Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
BESWAARSKRIF VAN DIE KERKRAAD VAN DIE GEREFORMEERDE KERK OOS-MOOT
TEEN DIE BESLUITE VAN SINODE 2003, AANGAANDE RAPPORT VAN
DEPUTATE LEERSTELLIGE SAKE: OOR DIE WOORDE IN DIE APOSTOLICUM
EN IN DIE GELOOFSBELYDENIS VAN ATHANASIUS:
"EN NEERGEDAAL HET NA DIE HEL" EN "NA DIE HEL NEERGEDAAL"
Nasionale Sinode 2003 - Besluite waarteen beswaar gemaak word
1.1 Besluit:
1.1 Besluit:
Besluit: Die volgende aanbevelings is goedgekeur
Aanbevelings
6 Die bogenoemde konsepbewoording in die kerke gebruik word met die oog op toetsing daarvan.
Besluit: Goedgekeur. (Acta 2003:559
2 Gronde vir beswaar
2.1 Besluit in 1.1. Die sinode besluit op n onskriftuurlike en onbelydenismatige wyse waarop hulle uitvoer aan die besluit gaan gee.
3 Motivering van Beswaargronde
3.1 Die sinode wil n kardinaal belangrike belydenis wat al eeue lank staan deur gebruik in die kerke toets. Die vraag ontstaan, wat is dit presies wat die sinode wil toets: Die waarheid van die bewoording? Óf die ontvanklikheid in die gemeente al dan nie? Beide hierdie moontlikhede is volgens die belydenis onhoudbaar (NGB Art 5 en 7). Ons het ooreengekom dat ons waarheid toets aan die WOORD van God, die bely-denisskrifte en die kerkorde.
4 Gevolgtrekkings
4.1 Die sinode ruk aan die fondament van die kerk en dink dat die huis nie inmekaar sal tuimel nie.
5 Aanbevelings
5.1 Dat die bewoording in die apostolicum bly soos dit was.
Die kerkraad se beredenering is in 'n bylaag (A) as volg beskryf: (die klassis het slegs die bogenoemde besluit aanvaar vir deursending na die Part Sinode)
Beredenering (Bylaag A)
1 HEIDELBERGSE KATEGISMUS EN
DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS
Sondag 16 van die HeidelbergsKategismus, vr/antw 44, verduide-lik dié woorde "neergedaal het na die hel" só: "...dat my Here Jesus Christus my deur sy onuitspreeklike angs, smar-te en verskrikking wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe maar veral aan die kruis gely het, van die helse angs en pyn verlos."
Artikel 21 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê, onder meer, die volgende: "Hy het homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan geskrywe dat 'die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagplek gelei en by die mis-dadigers gereken is.' (Jesaja 53:5, 7, 9) Ook: 'Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely' (1 Petrus 3:18); 'Hy het die verskriklike straf wat ons son-des verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val' (Lukas 22:44), en Hy het uitgeroep: 'My God, my God, waarom het U My verlaat?' Mattheus 27:46)."
Hierdie belydenisskrifte verklaar nie onomwonde dat ons Here ná sy dood na die hel is nie.
Sonder meer sou die kerkraad hierby kon volstaan en daarmee instem met die besluite van Sinode 2003. Die kerkraad vind egter dat die vermelde Belydenisartikels met een deel van die openbaring aangaande die versoeningswerk van Christus handel en nie met 'n ander, ewe duidelike openbaring, wat sentraal staan in die kerke se leer oor die ewige oordeel van God, nie.
2. INSTITUSIE VAN CALVYN (1559)
In sy Institusie handel Calvyn meer breedvoerig met Christus se neerdaling na die hel as wat die Sinode 2003 bereid was om erkenning aan te gee.
Dit is naamlik nie net in Institusie 2.16.8 dat Calvyn met die belydenis handel nie, maar ook, ten minste, in 2.16.9, 2.16.10 en 11 en 2.16.12. Daar moet veral gelet word op 2.16.10, waarin Calvyn, met verwysing na Jesaja 53: 5 daarop wys dat ons Here "soos 'n skuldige gestel was om al die strawwe wat van hulle (sondaars) geëis word, te betaal en te vergeld", met die uitsondering daarvan dat die dood Hom nie kon hou nie (Handelinge 2:24). Volgens Calvyn betree ons die onsienlike en onbegryplike werklikheid van die oordeel van God en die lyding van Christus wat nie ten aanskoue van die mense gely is nie, maar voor God alleen.
