Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die vaste punt van ons bestaan

AKTUEEL: Sportverdwasing .... selfs-verafgoding 

SKRIFOORDENKING:
Die misdaad van Agan (Jos 7..)

Beswaarskrif van die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Oos-Moot

Christus se borgtogtelike lyding

In die begin was die Woord ...

Dr JAE (KOOS) Adendorff se pad : - Buitengesluit uit die NG Kerk te Elsburg -

KERKLIKE JOERNAAL: 
Algehele wantroue oor waarheidskarakter van Handelinge Sinode 2003

Klassis Pretoria Moot : Beskrywingspunte insake die verwerping van sekere sinodebesluite

Die Gereformeerde Kerk Witrivier : Besluit teen toelating van vroue in diakenamp asook teen gebruik van 2001 (CLOETE) omdigtings

Gereformeerde Kerk Pretoria-Wapadrant skakel oor na kleingroepbediening (KGB)

Belhar-belydenis deur NG Sinode aanvaar

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Godsdienstige indoktrinasie duer middel van skoolgodsdiens

BCVO persverklaring 24 September 2003

Hoeksteen vir Eg Suid-Afrikaanse universiteit gelê .... ten koste van die PU vir CHO !

Seksvoorligting op skole

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Postmodernistiese skrifuitleg -'n Doodloopstraat

PERSRUBRIEK:  Afrikaanse Radio-Advertensie gebruik die Bybel vir karikatuur van "Apartheid"

Intergeloof bevorder deur Lutherhaan en ander sogenaamde "Christene"

Geloofsbelydenis of ongeloofbelydenis?

Behoedende Kerklike berigte vanuit Nederland

"Vrijmaking" in Bergschenhoek (Nederland)

Pompeji "U raak die berge aan en hulle rook" (Ps 104:32)

QUO VADIS?

KOMMENTAAR: Appartheid 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van Outonomie

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 6 November 2003

Hoofartikel

DIE VASTE PUNT VAN ONS BESTAAN

Is daar 'n vaste punt vir ons bestaan waaraan alles getoets en gemeet kan word? Is daar iets wat onveranderlik is en vasstaan waarop gebou en wat vertrou kan word? Toe Archimedes, 'n Griekse wis- en natuurkundige (278 - 212 v C), die werking en krag van 'n hefboom uitgevind het, het hy 'n geskiedkundige uitspraak gelewer: Gee my 'n plek om te staan dan sal ek die aarde beweeg. Wat is die vaste plek, die punt van óns bestaan? Dit is die waarheid en die bestaan van God. Die God WAT IS WAT HY IS (Ex 3 : 14). In die Evangelie van Johannes, hoofstuk 18 : 37, lees ons van die konfrontasie van goewerneur Pilatus met Jesus Christus, die Seun van God. Pilatus vra vir Jesus: " Is U dan tog 'n koning?" Daarop volg die beslissende antwoord van ons Heer en Koning: "Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem." Pilatus sluit dié gesprek af met die vraag: "Wat is waarheid?" Is dít waarvoor Christus in die wêreld gekom het om te getuig vir die waarheid van God, die vaste punt wat hemel en aarde tegelykertyd op hul plek hou én beweeg?

Wat behels "die waarheid" waarvoor Christus in die wêreld gekom het om vir te getuig? Dié waarheid is die woorde van God soos Christus dit in Johannes 8 vir die Jode wat in Hom geglo het gesê het: "As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak ... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees (verse 31, 32 en 36). Die waarheid van God staan in die perspektief van die menslike geloofservaring van vryheid. Die waarheid waarvan Christus hier praat staan teenoor die leuen, en vryheid staan teenoor slawerny en verknegting. "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n dienskneg van die sonde is" (vers 34).

Jesus voer 'n dispuut met die mense rondom Hom wat Hom nie wil ken nie. "Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan" (verse 43 en 44). Daar is 'n teëstelling of antitese in ons bestaan. 1) God is Waarheid. 2) Die Waarheid maak vry. Antitese: 1) Die duiwel of satan, die teëstander van God, is die vader van die leuen en 2) 'n mensemoordenaar wat die mense verlei en verkneg tot sonde. Daarenteen die woorde van Christus: "As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie" (vers 52). "Ek is die weg en die waarheid en die lewe", sê Christus in Johannes 14 : 6.

Nog ander teëstellings is daar wat hier genoem kan word: naamlik goed teenoor kwaad, lig teenoor duisternis en geregtigheid teeenoor ongeregtigheid. Paulus skryf daaroor: "...Watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?" (2 Kor 6 : 14). Daar is talle meer wat toegevoeg kan word. Ons volstaan met hierdie.

Dit is belangrik om vas te staan by die waarheid van God se bestaan en by sy Woord. "Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid" (Ps 119 : 160). Christus het vir sy kinders op aarde gebid tot die Vader in die hemel: "Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid" (Joh 17 : 17). En Paulus verwys na die huis van God as "die gemeente van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid" (1 Tim 3 : 15).

