Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die vaste punt van ons bestaan

AKTUEEL: Sportverdwasing .... selfs-verafgoding 

SKRIFOORDENKING:
Die misdaad van Agan (Jos 7..)

Beswaarskrif van die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Oos-Moot

Christus se borgtogtelike lyding

In die begin was die Woord ...

Dr JAE (KOOS) Adendorff se pad : - Buitengesluit uit die NG Kerk te Elsburg -

KERKLIKE JOERNAAL: 
Algehele wantroue oor waarheidskarakter van Handelinge Sinode 2003

Klassis Pretoria Moot : Beskrywingspunte insake die verwerping van sekere sinodebesluite

Die Gereformeerde Kerk Witrivier : Besluit teen toelating van vroue in diakenamp asook teen gebruik van 2001 (CLOETE) omdigtings

Gereformeerde Kerk Pretoria-Wapadrant skakel oor na kleingroepbediening (KGB)

Belhar-belydenis deur NG Sinode aanvaar

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Godsdienstige indoktrinasie duer middel van skoolgodsdiens

BCVO persverklaring 24 September 2003

Hoeksteen vir Eg Suid-Afrikaanse universiteit gelê .... ten koste van die PU vir CHO !

Seksvoorligting op skole

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Postmodernistiese skrifuitleg -'n Doodloopstraat

PERSRUBRIEK:  Afrikaanse Radio-Advertensie gebruik die Bybel vir karikatuur van "Apartheid"

Intergeloof bevorder deur Lutherhaan en ander sogenaamde "Christene"

Geloofsbelydenis of ongeloofbelydenis?

Behoedende Kerklike berigte vanuit Nederland

"Vrijmaking" in Bergschenhoek (Nederland)

Pompeji "U raak die berge aan en hulle rook" (Ps 104:32)

QUO VADIS?

KOMMENTAAR: Appartheid 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van Outonomie

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 6 November 2003

DR JAE (KOOS) ADENDORFF SE PAD:
-  BUITENGESLUIT UIT DIE NG KERK TE ELSBURG  -

> Ek stel dit duidelik: Ek het nie bedank nie - die kerkraad het besluit om die band met my los te maak. Die rede word in die ooreenkoms met my só gestel: "Die kerkraad is van mening dat Dr JAE Adendorff weens sy standpuntverskille [skriftelik aan die kerkraad gerig] ... hom wesenlik distansieer van sommige besluite van die Algemene Sinode."<

Hieronder volg die verantwoording van dr Koos Adendorff waarin hy beskryf hoe hy die pad geloop het wat uiteindelik gelei het tot "die beëindiging van sy dienste" in die NG Kerk, deur die kerkraad van sy gemeente te Elsburg. Hy het hom daarna gevoeg by die AP Kerk waar hy, ná eksaminering, 'n beroep ontvang het na die gemeente te Germiston, wat hy aanvaar het en waar hy nou sy ampsdiens vervul.

"Wat gaan aan in Elspark?"

Hierdie vraag is die afgelope tyd dikwels gehoor. Daar was gerugte van verdeeldheid tussen die twee predikante asook tussen kerkraadslede. Die twee dominees het selfs spesiale verlof ontvang en moes ‘n "finale antwoord" aan die kerkraad gee op 30 Junie 2003. Maar wat was die vraag waarop hulle moes antwoord? Later het die gemeente gehoor dr. Adendorff het verskille met die sinode en hy sal dalk moet weggaan. Alles het maar redelik verwarrend geklink. Geen wonder dat baie lidmate steeds in die duister is oor wat nou eintlik in die gemeente aan die gang is nie.

Met hierdie skrywe wil ek van my kant die saak aan u stel. Ek doen dit op hierdie manier aangesien ek sedert 9 Junie 2003 nie die geleentheid gehad het om dit op ‘n ander wyse te doen nie.

Oor die jare het ek toenemend ongelukkig geraak oor besluite wat op vergaderings van die Algemene Sinodes van die NG Kerk geneem is. Om in besonderhede op elke saak in te gaan, sou ‘n dik boek tot gevolg hê – en dan lees u dit dalk nie! Daarom wil ek so kort, maar tog ook so duidelik as moontlik my posisie vir u verduidelik. Om dit te doen, wil ek in die geskiedenis teruggaan tot die begin van my bediening in die NG Kerk, naamlik in 1978.

