Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
OPVOEDING EN ONDERWYS BCVO PERSVERKLARING 24 SEPTEMBER 2003 - HANNES DU PREEZ - VOORSITTER BCVO -Die BCVO het met weersin kennis geneem van min Kader Asmal se persverklaring van 22 September 2003 na die vergadering van die Council of Education Ministers.
Die BCVO handhaaf hoë standaarde soos onder andere blyk uit ons prestasies van sowel ons 95 % slaagsyfer in matriekuitslae, as die voortgesette sukses van ons studente op tersiêre vlak.
Dit is veelseggend dat terwyl die koste-effektiwiteit van onafhanklike skole internasionaal aanvaar word - soos weer onlangs bevestig in n wêreldbank-verslag - die minister nie sy aandag fokus op die ernstige probleme in die openbare skole nie, maar CVO-skole se voortgesette bestaan bevraagteken en dreig om die bepaalde groep onafhanklike skole se subsidies te beëindig.
Ons is veral verontrus oor die minister se uitlatings en uiters diskriminerende houding waarin BCVO as gereformeerde onderwysbeweging vir Christene vir sy venyn uitgesonder word .
Ons sien dit as voortsetting van min Asmal se vyandige houding ten opsigte van die Christelike geloofsbeoefening en as n bevestiging van die minister se gevestigde reputasie van onverdraagsaamheid teenoor Christene.
Aangesien die BCVO in die persverklaring onder die opskrif van "Human rights violations" gehanteer is, kan ons tot geen ander gevolgtrekking kom nie, as dat ons geloofsgrondslag ons in die minister se verwronge persepsie in die kader van human rights violators plaas. Dit herinner sterk aan sy verklaring op 7 November 2001 toe hy vol aggressie gesê het : "... there are fundamentalists - mostly Christian fundamentalists - who object to tolerance and respect for others in the belief that they alone are custodians of the truth. In this day and age such a view of the world is a historical anachronism ... I intend to resist these right wing conservative tendencies ..."
Die minister dreig dat hy BCVO-skole sal monitor om te verseker dat hulle binne die wet bly. BCVO staan op twee bene te wete geloof en kultuur - en voldoen aan die vereistes van die grondwet en die handves van menseregte. Die BCVO monitor reeds vir geruime tyd die minister se optrede en sal voortgaan om dit te doen om te verseker dat hy binne die perke van sy regte bly, veral gesien in die lig van die oorweldigende persentasie hofsake waarin die onderwysdepartemente klaaglik die onderspit gedelf het.
As die minister voortgaan om teen ons as Christene en op grond van ons gereformeerde geloofsbeginsels en kultuurregte te diskrimineer, sal ons sekerlik toesien dat hy verplig word om hom te onderwerp aan die reg.
Intussen sal ons onverpoosd voortgaan om ons gevestigde reputasie gestand te doen en ons kinders te voorsien van n gereformeerd Christelike kultuureie opvoeding van n bewese hoë akademiese standaard.