Dit beklemtoon die erns wat aan die dag gelê moet word om God se Woord suiwer te bewaar en uit te lewe. Dit is waarom dit verkeerd gaan in ons bestaan op aarde, vanaf die paradystyd al. Die satan het die mens benader en die vrede met God versteur. Die vader van die leuen het vir Eva tot sonde verlei en sy het Adam in haar val meegesleur. Nou is daar spanning, bedreiging en stryd in ons daaglikse bestaan. Dit betref die persoonlike, die maatskaplike, die staatkundige en kerklike omstandighede waarvan die smartlike gevolge op talle wyses ondervind word. Die psalmdigter, Dawid, kla : "As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?" (Psalm 11:3) Vandag ervaar ons dit in alle erns dat daar geen vertroue in die wêreldlike en kerklike owerhede (met uitsonderings aangaande laasgenoemde op plaaslike vlakke) meer is nie. Die fondamente van die waarheid struikel selfs in die Christelike kerk(e) wat geag word om "pilaar en grondslag van die waarheid" te wees.

Die probleem is nie primêr die radikale verwerping van God en sy Woord nie, maar die betwyfeling daarvan. Dit begin met te luister na ander vertolkings van die Bybel. Dit betref, onder andere, die aanbieding van parafraserende vertalings waarin die menslike verstand 'n rol speel in die teks wat aanvaar is en voortspruitend voorgehou en geëksegetiseer word. Die vaste fondament van die waarheid wankel as gevolg daarvan. Ontdekkend bevestig die psalmomdigting 2001 (TT Cloete) dit. Dit is maar 'n gedeelte daarvan. Nuwe Bybelkommentare (interpretasies) het die lig gesien wat al hoe verder van die onbetwyfelbare vaste punt van ons bestaan verwyderd raak. Mens raak gewoond daaraan en om daarmee saam te lewe. Dit word nie graag beveg of verwerp nie. Sinodebesluite word op krag van meerderheidsbeslissing sonder persoonlike nadenke aanvaar. Regeringsbesluite word op krag van uit verband gerukte tekswoorde in Romeine 13: dat elke mens hom aan die magte wat oor hom gestel is moet onderwerp, alte maklik kritiekloos aanvaar. Dis die kompromis tussen die onvervalste waarheid van God en sy Woord en afwykings daarvan. Hierdie kompromis lei weer tot verdere verval sodat ten slotte beland word in omstandighede dat daar glad geen vaste punt in die bestaan meer is nie. 'n Mens wil liewer nie stry oor alles nie. Dan maar eerder saamloop met die meerderheid. Die meeste stemme, die meerderheid sal tog nie verkeerd wees nie? Maar die Woord van die Here vermaan ons om nie die meerderheid te volg in verkeerde dinge nie en in 'n regsaak geen getuienis af te lê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie (Ex 23:2).

In hoeverre staan ons nog vas by die punt van ons bestaan, die vaste grond van die Christelike geloof, die credo van die waarheid van die Bybel en die bestaan van God soos Elia dit as 'n tweespalt teeenoor Agab en die Baälsdienaars en leuenprofete opgewerp het: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? "As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!" (1 Kon 18:21) !?

Die groot euwel van ons huidige bestaan is die alom aanvaarde eis van verdraagsaamheid. Verdraagsaam teenoor anderes se sienings, verdraagsaam teenoor anderes se geloofsoortuiging, verdraagsaam teenoor wêreldlike en kerklike besluite waarmee jy eintlik nie saamstem nie. Jy moet tolerant (verdraagsaam) wees, so lui die publieke opinie. Ondertussen is die "tolerantes" onverdraagsaam teen hulle wat op grond van hulle geloof vasstaan by onbetwyfelbare waarhede, vasstaan by die suiwere bewaring van God se Woord en wat daarin geopenbaar is, vasstaan by die belydenisse van die kerk en die aanvaarde kerkordelike besluite.

Die vaste grond van ons bestaan is vasgelê in God se Woord. Daarin is Ou-Testamenties die koms van die Messias voorspel en die weg voorberei waardeur Hy geken kan word. Nuwe Testamenties het Christus, as die lewende Woord, onder ons kom woon (Joh 1). Petrus het Hom geken en bely: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."

Op hierdie rots, op hierdie geloof het Christus sy kerk en gemeentes gebou. Dit is die onverganklike vaste punt van ons bestaan wat die doderyk nie sal oorweldig nie. Ten opsigte hiervan mag daar geen verdraagsaamheid teenoor ander opvattings wees nie. Daarom staan ons vas by die geloofsbelydenisse wat as die sistematiese samevatting van God se Woord aanvaar is. Daarom staan ons ook vas by die Kerkorde wat op die Skrif gebaseer is. Daarom staan ons vas by "die ganse heilige Skrif wat al die kanonieke boeke van die OU en NUWE TESTAMENT bevat oorgesit uit die oorspronklike tale." So staan dit op die dekblad voor in die 1933/53 Bybel.

Ons het 'n vaste punt waarop ons kan bou en waarby ons kan vasstaan. Dit geld op alle terreine van die lewe. Luister hoe die Gees die kerk van alle tye vermaan en bemoedig: "As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is" (Op 22:18,19).

Durf ons vas te staan by die waarheid, wat deur die Heilige Gees geïnspireer en in die Bybel aan ons geopenbaar is? Of durf ons dit waag om die Bybelse norme, die vaste punt van ons bestaan, te ondermyn met die aanvaarding en toepassing van besluite wat nie die toets van die skriftuurlike waarheid kan deurstaan nie?