Hierdie vraag is die afgelope tyd dikwels gehoor. Daar was gerugte van verdeeldheid tussen die twee predikante asook tussen kerkraadslede. Die twee dominees het selfs spesiale verlof ontvang en moes ‘n "finale antwoord" aan die kerkraad gee op 30 Junie 2003. Maar wat was die vraag waarop hulle moes antwoord? Later het die gemeente gehoor dr. Adendorff het verskille met die sinode en hy sal dalk moet weggaan. Alles het maar redelik verwarrend geklink. Geen wonder dat baie lidmate steeds in die duister is oor wat nou eintlik in die gemeente aan die gang is nie.

Met hierdie skrywe wil ek van my kant die saak aan u stel. Ek doen dit op hierdie manier aangesien ek sedert 9 Junie 2003 nie die geleentheid gehad het om dit op ‘n ander wyse te doen nie.

Oor die jare het ek toenemend ongelukkig geraak oor besluite wat op vergaderings van die Algemene Sinodes van die NG Kerk geneem is. Om in besonderhede op elke saak in te gaan, sou ‘n dik boek tot gevolg hê – en dan lees u dit dalk nie! Daarom wil ek so kort, maar tog ook so duidelik as moontlik my posisie vir u verduidelik. Om dit te doen, wil ek in die geskiedenis teruggaan tot die begin van my bediening in die NG Kerk, naamlik in 1978.

1. Ek maak ‘n belofte

In November 1978 het ek as pas afgestudeerde student aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria my legitimasieverklaring afgelê. Dit is die verklaring wat elke voornemende predikant in die NG Kerk moet aflê as hy tot die bediening toegelaat wil word. In dié verklaring staan onder andere: "Ek, die ondergetekende, … verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Enigheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, deur die Sinode van Dordrecht in die jare 1618/19 aangeneem – ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om voorgenoemde leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen dié leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. En net soos ek die leer ter goeder trou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalinge wat teen hierdie leer stry, en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen dit uit die Kerk te weer. Ek beloof om my op die uitbreiding van die ryk van die Verlosser deur die bevordering van die godsdienskennis, Christelike sedes, orde en eendrag met alle ywer toe te lê, en om my aan die verordeninge van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te hou."

Ek wil drie opmerkings ten opsigte van hierdie legitimasie-verklaring maak:

> Die Bybel is die fondament van die kerk en ek het met bogenoemde eed duidelik verklaar dat ek my onderwerp aan die Bybel as die hoogste gesag in my lewe.

> Die Belydenisskrifte is die belydenisgrondslag van die kerk en ek het ook verklaar dat ek hulle onderskryf omdat hulle met die Woord van God ooreenkom. Die leer daarin vervat sal ek ywerig verkondig en dwaalleer ywerig bestry.

> Die Kerkorde is die ooreenkoms wat gemeentes van die NG Kerkverband met mekaar aangegaan het oor hoe hulle die orde in die kerk sal handhaaf. Dit word ook die gemeenakkoord tussen gemeentes genoem. Ek het beloof om my aan die verordeninge van die NG Kerk te hou, tensy dit met die Skrif en belydenisskrifte in stryd is.

2. Die NG Kerk verander sy standpunte

Tot en met 1978 het die NG Kerk ander standpunte gehandhaaf met betrekking tot dié sake waaroor die verskilpunte in ons gemeente nou gaan. In die tagtigerjare het die kerk egter na bewering "nuwe lig" oor die Bybel gekry, en is baie beginselstandpunte in die lig van die "nuwe" Skrifbeskouing gewysig. Dit het veral sedert die Algemene Sinode van 1986 momentum gekry. Daarna het elke nuwe Algemene Sinode (asook streeksinodes) besluite verander en nuwe standpunte gestel – soveel so dat ‘n ouderling van ons gemeente by geleentheid gesê het dit lyk vir hom of die sinode nou elke vier jaar die Bybel anders verstaan!