Hoewel Calvyn in sy Institusie (2.16.9) wel die fabels, wat ook hedendaags voorkom in kerkvreemde geskrifte, soos die Evangelie van Nicodemus (ook bekend as die Handelinge van Pontius Pilatus) en die Evangelie volgens Petrus, wat rondom 1 Petrus 3:19 ontstaan het "ontmitologiseer", soos wat Sinode 2003 aantoon, was dit onwaarskynlik sy doel. Veel eerder was dit sy oogmerk om die leser van die Institusie te leer dat die verband van die Skrifgedeelte uit 1 Petrus ons daarheen lei dat gelowiges wat voor dié tyd gesterwe het, in dieselfde genade as ons deel. In 2.16.10 van die Institusie stel Calvyn die volgende, en dit is na die oordeel van die kerkraad die kern van die vraagstuk oor hierdie belydenis: "... kom ons laat die verklaring van die geloofsbelydenis daar. Ons moet eers na 'n vaster verduideliking van die artikel in verband met Christus se neerdaling na die hel soek. Daarvoor het ons 'n verduideliking in die Woord van God wat nie alleen heilig en godvrugtig is nie maar ook vol voortreflike troos. Dit sou niks gebaat het as Christus slegs 'n liggaamlike dood sou gesterf het nie. Hy moes ook die strengheid van God se wraak ervaar om sy toorn af te wend en aan sy regverdige oordeel te voldoen. Daarom moes Hy ook met die magte van die hel en die verskrikking van die ewige dood hand teen hand worstel." "... die straf vir vrede (was) op hom gelê, ... vanweë ons oortredinge (is Hy) deur sy Vader geslaan en vanweë ons ongeregtighede verbrysel." Calvyn verwys weer eens na Jesaja 53:5: "Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom".
Calvyn wend hom telkens na die Skrif. Ook wanneer hy die redenasie van Hilarius wat sê: "Die kruis, die dood en die hel is vir ons die lewe" en "Die Seun van God is in die hel, maar die mens word na die hemel opgeneem" verduidelik, vermy hy dit om op die uitsprake van mense staat te maak wanneer hy aandui dat die skrywer aan die Hebreërs "dieselfde sê wanneer hy hierdie vrug van Christus se oorwinning in herinnering roep, naamlik dat mense van hulle vrees vir die dood bevry is, terwyl hulle hulle lewe lank slawe daarvan was." In dié verband steun hy op Hebreërs 2:15, wat binne die konteks van verse 11 tot 15 lui: "Want Hy wat heilig maak sowel as hulle wat geheilig word, is almal Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die gemeente sal Ek U prys; en verder: Hier is Ek en die kinders wat U my gegee het. Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het - dit is die duiwel - en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was." Calvyn gaan voort deur te sê: "Deur met die mag van die duiwel, met die vrees vir die dood en met smarte van die hel handge-meen te raak het dit so gebeur dat Hy hulle oorwin en oor hulle getriomfeer het, sodat ons in die dood nie meer die dinge hoef te vrees wat ons Vors daarin ontbind het nie." (Institusie 2.16.11)
In Institusie 2.16.12 word verder gehandel met die wanhoop en vrees van die mensgeworde Seun van God. Volgens Calvyn is die gebed "Vader, as dit moontlik is, laat die beker by My verbygaan" drie maal herhaal omdat Hy 'n harder en moeiliker stryd met die dood gevoer het as met dié dood waarin ons almal deel. So ook die bonatuurlike bloedsweet wat Hy gestort het uit vrees vir wat vir Hom voorhande was. Bloedsweet wat nie vir die oë van ander mense bedoel was om te aanskou nie - die begin van onuitspreeklike smarte, só groot dat engele uit die hemel aan Hom verskyn het om Hom te versterk.
So 'n vrees hoort nie by 'n verloste, uitverkore kind van God nie, want vir hom is die dood van die graf 'n deurgang na die ewige heerlikheid. So 'n vrees hoort wel by 'n verdoemde en verore mens wat die verskriklike foltering van die tweede dood tegemoet gaan. Dit is hierdie tweede, die ewige dood, wat Hy in ons plek gely het en omdat Hy terselfdertyd God was, vir ons ontbind het.
3. DIE HEL EN DIE TWEEDE DOOD
Ons ken die hel net uit dit wat die Skrif dienaangaande aan ons openbaar, andersins is dit vir ons verborge. Daar is minstens 14 verwysings na die hel in die Nuwe Testament. Telkemale word die hel beskryf as 'n poel van vuur en swael, beeldspraak vir onuitspreeklike en, met ons verstand, onbeskryflike smart en pyniging. Dat daar verband is tussen die hel en die dood wat na die graf lei, blyk duidelik uit openbarings soos dié in Openbaring 20:14: "En die dood en doderyk is gewerp in die poel van vuur. Dit is die tweede dood." Openbaring 20:10: "En die duiwel wat (die nasies) ... verlei het, is in die poel van vuur en swael gewerp ..."
