Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die vaste punt van ons bestaan

AKTUEEL: Sportverdwasing .... selfs-verafgoding 

SKRIFOORDENKING:
Die misdaad van Agan (Jos 7..)

Beswaarskrif van die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Oos-Moot

Christus se borgtogtelike lyding

In die begin was die Woord ...

Dr JAE (KOOS) Adendorff se pad : - Buitengesluit uit die NG Kerk te Elsburg -

KERKLIKE JOERNAAL: 
Algehele wantroue oor waarheidskarakter van Handelinge Sinode 2003

Klassis Pretoria Moot : Beskrywingspunte insake die verwerping van sekere sinodebesluite

Die Gereformeerde Kerk Witrivier : Besluit teen toelating van vroue in diakenamp asook teen gebruik van 2001 (CLOETE) omdigtings

Gereformeerde Kerk Pretoria-Wapadrant skakel oor na kleingroepbediening (KGB)

Belhar-belydenis deur NG Sinode aanvaar

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Godsdienstige indoktrinasie duer middel van skoolgodsdiens

BCVO persverklaring 24 September 2003

Hoeksteen vir Eg Suid-Afrikaanse universiteit gelê .... ten koste van die PU vir CHO !

Seksvoorligting op skole

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Postmodernistiese skrifuitleg -'n Doodloopstraat

PERSRUBRIEK:  Afrikaanse Radio-Advertensie gebruik die Bybel vir karikatuur van "Apartheid"

Intergeloof bevorder deur Lutherhaan en ander sogenaamde "Christene"

Geloofsbelydenis of ongeloofbelydenis?

Behoedende Kerklike berigte vanuit Nederland

"Vrijmaking" in Bergschenhoek (Nederland)

Pompeji "U raak die berge aan en hulle rook" (Ps 104:32)

QUO VADIS?

KOMMENTAAR: Appartheid 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van Outonomie

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 6 November 2003

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

POSTMODERNISTIESE SKRIFUITLEG  -'N DOODLOOPSTRAAT
-
- REDAKSIONELE ARTIKEL IN: DIE KERKBLAD, 24 MAART 1999, BL 15, 16, 24  -

Teologie en tydsgees. Deur die eeue was die twee maar altyd verstrengel. En gewoonlik was dit die teologie wat groot moeite gehad het om hom van die knelgreep van die tydsgees te probeer ontstrengel. Want sodra die teologie die slaaf van die tydsgees is, praat dit mense na in plaas van God. Dit geld veral vir die Skrifuitleg. Skrifuitleg is immers die deel van die teologie waarin gevra word na wat God sê. En as die Skrifuitleg die tydsgees begin naloop, is dit kort voor lank nie meer die woord van God nie maar die woord van die mens.

Teologie en tydsgees in die verlede

Sedert die sewentiende eeu was die Skrifverklaring grootliks die prooi van die tydsgees van die rasionalisme (oordrewe klem op die mens se verstand). Die gevolg was dat die mens sy verstand as regter aangestel het oor wat woord van God kan wees en wat nie. Dele van die Bybel is bloot as ongeloofwaardig verwerp.

Dit was ook die tyd van die historisme (oordrewe klem op die geskiedenis), wat bygedra het tot die histories-kritiese en godsdiens-historiese benaderings in die teologie van die negentiende eeu. In hierdie benaderings is die Bybel as 'n gewone geskiedenisboek bestudeer, 'n boek wat maar net die godsdiensgeskiedenis van Israel en die vroeë Christendom beskryf. Dat dit die woord van God is, was by hierdie groep teoloë nie meer 'n oorweging nie. Hieruit is ook 'n tydsgees gebore wat in die twintigste eeu bekend staan as die modernisme.

Saam met die modernisme het ook die positivisme opgang begin maak. Dit was die idee dat die werklikheid objektief (dit wil sê buite die mens) bestaan en daarom ook objektief deur die mens waargeneem kan word. Hieruit is die idee van neutrale wetenskap gebore, waarteen die vaders by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelik Hoër Onderwys in die eerste helfte van hierdie (die vorige) eeu 'n hewige stryd gevoer het.

Teenoor die positivisme het ons vaders met hulle Calvinistiese oortuigings standpunt ingeneem: Dit is onmoontlik vir 'n mens om die werklikheid neutraal (objektief) te benader. Elkeen sien die werklikheid subjektief, vanuit sy eie oortuigingsraamwerk. Wat ons betref, ons beoefen die wetenskap vanuit ons Christelike geloofsoortuigings. So hoort dit ook, want die werklikheid is immers nie neutraal nie. Dit is God se skepping, sy werklikheid. God en sy werklikheid bestaan wel objektief (buite die mens), maar niemand kan dit objektief of neutraal bestudeer nie.