2.1 Algemene Sinode 1986

Die Algemene Sinode van 1986 het besluite t.o.v. apartheid geneem wat skokgolwe deur die land gestuur het en uiteindelik gelei het tot die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk. Tot op daardie stadium is die kerk se standpunt oor ras, volk en volkereverhoudings in ‘n beleidstuk, Ras, volk en nasie in die Lig van die Skrif, uitgedruk. Daarin het onder andere gestaan: "Uit die feit dat die bestaan van ‘n volkereverskeidenheid as relatiewe maar tog werklike en nie-sondige gegewenheid aanvaar word, kan afgelei word dat die Nuwe Testament ruimte laat vir die moontlikheid dat ‘n bepaalde land in die lig van sy besondere omstandighede, met inagneming van die grondliggende etiese norme wat die Skrif vir die reëling van sosiale verhoudinge neerlê, en na sorgvuldige oorweging van al die moontlike oplossings wat aangebied word, kan besluit om sy volkereverhoudinge te reël langs die weg van afsonderlike ontwikkeling." Met ander woorde, het die Sinode gesê, afsonderlike ontwikkeling (ook apartheid genoem) wat reg toegepas word is nie in stryd met die Bybel nie.

In 1986 (hersien in 1990) reik die Algemene Sinode egter ‘n nuwe beleidstuk uit (getitel Kerk en Samelewing) waarin bogenoemde siening as verkeerd verklaar word en bely hulle hulle aandeel aan die sonde van apartheid.

Alle beswaarskrifte teen Kerk en Samelewing is afgewys. Op die vergadering van die Sinode van Suid-Transvaal in 2001 moes al die sinodegangers selfs ‘n skuldbelydenis oor apartheid saam hardop lees!

2.2 Algemene Sinode 1990

In 1990 het die Algemene Sinode weer ‘n ingrypende besluit geneem deur vrouens tot die leer- en regeeramp (d.w.s. as predikante en ouderlinge) toe te laat. Dit was weer eens presies die teenoorgestelde besluit as dié van ‘n vroeëre sinode. In 1974 het die Algemene Sinode nog gesê: "Die Sinode erken volgens die lig tot sy beskikking dat die Skrif duidelik leer dat vroue uitgesluit is van die amp van lerende en regerende ouderling – 1 Kor. 14:33b-37; 1 Tim. 2:11-15."

Die nuwe verstaan van die Skrif het blykbaar ook ten opsigte van hierdie saak "nuwe lig" gebring. Nou word die uitsprake van Paulus in 1 Kor 14 en 1 Tim 2 as tyd- en kultuurgebonde gesien. Dit het dus net vir die gemeentes in Paulus se tyd gegeld. Vandag is vroue se posisie in die samelewing anders: Hulle is bevryde vroue wat selfs bestuursposisies in organisasies beklee. Daarom het die Algemene Sinode in 1990 soos volg besluit: "Aangesien die Algemene Sinode by die lig wat hy het, oordeel dat die Heilige Skrif prinsipieel nie die toelating van die vrou tot die ampte van predikant en ouderling verbied nie, besluit die sinode om die vrou tot hierdie ampte toe te laat" (Agenda 1990:131). In 2002 het die Algemene Sinode selfs ‘n skuldbelydenis in hierdie verband teenoor die vrou gedoen: "Die Algemene Sinode bevestig onvoorwaardelik dat diskriminasie teen die vrou sonde was en is; bely sy eie aandeel, bewustelik of onbewustelik, aan optredes wat onbillik en kwetsend teenoor vroue in die kerk kon wees …. Die Algemene Sinode verklaar die bevoordeling van een geslag bo ‘n ander as teen die wil van God" (Agenda 2002:400).

Met hierdie besluite het die NG Kerk ongehoorsaam geword aan die duidelike voorskrifte van die Here oor hoe Hy sy kerk wil regeer!

Mense kan dalk vra: Wat het Adendorff teen vrouens? Ek wil dit duidelik stel: Ek het geen aksie teen vrouens nie. Ek dink vrouens moet baie meer tot hul reg kom in die gemeentelike lewe, maar dan, ooreenkomstig die riglyne van die Bybel, volgens hulle eie aard. In hierdie verband moet gedeeltes soos Hand. 9:36-41; 1 Tim. 2:9-10, 5:9-10, ensovoorts, weer goed deurdink word. Dit is egter duidelik uit die Bybel aan te toon dat dit die Here se wil is dat die man (en nie die vrou nie) in die amp van predikant en ouderling moet dien. Wie dít wil weerspreek, weerspreek nie ‘n mens nie, maar God!