Die kerkraad is van oordeel dat die vertaling van "sheool", "infernum", "hades" en dies meer, nie by die soeke na die waarheid van deurslaggewende of enige belang is nie. Nie een van dié woorde gaan verder as die doderyk, die graf of die dood nie, terwyl dit vir alle gelowiges duidelik is dat Hy ter wille van ons saligheid die ewige dood oorwin het. Tog wil die kerkraad kortliks verwys na die "gehenna" in die verband van die versoening van die groot versoendag waarna in Levitikus 16 verwys word. Nadat Aäron met die sondofferbul vir hom en sy huis voor die HERE versoening gedoen het, moes hy twee bokke laat aanbring, waaroor hy die lot gewerp het., een lot vir die HERE en een vir Asásel. Die bok vir Asásel , dié sondebok moes egter lewendig voor die HERE gebring word om versoening te bewerk. Die hoëpriester moes die lewendige bok, die bok vir Asásel laat kom en hy moes sy twee hande op sy kop lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom na die woestyn toe stuur. So moet dan die bok op homself al hulle ongeregtighede na 'n woeste land wegdra - die bok moet in die woestyn gelos word. Later, toe die tempel in Jerusalem was, is die sondebok saam met die smeulende vuil van die stad op die ashoop, genaamd Gehenna, gelaat om te vergaan.
Volgens die kommentaar van Matthew Henry wys die geslagte bok heen na Christus wat vir ons sondes sterf; die sondebok wat in die woestyn weggestuur is om daar 'n verskriklike dood te sterf teken vir ons die wonder van die verrysenis, vir ons tot regverdigmaking, nie net uit die graf nie, maar ook uit die dood in sy volle betekenis. Die versoening is nie voltooi voordat die sondebok na die woeste wildernis gestuur is nie. Die wegstuur van dié bok verteenwoordig die vrye en volle vergewing van sondes. Hy dra op hom al die ongeregtighede van die volk. Christus oorwin ook hierdie tweede dood, dié van die tweede bok.
Calvyn sê tereg dat dit paslik is dat die onsienlike en onbegryplike oordeel van God by die belydenis gevoeg word, sodat ons kan weet dat nie alleen Christus se liggaam as losprys vir ons oorgelewer is nie, maar dat daar 'n groter en uitnemender prys was, naamlik dat Hy die verskriklike foltering van 'n verdoemde en verlore mens met al die sondes van al die uitverkorenes sedert die skepping, gedra het.
Dit is die kommer van die kerkraad dat ontkenning van, of twyfel oor, die neerdaal van Christus na die hel die kerke na die strik lei van die veelgodedom, waarin die bestaan van die hel en die ewige straf van die sondaar ontken word, en van die inklusivisme, wat die redding en ewige lewe vir gelowiges uit welke religie ook al, leer.
4. LUKAS 23:43, LUKAS 23:46 EN JOHANNES 19:30
Die Sinode verwys na twee tekste uit die Evangelie van Lukas as totaal weersprekend van die gedagte dat ons Here na die hel neergedaal het. Eerstens die woorde van Christus aan die mede gekruisigde in Lukas 23:43: "En Jesus antwoord hom: Voorwaar ek sê vir jou, vandag sal jy met My in die Paradys wees" en tweedens Lukas 23:46: Vader, in u hande gee Ek my gees oor."
Volgens ons geloofsbelydenis "glo en bely (ons) dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is. Hy is God uit die wese van die Vadetr, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore; volkome God, volkome mens met 'n redelike siel en menslike vlees." (Geloofsbelydenis van Athanasius, artikels 30 - 32). So word dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf dat "daar nie twee Seuns van God of twee persone is nie, maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou." En: "Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het was ... 'n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het." (NGB Artikel 19) Die uitsprake van die Here weerspreek nie die neerdaling na die hel nie: die kruiseling was dieselfde dag in die alomteenwoordigheid van die Drieënige God in die boesem van Abraham, en Christus het na sy mensheid, soos Stefanus (Handelinge 7:59), die Here aangeroep om sy gees te ontvang. Die ontsettende hiervan is dat Hy deur sy Vader verlaat was en nogtans ter wille van ons saligheid die smarte van die hel tegemoet moes gaan.
Met Jesus se uitroep: "Dit is volbring!" (Johannes 19:30) is in die Woorddiens in hierdie kerk oor Sondag 16, vr/antw 44, gehandel: "Al het Hy voor sy dood aan die kruis uitgeroep: "Dit is volbring!', moes daarna die dood volg, die neerdaal in die doderyk, moes die oordeel van God met die ewige straf voltrek word - 'n lyk kon dit immers nie uitroep nie! Christus wat sy gees aan God oorgee, kón met die dood voor die deur uitroep: 'Dit is volbring!'
5. GEVOLGTREKKING
In die lig van die voorgaande is die gevolgtrekking van die kerkraad dat die bestaande bewoording van die Apostolicum, naamlik "... neergedaal na die hel" en die gelykluidende woorde in die belydenis van Athanasius, nie verbeter sal word deur enige van die besluite van Sinode 2003 nie.
Enige verwarring oor die woord "neergedaal het na die hel", wat ook in die leerboek van die Heidelbergse Kategismus voorkom, is 'n bejammerenswaardige aanklag teen predikante en professore wat die orde van die kerk, wat vir byna vierhonderd jaar in ons kerke bestaan, so gering ag dat die kerkvolk nie minstens een maal per jaar 'n skrifgefundeerde verklaring daarvan hoor nie.