Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
OPVOEDING EN ONDERWYSGODSDIENSTIGE INDOKTRINASIE DEUR MIDDEL VAN SKOOLGODSDIENS
Onder die hoof "Géén oop debat oor skole en godsdiens, mnr Asmal" skryf W van Niekerk, Pretoria in Beeld van Maandag 22 September 2003, die volgende insiggewende briefkommentaar.Mnr Kader Asmal, minister van onderwys, beweer in Unieke proses lei tot beleid oor godsdiensonderrig (18 September) dat hy die eerste debat ooit in Suid-Afrika gehou het oor skoolgodsdiens, maar met die publiek is net deur middel van die media onderhandel.
Daar is streng embargo's geplaas op verskeie van die dokumente en die twee wat ons wel in baie laat stadiums ná dringende vertoë te siene gekry het, was vir talle mense onaanvaarbaar. Daar is ernstige vertoë gerig waaraan die minister hom nie gesteur het nie.
Die publiek het gevra dat godsdiens opsioneel en 'n nie-eksaminerende deel van die kurrikulum moet wees. Wat ons gekry het, is verpligte godsdiensonderwys met bepaalde uitkomste wat multi-kultureel van aard is en getoets moet word.
Geen kind sal die godsdienstige indoktrinasie dus kan ontvlug nie.
Ons het gevra dat ons jong kinders, wat nog te min kennis oor hul eie geloof het en nog nie geborge voel binne hul eie geloof nie, nie verwar en ontwrig word met 'n multi-godsdienstige opvoeding nie.
Wat ons gekry het, is 'n beleid waarin hulle reeds vanaf graad 1 verwar en gebreinspoel gaan word.
Ons het gevra dat godsdiensonderrig die demografie van die skool weerspieël.
Niks het hiervan gekom nie, want alle godsdiensonderrig en godsdiensbeoefening wat binne die skoolprogram plaasvind, moet "gelyke voorsiening maak" vir die multi-godsdienstige aard van die samelewing.
Ons het gevra dat beheerliggame die aard en etos van elke skool bepaal en het onderneem dat dat daar teen niemand gediskrimineer sal word nie en dat ons ons kinders sal leer om mekaar se godsdiens te respekteer en mekaar se reg om hulle eie godsdiens te beoefen, te erken.
Ons het die "toegewing" gekry dat beheerliggame oor die aard van die godsdiensbeoefening kan besluit, maar die bepalings daarby kanselleer dié "toegewing" uit.
Ouers en beheerliggame het in werklikheid geen seggenskap nie.