2.3 Algemene Sinode 1998

In 1998 het die Algemene Sinode besluit dat gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Kor. 11 voldoen en ‘n begeerte het om nagmaal te gebruik, toegelaat kan word tot die nagmaalstafel. Dit is ‘n besluit wat ingrypende gevolge het vir die sakramentsbeskouing én kategetiese arbeid van die NG Kerk. Tot op daardie stadium was die toelatingsweg tot die nagmaalstafel nog kategese en belydenisaflegging. Ons sou kon sê nagmaalsviering was die doel van kategese. Belydenisaflegging is ook in die nouste verband met die nagmaalsviering gesien. Nou het die nagmaalsviering deel van die kategese geword en belydenisaflegging ‘n handeling los van die nagmaal. Een van die baie vrae wat hierdeur ontstaan is of belydenisaflegging nie op hierdie manier nog ‘n sakrament word nie?

Wat nog meer ontstellend is, is dat daar voor die Sinode van 2002 ‘n voorstel van die Algemene Kommissie van Leer en Aktuele Sake (AKLAS) gedien het wat soos volg gelui het: "Aangesien ons kinders deur die doop opgeneem is in Gods genadeverbond en derhalwe deel is van die kerk as liggaam van Christus, bestaan daar geen rede om hulle te weerhou van die nagmaal nie, en kan hulle daarom met vreugde uitgenooi word na die nagmaal" (Agenda 2002:258). Daarmee het AKLAS dus voorgestel dat alle gedoopte kinders, sonder enige voorbehoud, nagmaal kan gebruik. Dié voorstel is met ‘n klein meerderheid afgewys en die Sinode het besluit om by sy besluit van 1998 te bly. Daarmee is al die beswaarskrifte téén die kindernagmaal ook afgewys. Die kanse is egter goed dat ‘n volgende Sinode wel AKLAS se voorstel gaan goedkeur. Trouens, prof. Flip Theron, wat AKLAS se saak gestel het, het dit vol bravade voorspel!

Met bogenoemde besluite oor die sogenaamde kindernagmaal het die NG Kerk duidelik die gereformeerde pad verlaat. Die gereformeerde kerke deur die eeue heen het nog altyd gesê wie nagmaal wil gebruik, moet eers in die waarhede van die Christelike geloof onderrig word en openlik hulle geloof bely. ‘n Klein kindjie kan nie aan die vereistes van 1 Kor. 11:28-31 voldoen nie. Die groot hervormer Johannes Calvyn het in dié verband gesê: "Wil ons iets duideliker hê as wat die apostel leer wanneer hy ons vermaan dat elkeen homself moet ondersoek en beproef, en dat hy dan van die brood moet eet en uit die beker moet drink? Die ondersoek behoort dus daaraan vooraf te gaan, en dit is iets wat tevergeefs van kinders verwag word. Net so: ‘Wie op onwaardige wyse eet, eet en drink tot sy veroordeling omdat hy nie die liggaam van die Here onderskei nie.’ As slegs diegene wat weet hoe om die heiligheid van die liggaam van Christus na behore te onderskei, in staat is om op waardige wyse daarvan te eet, waarom sou ons dan vir ons teer kindertjies gif aanbied as lewendmakende voedsel?" (Institusie soos vertaal deur HW Simpson, Boek 4, pp 1666-1667). Dis ernstige woorde wat ons ter harte moet neem!

