Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
MEDIESE ETIEKDIE PROBLEEM VAN OUTONOMIE
- DR MC DURAND -
Ons hoor al hoe meer van die outonome mens. Ons hoor dikwels van die individu se reg tot outonomie. Ons word selfs verplig om respek te hê vir ander mense se outonomie. Die mediese praktyk het hierdie gedagte nie kon ontduik nie. Meer en meer dokters word deur hulle pasiënte hiermee gekonfronteer. Maar wat is hier-die outonomie? En waaroor gaan dit?
Outonomie is n verbinding van twee Griekse woorde: naamlik auto wat self beteken en nomos wat wet beteken - letterlik beteken dit selfwet. Maar geen mens kan self wette maak nie. Elke wet of reël wat ons uitdink is maar herhalings en gedagtes wat ons geleer het en van ander gehoor het. Niemand maak sy eie woorde en gedagtes uit niks nie. Ons gedagtes van wette en reëls is maar afleidings en verwerkings van ander se gedagtes.
Meeste verdedigers van outonomie sal toegee dat niemand sy eie wette self kan maak nie. In die plek daarvan word daarom n morele stelling aangebied, naamlik dat elke mens die reg het om daardie wette, wat hy as sy eie reken, te kan handhaaf (maak nie saak hoe en waar hy aan hierdie wette gekom het nie).
Maar self dit bring die verdedigers van outonomie nie uit die moeilikheid nie - veral nie tydens siekte nie. Kan n pasiënt tydens siekte en tydens n gesprek met die arts homself sy (eie) wette/reëls/waardes handhaaf?
Om hierdie vraag te beantwoord kyk ons na drie belangrike aspekte:
1. Kan n pasiënt dieselfde mate van kennis van n siekte hê as n arts?Indien n pasiënt voldoende kennis het om besluite oor sy siekte te kan neem en die voorstelle van die arts te kan evalueer dan sou hy sigself tydens die gesprek met sy arts kon handhaaf.
Die probleem is egter dat die kennis van n siekte nie net die teoretiese kennis behels van dit wat met die bou en die werking van die liggaam fout gaan nie. Dit is ook noodsaaklik dat daar kennis moet wees van die verskillende maniere hoe daardie foute sigbaar en meetbaar word vir waarneming, asook die vermoë om n spesifieke siekte uit te ken tussen talle ander siektes wat vergelykbare en soms presies dieselfde waarneembare veranderings veroorsaak. Die kennis van n siekte behels verder ook die kennis van die verskillende moontlike behandelings wat oorweeg moet word en watter behandeling die beste sal wees vir n spesifieke toestand. Om hierdie kennis te hê behels verder ook die ondervinding wat die arts ten opsigte van pasiënte in die algemeen opgedoen het en sy ondervinding met pasiënte met hierdie siekte in besonder.
Geen pasiënt het hierdie kennis nie. Dit is derhalwe nodig dat die pasiënt sy kennis oor sy siekte en die moontlike behandelinge van sy siekte vir n groot deel van sy arts moet hoor. Dit lei daartoe dat die gesprek n magsongelykheid het ten gunste van die arts. Dit beteken dat die arts tydens die gesprek meer beheer oor die verhouding het as die pasiënt.
2. Kan n pasiënt self weet wanneer hy voldoende insig oor n siekte, die behandelingsmoontlikhede en uitkomsverwagtinge van die behandeling het?Dit is nie genoeg dat n pasiënt inligting oor sy siekte, die behandelingsmoontlikhede en uitkomsverwagtinge van die behandeling ontvang nie. Die pasiënt moet ook hierdie inligting kan verstaan en sinvol kan verwerk.
Die probleem wat nou ontstaan is of n pasiënt self sal kan agterkom of hy die inligting reg verstaan en sinvol verwerk het. Ondervinding toon dat n pasiënt heeltemal n ander storie as wat aan hom vertel is, gehoor het. Daarbenewens is daar n groot aantal pasiënte waar daar min of geen inligting ook verstaan kan word - byvoorbeeld jong kinders, babas, pasiënte wat in koma is of dronk is, of wanneer daar geen tyd is vir lang stories nie - soos by noodgevalle.
Ons kan moontlik antwoord dat dit die arts se plig is om toe te sien dat die pasiënt nie net die regte inligting kry nie, maar dat die arts ook moet toesien dat die pasiënt hierdie inligting reg verstaan en verwerk. Sodoende beland die magsongelykheid net nog meer in die guns van die arts. Die uiteinde hiervan is dat die pasiënt net nog minder in beheer is van die verhouding tussen hom en sy arts.
3. Kan n pasiënt in vryheid sy wilsbesluit tot uiting bring?Indien n pasiënt wel die nodige inligting het, indien hy dit wel kan verstaan en sinvol kan verwerk, dan moet hy nog nie die vryheid hê om sy eie besluite uit te oefen nie.
Wanneer ons die moontlikheid van die uitoefening van besluite deur die pasiënt bekyk, moet ons ook dink aan die konteks waar hierdie uitoefening van besluite moet gebeur. Die pasiënt moet sy besluite uitoefen binne die konteks van die gesprek tussen hom en sy arts. n Gesprek waar daar n oorweldigende magongelykheid in die guns van die arts is. En n gesprek waar daar n magsongelykheid is, is daar uiteraard ook manipulasie. (gespreksmanipulasie kom nie net in die gesprekke tussen arts en pasiënt voor nie, maar kom ook voor in alle pastorale gesprekke, asook in die redevoerings van advokate en die ideologisering van politici).
Gespreksmanipulasie behels die weerhouding van sekere inligting, die skuif van aksente na onderwerpe wat vir die magshebber veral belangrik is, asook die beroep op die emosies van die hoorder.
Duidelik kan daar nie sprake van die handhawing van eie reëls/wette/waardes by die pasiënt wees wanneer dit kom by die gesprek met sy arts nie.
Duidelik is die pasiënt aangewese tot die goedertrou van die arts. Maar artse is nie altyd reg nie, en artse soek nie altyd die beste vir hulle pasiënte nie. Nie alle arts kan uit die Skrif aantoon waarom hy geneeskunde doen nie. Wat staan die pasiënt derhalwe te doen? Outonomie is duidelik nie die antwoord nie.
Die beste verweer wat die gelowige pasiënt kan hê, is om met sy arts oor waardes te praat. Vra die arts of hy n gelo-wige is in die Drieënige God. Vra die arts of hy die Skrif as die enige morele maatstaf gebruik. Vra die arts of hy meen dat ons uit die natuur reg en verkeerd kan aflei en of iemand spontaan die regte ding kan doen. Vra die arts spesifieke vrae oor byvoorbeeld kremasie, intra uteriene apparate, aborsie van gebreklike babas, voorbehoeding, sterilisasie, kosmetiese chirurgie, geslagsveranderinge, hoeveel hy by sy huis is, hoeveel Psalms sy jongste kind al ken, en wat tydens sy laaste klassis- of ringvergadering besluit is. Indien die pasiënt dieselfde waardes as die arts het sal hy minder nodig hê om te hoop dat outonomie en die respek vir outonomie hom uit die moeilikheid sal help.
Die probleem is nie die arts wat die outonomie van sy pasiënt nie respekteer nie. Die probleem is dat pasiënte en artse as reël (met enkele uitsonderings) meen dat geneeskunde sonder waardes is.