Ook in die gereformeerde Skrifuitleg geld hierdie uitgangspunt. Teenoor die positivisme staan ons daarop dat 'n mens ook die Bybel nie neutraal kan bestudeer nie. Ons lees en bestudeer die Bybel vanuit die geloofsoortuiging dat dit die woord van God is. In die Bybel, glo ons, openbaar God alles wat Hy aan ons wil bekend maak met gesag. Sonder hierdie geloofsoortuiging ontspoor alle uitleg van die Bybel, soos wat gebeur met die Historiese Kritiek. Want dan maak jy jou Skrifuitleg, dalk onbewustelik, diensbaar aan die tydsgees.

'n Onverwagte postmoderne bondgenoot

In die laaste paar dekades van die twintigste eeu het die nuwe tydsgees van postmoderniteit oor die wêreld begin waai. Tot ons verbasing het ons in hierdie nuwe tydsgees 'n nuwe bondgenoot gevind, want dit het hom ook teen die positivisme gerig. Dit sê saam met ons dat die waarheid nie objektief waargeneem kan word nie. Elkeen se waarneming word subjektief bepaal deur sy eie oortuigings. Daarin is ons en die postmoderniteit honderd persent eenstemmig. Daarvoor moet ons dankbaar wees.

Maar soos menige verwagte bondgenoot, het ook die postmoderniteit teleurgestel. Want dit gaan uiteindelik - en onvermydelik - verder as wat die Christelike wetenskapsbeskouing van die Calvinisme wil gaan. Dit volstaan nie daarmee dat die mens se waarneming van die werklikheid subjektief is nie. Dit sê dat die werklikheid self subjektief is. Daar bestaan dus geen objektiewe werklikheid of waarheid buite die mens nie.

Uit hierdie laaste beskouing het die postmoderniteit se ekstreme gedaante ontwikkel, wat bekend staan as die postmodernisme. Volgens die postmodernisme is die bestaan van alle dinge subjektief. Dit beteken dat die dinge om ons bestaan net omdat ons dink hulle bestaan. Sommige postmoderniste gaan selfs so ver om te sê dat die werklikheid net in ons gedagtes bestaan en dat ons in ons taal vir ons 'n eie werklikheid skep (vgl H Bertens in: Modern versus Postmodern, 1986, bl 146). Die hele werklikheid is subjektief, mensbepaald - deur die mens self geskep.

Postmodernisme en Skrifuitleg

Die idees van die Postmodernisme is deur die taalkundige Derrida, in die Bybelse hermeneutiek (wetenskap van Skrifuitleg) bekend gestel. Derrida, wat Suid-Afrika in 1999 besoek het, het die gedagte van dekonstruksie in die taalwetenskap ingevoer. In die dekonstruksie kom die volgende postmodernistiese idees na vore:

Die betekenis van 'n teks word nie deur die skrywer bepaal nie maar (subjektief) deur die leser.

'n Teks het nie (objektiewe) betekenis nie, maar die leser ken betekenis aan 'n teks toe.

'n Teks is nie voertuig van die skrywer se idees nie, maar dit skep self idees.

Dekonstruksie probeer dus nie eens om vas te stel wat die skrywer se bedoeling was nie, want dit is nie haalbaar nie en is buitendien irrelevant. Die belangrike saak is dat daar by elke herlees van die teks nuwe betekenis ge-skep word. Toegepas op die verstaan en uitleg van die Bybel, kom dit op die volgende neer (vgl JH Hunter in Neo-testamentica 21(2), 1987, bl 136-137):

Die teks van die Bybel het nie 'n vaste betekenis wat deur die skrywer bedoel is nie, maar telkens wanneer 'n nuwe leser die teks lees, word 'n nuwe betekenis geskep.

Die hermeneutiek is nie op soek na dié betekenis van die Bybel nie (want dit bestaan nie), maar is altyd op soek na 'n nuwe betekenis van die Bybel. Gister se verstaan van die Bybel is vandag nie meer geldig nie.

Daar is dus nie meer sprake van uitleg van 'n objektiewe Bybelboodskap nie. Daar is immers nie 'n objektiewe Bybelboodskap nie. Alles trek saam in 'n subjektiewe interpretasie van die teks, waaruit telkens nuwe betekenisse ontstaan.

Hunter sluit af (bl 137) deur te sê "Deconstruction urges the serious approach to the text itself and its characters who are all part of textuality and not realities outside the text." Die gebeure en persone wat in die Bybel beskryf word, is nie werklikhede wat buite die teks bestaan nie. Hulle is werklikhede wat maar net in die teks vasgevang is en deur die teks geskep word.