2.4 Sinode van Suid-Transvaal 2001

Die Sinode van Suid-Transvaal het verklaar dat hy hom kan vereenslewig met die inhoud van die Belydenis van Belhar (BB). Op ‘n stadium het die sinode selfs besluit om BB as belydenisskrif te aanvaar. Hierdie besluit is daarna in ‘n stemming met geslote stembriefies omgekeer toe die sinode met ‘n klein minderheid besluit het om BB nie as belydenisskrif te aanvaar nie. (Myns insiens was die sinode inkonsekwent: As daar nie fout is met BB se inhoud nie, kan dit mos maar as belydenisskrif aanvaar word.) My probleem lê juis by die standpunt dat BB se inhoud aanvaarbaar is. In ander studiestukke oor BB  is aangetoon dat BB se Skrifhantering bedenklik is en dat dit gevaarlike ooreenkomste met die bevrydingsteologie het. Selfs die Breë Moderatuur van die NG Kerk het in 1986 verwys na ‘n onaanvaarbare horisontalistiese eksegese eie aan die teologie van bevryding in BB. Die Godsbegrip soos dit in BB na vore kom, is myns insiens ook onder verdenking. Ek kan my nie met Belhar vereenselwig nie en kan dit ook nooit as bely-denisskrif aanvaar nie.

2.5 Algemene Sinode 2002

Die Algemene Sinode 2002 het ‘n verslag oor die Skrifgesag aanvaar waarin ‘n duidelike afwyking van die gereformeerde Skrifbeskouing te vind is. Tot in 1978 het die Algemene Sinode geen verslag of studiestuk opgestel om die gesag van die Skrif te verduidelik nie. Die Sinode het kragtens sy Kerkorde instemming betuig met die Skrifbeskouing soos verwoord in die NGB, artt. 2-7. Daarin word onder andere bely: "Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig.

Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind."

In 2002 kan die Algemene Sinode dít blykbaar nie meer ongekwalifiseerd sê nie. In ‘n verslag oor die gesag van die Skrif word nou gesê dat die Bybel "klaarblyklik … geen aanspraak maak op historiese eksaktheid nie." Sekere voorbeelde van historiese foute in die Bybel word genoem en dan bygevoeg dat hierdie voorbeelde "eindeloos vermeerder (kan) word." Ek het nie vrede daarmee dat die Bybel op dié wyse aan die menslike rede onderwerp en vol foute bevind word nie. Ons moet ons menslike rede aan God se Woord onderwerp. Wanneer ek moeilike gedeeltes in die Skrif teenkom (en hulle is daar), gaan soek ek nie die fout by die Bybel nie, maar by my verstaan van die Bybel. Ek gaan in hierdie proses uit van die standpunt dat ons nie alle kennis in pag het nie en daarom versigtig moet wees met ons kritiek op die Bybel.

Dis verder duidelik dat daar ‘n klemverskuiwing in hierdie verslag is. Die gereformeerde kerke het nog altyd gesê dat mense wel die Bybel geskrywe het, maar dat dit die Heilige Gees was wat hulle geïnspireer en gedrywe het (vgl. 2 Tim. 3:16 en 2 Pet. 1:21). Hy was die eintlike Outeur. Nou sê die verslag: "Weliswaar deur die Heilige Gees gedry-we, was dit tog mense wat gespreek het." En dan lê die verslag verder groot klem op die menslike karakter van die Skrif. Dit word m.i. só oorbeklemtoon dat dit God as eintlike Outeur op die agtergrond dring.

Ek kan nie hierdie verslag "as riglyn vir ons beskouing oor die gesag van die Skrif en vir ons lees en verstaan van die Skrif" (Agenda Algemene Sinode 2002:209; Notule:548) aanvaar nie. Wil die Sinode nou op ‘n pouslike manier vir ons voorskryf hoe ons die Bybel moet lees en verstaan? En dit in stryd met ons belydenisskrifte? Ek kan nie onder die dwingelandy van hierdie Skrifbeskouing leef nie. Ek vra: Herroep dit!

Tydens die Algemene Sinode van 2002 is ook allerlei gebruike in die erediens goedgekeur wat vroeër taboe was. Die probleem is dat daar saam met hierdie rituele ook vreemde, onbybelse standpunte die kerk binnekom. Ek lys enkeles vir u.

Nagmaal

> ‘n Sogenaamde wydingsnagmaal is goedgekeur waar elke lidmaat op sy/haar eie tyd (en sonder amptelike Woordverkondiging) nagmaal kan gebruik.

> ‘n Kindervriendelike nagmaalsformulier is goedgekeur waar-in die selfondersoekende voorbereidingsdeel uitgelaat is.

