in die kerk, staat en maatskappy uit te lewe. Laat ons só die nuwe jaar tegemoet gaan in die gees en krag en met die wapenrusting wat die Here, ons God, aan ons skenk.