Die uiteinde van 'n postmodernistiese Skrifinterpretasie

Dit is duidelik dat die postmodernisme met sy dekonstruksie van die Bybel uiteindelik op destruksie uitloop. Dit vernietig die boodskap van die Bybel. Die boodskap van die Bybel is nie meer God se boodskap wat Hy aan ons geopenbaar het en vir ons laat opteken het nie. Die blye boodskap van Christus word nou die boodskap van mense. Elke leser skep vanuit die Bybel sy eie evangelie, na gelang van hoe hy die Bybel lees.

Sodra die boodskap van die Bybel relatief tot die mens gemaak word, word ook God se waarheid op losse skroewe gestel. Daar is nie meer so-iets soos 'n objektiewe waarheid buite die mens - by God - nie, maar wat waarheid is, wissel van mens tot mens. Die gevolge hiervan is vernietigend:

Wat die dominee Sondag van die preekstoel af sê, is nie meer "So sê die Here" nie, maar "So sê ek", of hoogstens "So dink ek sê die Here" ... en dan ook maar net vandag. Want môre se waarheid gaan weer anders lyk.

Die Christelike sending is taboe. Want hoe durf ek my siening van die waarheid as dié waarheid aan ander mense gaan verkondig? Want daar bestaan nie meer so-iets soos objektiewe waarheid nie.

Die kerklike tug is verkeerd. Hoe kan mense verplig word om hulle aan die gereformeerde leer te bind? Die belydenisskrifte sê maar net hoe mense in die verlede die Bybel verstaan het. Vandag, na verloop van byna vyf eeue, kan hulle verstaan van die Bybel tog nie meer geldig wees nie. Buitendien was dit ook maar hulle subjektiewe verstaan van die Bybel, wat nie as dié waarheid op enige ander persoon "afgedwing" kan word nie.

Die mees ontstellende aspek van die postmodernistiese "Skrifuitleg" is dat dit ontken dat daar buite die teks en taal enige werklikheid bestaan. Die konsekwensies hiervan is dat ook God en godsdiens nie buite taal bestaan nie. Jens Glebe-Moller in Studia Theologica, 1992, bl 31) beweer dat godsdiens niks anders as 'n taal-speletjie is nie. Volgens hom bestaan God net vir mense wat opgelei is in "God-talk". God bestaan maar net in ons gedagtes. Sy bestaan is van kleins af deur ons ouers by ons ingeprent en in die kerk by ons wakker gehou. Maar dit is hoe ver sy bestaan eintlik gaan. Die doodloopstraat waarin die postmodernistiese "Skrifuitleg" beland, is dus die gevolgtrekking dat God nie werklik bestaan nie. Die postmodernisme is dus nie 'n bondgenoot van die Christelike geloof nie maar het sy bitterste vyand geword.

Antwoord op die postmodernisme

God self gee in sy woord kort en kragtig die antwoord op die dwaling van die Postmodernisme, deur die mond van Dawid in Psalm 53: "Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie!" Teenoor hierdie dwaling bely ons, saam met Moses in Psalm 90: "Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God."

Ons is daarvan oortuig dat God buite ons eie gedagtes bestaan. Hy is 'n objektiewe werklikheid (buite onsself) en sy werke, sy skepping en alles daarin, bestaan ook werklik buite onsself. Verder het God ook in sy Woord buite onsself vir ons sy objektiewe waarheid laat opteken. In al hierdie oortuigings stel ons onsself lynreg teenoor die beskouings van die postmodernisme.

Wat ons Skrifuitleg betref, is ons dus nie besig met die waarneming van 'n subjektiewe waarheid nie. Ons is wel besig met 'n subjektiewe waarneming van 'n objektiewe waarheid. Ja, ons weet en erken dat ons eie Skrifuitleg nie objektief kan wees nie. Juis teenoor die positivisme staan ons daarop dat ons geloofsoortuigings 'n onmisbare rol speel in ons verstaan van die Skrif. Ook ons eie sondige gebrokenheid maak dat ons die Bybel dikwels nie reg verstaan nie. Maar deur die werking van die Heilige Gees, wat God in ons subjektiewe harte stuur, lei Hy ons al nader aan die regte verstaan van die objektiewe waarheid wat Hy aan ons bekend maak.

In hierdie lewe sal ons nooit by die finale, regte, onveranderlike waarheid uitkom nie. Ons sien immers nou deur 'n spieël in 'n raaisel, skryf die apostel Paulus, maar eendag sal ons van aangesig tot aangesig sien (1 Kor 13:12). Intussen, terwyl ons ons nog in hierdie sondige bedeling is, lig God in sy Woord vir ons die sluier oor sy waarheid genoeg - nie volledig nie, maar genoeg - sodat ons daaruit "alles wat nodig is vir ons saligheid" kan weet en kan glo (NGB artikel 7).