Roomsagtige rituele: Daar is ‘n duidelike toename in Roomsagtige rituele te bespeur:

> Die gebruik van kerse, byvoorbeeld tydens doopgeleenthede.

> Die maak van ‘n kruis op die dopeling se voorkop. Die doop as teken word dus nou met baie ander tekens omring.

> Die dra van verkillende kleure stola’s deur predikante. (Die toga is afgeskaf en nou moet die dominees stola’s dra! HAT se verklaring van ‘n stola is interessant: "Strook van sy of ander materiaal deur ‘n priester of sekere ander geestelikes in sommige kerke gedurende die kerkdiens oor die skouer gedra.")

> Die Vrouediens het tydens hulle verslag ‘n sogenaamde vredeskers aangesteek.

> Die Algemene Sinode het verdaag met ‘n kersritueel.

Charismatiese elemente

> Liggaamsbeweging tydens sang is goedgekeur.

Etiese sake

Benewens bogenoemde besluite wat reeds geneem is, is daar ook ander sake wat op die horison verskyn het en wat, as dit besluite van die Algemene Sinode word, groot ongelukkigheid gaan veroorsaak. Weer eens noem ek net enkeles:

> In 1986 het die Algemene Sinode besluit dat homo-seksualiteit in die lig van die Skrif ‘n afwykende vorm van seksualiteit is en dat homoseksuele praktyke en ‘n homo-seksuele verhouding afgewys moet word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar (Handelinge 1986:672). In 2002 besluit die Sinode dat hy hom nie langer met die standpunt van 1986 kan vereenselwig nie. Daar moet nou weer ‘n studie oor homoseksualiteit gedoen word. Dit kan dus gebeur dat die Algemene Sinode op sy volgende vergadering homoseksualiteit gaan aanvaar as ‘n wettige alternatiewe seksuele oriëntasie.

> Die aanvaarding van bepaalde vorms van saamwonery as alternatiewe op die huwelik.

Soos u self kan sien, het die Algemene Sinodes telkens presies teenoorgestelde besluite geneem as dié van voor 1986. Hulle beredenerings kon my (en duisende ander lidmate) nie oortuig dat die nuwe besluite in lyn met die Skrif en belydenisskrifte is nie. Verder: Op geen een van hierdie Algemene Sinodes was ons gemeente direk verteenwoordig nie. Ek self was ook op geen een ‘n afgevaardigde wat protes kon aanteken nie. Beswaarskrifte (ook van my eie) teen bogenoemde besluite is telkens afgewys. Nou is my vraag: Wie het die gemeenakkoord wat daar in 1978 (die datum van my legitimasieverklaring) tussen gemeentes bestaan het, verbreek – ek, of die Algemene Sinode? Wie se standpunte het sedert 1978 verander: Myne, of die Algemene Sinode s’n? Wie het ‘n nuwe pad begin loop – ek, of die Algemene Sinode? ‘n Verdere vraag: Wat staan my nóg te doen as ek nie met hierdie besluite kan saamstem nie?

3. ‘n Kerkraadsbesluit veroorsaak probleme

By meer as een geleentheid het ek skriftelik met die kerkraad oor my probleme met die besluite van die Algemene Sinode gekommunikeer. Benewens ‘n beswaarskrif destyds in 1986, het ek ook in die afgelope tyd twee briewe aan die kerkraad gerig (gedateer 20 November 2001 en 21 Mei 2002). My gedagte was dat ons as kerkraad oor al die besluite moet gesels, goed na mekaar moet luister en die verskille in die kerkraad daaroor moet bestuur. Dít het wel kort na 1986 gebeur. Toe het die kerkraad indringend oor Kerk en Samelewing gesels en uiteindelik besluit om van mekaar te verskil. Dit is ook so aan die Algemene Sinodale Kommissie gerapporteer. Na die besluit oor kindernagmaal in 1998 het bespreking óók plaasgevind. Toe het ‘n ad hoc kommissie die saak indringend bespreek en besluit om dit nie in te stel nie, maar ‘n finale beslissing van die Algemene Sinode in 2002 daaroor af te wag.

Op ‘n spesiale kerkraadsvergadering in Augustus 2002 het die kerkraad besluit om die hele saak van verdeeldheid oor sinodale besluite (nie net t.o.v. die kindernagmaal nie, maar óók die ander sake hierbo gemeld) na die ringskommissie te verwys. Die ringskommissie het dit op hulle beurt na die Sinode van Suid-Transvaal se fasiliteringskommissie verwys.

Op ‘n vergadering tussen die fasiliteringskommissie en die kerkraad se bestuurskommissie is ongelukkig toe net op die saak van die kindernagmaal gefokus. Die fasiliteringskommissie het aanbeveel dat die kerkraad ‘n definitiewe besluit daaroor moet neem. Op 24 Februarie 2003 het die kerkraad toe met een meerderheidstem téén die implementering van kindernagmaal besluit. Ds. Brand wou toe weet hoe dié besluit nou sy posisie raak, aangesien hy sterk ten gunste van implementering is. Die kerkraad het toe weer die saak na die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk verwys.

Op 17 April 2003 antwoord die aktuarius van die Algemene Sinode die kerkraad en beveel aan dat die kerkraad ‘n kompromie tref deur by een nagmaalsgeleentheid kinders toe te laat, maar by die ander geleenthede dit net aan belydende lidmate te bedien. Hy voeg egter by: "Hierdie besluit van die Algemene Sinode is anders as ander van die besluite van die Sinode daarin dat kerkrade diskresie verkry het in die toepassing daarvan. Van ander besluite van die Sinode geld dit dat hulle bindend is en dat enige besware daarteen by wyse van ‘n appél betwis moet word. Kerkrade het dus nie oor alle besluite van die Algemene Sinode ‘n diskresie of hulle dit wil toepas of nie."

Hierdie antwoord van die aktuarius is op ‘n kerkraadsvergadering gehou 26 Mei 2003 gehanteer. Die kerkraad het besluit om hulle vorige besluit téén kindernagmaal te handhaaf. Ds. Brand het toe ‘n bykomende voorstel gemaak, nl. dat die kerkraad bogenoemde punt in die aktuarius se skrywe goedkeur. Dit het beteken dat die kerkraad besluit het om hom neer te lê by al die ander besluite van die Algemene Sinode. Daarmee het die kerkraad bespreking van die ander besluite afgesny. Die ruimte om van sinodale besluite te verskil en tog in die gemeente voort te gaan, is daardeur vir my (en ander kerkraadslede wat ook besware het) weggeneem.

In die lig van voorafgaande moes ek toe my posisie in die NG Kerk heroorweeg. Op 9 Junie 2003 het ek ‘n verklaring aan die kerkraad voorgehou waarin ek dit duidelik gestel het dat ek in die lig van hierdie omstandighede nie anders kan as om tot ‘n staat van doleansie oor te gaan nie. Ek het dit so verduidelik: "Die woord doleansie kom van die latynse woord doleo wat letterlik beteken om pyn te ervaar. In geestelike sin beteken dit om te treur of te kla. Hierdie woord het in die Nederlandse kerkgeskiedenis ‘n belangrike rol gespeel. Die toestand in die Nederlandse Hervormde Kerk het byvoorbeeld in 1886 daartoe gelei dat ‘n groot aantal gemeentes tot doleansie oorgegaan het. Hulle wou nie uit die kerkverband tree en ‘n nuwe kerk vorm nie. Hulle wou juis binne die kerk beswaar maak teen die verval en pogings aanwend om die kerk te hervorm. Uiteindelik het gebeure egter daartoe gelei dat ‘n nuwe kerkverband, die Gereformeerde Kerk in Nederland, tot stand gekom het.

Na aanleiding van hierdie voorbeelde in die kerkgeskiedenis en in die lig van die omstandighede hierbo geskets, wil ek verklaar dat ek tot ‘n staat van doleansie oorgaan. Ek treur oor die feit dat besluite geneem is wat in stryd met Skrif en belydenis is. Ek verklaar dat ek op grond van o.a. Hand. 4:19-20 en Gal. 1:6-10 God meer gehoorsaam moet wees as mense en dat ek dus hierdie besluite nie kan uitvoer nie. Maar ek kla ook by God oor my onbenydenswaardige situasie en vra Hom of Hy nie aan my reg wil laat geskied nie."

Die kerkraad onder voorsitterskap van ds. Christo du Plessis het toe besluit om altwee ons leraars spesiale verlof toe te staan om die saak te deurdink en op 30 Junie 2003 ‘n antwoord te gee op die vraag of ons ons neerlê by bg. besluit van die kerkraad. Ek het dit verstaan dat die kerkraad van my verwag om óf my neer te lê by die sinodebesluite óf te bedank. In dié verband is dan ook twee konsepantwoorde aan my voorgelê:

> "Ek ….. verklaar … dat ek my neerlê by die besluite van die kerkraad asook die besluite van die Algemene Sinode. Binne hierdie ruimte onderneem ek om die volle omvang van my bedieningspligte na te kom."

óf

> "Ek ….. verklaar … dat ek nie my weg oopsien om my neer te lê by die besluite van die kerkraad asook die besluite van die Algemene Sinode nie. Derhalwe versoek ek dat u my bedanking as leraar van die NG Kerk Elspark sal aanvaar."

Ek het egter my eie antwoord geformuleer waarin ek dit duidelik gestel het: "Ek kan nie anders nie: Ek staan by my verklaring. Ek treur oor die feit dat die Algemene Sinode met sy besluite die gemeenakkoord verbreek het. Onderwerping aan en uitvoering van hierdie besluite sal vir my op gewetensdwang neerkom." Ek het ook gesê dat ek van oordeel is dat die kerkraad net een van twee keuses het: Doleer saam met my (dit wil sê: maak saam met my beswaar) of beëindig my dienste as predikant van die gemeente.

Op sy vergadering van 30 Junie 2003 het die kerkraad besluit om nie saam met my te doleer nie, maar eerder my dienste te beëindig. Oor die hoe daarvan is verdere vergaderings gehou en op sy vergadering van 21 Julie 2003 het die kerkraad dan amptelik besluit om my vanaf 31 Julie 2003 los te maak van my verpligtinge teenoor die kerkraad.

Ek stel dit duidelik: Ek het nie bedank nie – die kerkraad het besluit om die band met my los te maak! Die rede word in die ooreenkoms met my só gestel: "Die kerkraad is van mening dat Dr. JAE Adendorff weens sy standpuntverskille [skriftelik aan die kerkraad gerig] … hom wesenlik distansieer van sommige besluite van die Algemene Sinode."

4. ‘n Treurige toestand

Dit was vir my nie ‘n maklike pad om te stap nie. Trouens, ek dink dit was vir niemand maklik nie. Ek kon egter nie anders nie. Ek kan nie die nek onder bogenoemde onskriftuurlike besluite buig nie. Ek treur steeds oor die NG Kerk, die enigste kerk wat ek tot nog toe geken het en waarin ek meer as 23 jaar al as predikant dien.

Ek treur daaroor:

> dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in die laaste jare op grond van sogenaamde. "nuwe Skriflig" ‘n eie pad begin loop het wat daarop dui dat sy in leer en lewe toenemend haar gereformeerde belydenisgrondslag verlaat het en haar van haar gereformeerde erfenis en baie van haar gereformeerde geloofsgenote vervreem het;

> dat die Ned. Geref. Kerkverband op haar sinodale vergaderings besluite geneem het wat nie die toets van die Skrif en belydenis kan deurstaan nie en boonop gehoorsaamheid aan hierdie besluite verwag, wel wetende dat dit vir baie ampsdraers en lidmate ‘n binding van hulle gewete sal meebring;

> dat talle lidmate so min kennis van en insig in die Skrif en die gereformeerde belydenisse het dat hulle nie die dwaling kan onderskei en bestry nie. Daardeur word die weg geopen dat hulle self deur die dwaling meegevoer kan word.

Ek vertrou dat ek met hierdie skrywe groter helderheid gebring het oor die sake waaroor dit regtig in ons gemeente en kerk gaan. Daarmee wil ek u ... egter ook op u eie verantwoordelik-heid in dié verband wys. Dié verantwoordelikheid word duidelik deur die Here in 1 Joh 4:1 uitgespel:

"Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan."