Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
OPVOEDING EN ONDERWYSSEKSVOORLIGTING OP SKOLE
- Prof Pieter H Stoker namens die Deputate van die GKSA vir Christelike Onderwys - (selektief verkort)
Seksvoorligting is vandag deel van die die skool se opvoedingstaak: volgens die Nasionale Kurrikulumverklaring is "sexuality education (is) an integral part of the school curriculum. Such education should give both girls and boys the resources they need to practise birth control." (Manifesto 2001: 63). Die onderwys word verder betrek om die VIGS-pandemie te bekamp, onder andere deur inligting oor MIV en sy verspreiding in leerareas in te werk.Die onderwys sluit aan by die hedendaagse sekulêre mens, wat seksualiteit verhef as die belangrikste en selfs enigste uitdrukking van die mens se diepste gevoelens en belewenis binne 'n verhouding van twee mense. Dit is duidelik dat die uitgangspunt van die Departement van Onderwys nie "onthouding vóór die huwelik" is nie, maar "voorkoming tot swangerskap" is.
Die verpligte seksvoorligting van die Departement van Onderwys is sonde teen en oortreding van die wet van God. Gehoorsaamheid aan die gebooie van God en dan spesifiek die 5de, 6de, 7de, 8ste, en 10de gebooie behoort aan die Suid-Afrikaanse jeug oorgedra te word. God verbied seksuele losbandigheid. Die enigste werklike antwoord is te vinde in 'n heilige en godverheerlikende lewe, ook tussen die geslagte. Trouens, albei, seun en dogter, is na die beeld van God geskape. Vir die Christen is die menslike liggaam 'n tempel van God en dit moet as woonplek van die Heilige Gees heilig gehou word.
Vandag word kinders alreeds op 'n vroeë stadium bewus gemaak van die fisiologiese verskille tussen geslagte. Hierdie bewusmaking begin by die wyse waarop bevrugting by plante en diere plaasvind. ...
Seksvoorligting in skoolboeke en dokumente handel slegs oor biologiese verskille tussen die geslagte en hoe om bevrugting en MIV/VIGS te voorkom. Die liefdesgebod ontbreek in elkeen van die boeke en dokumente. Wat ook in seksvoorligting ontbreek is dat elke mens na die beeld van God geskape is. Dit beteken dat die mens nie van die dier afstam nie, wat die grondslag van dokumente oor seksvoorligting is. ...
Die dokumente gaan uit daarvan dat seks deel is van die mens se sosiale lewe. Gevolglik bly die dokumente in gebreke om die baie dimensies van die mens se sosiale lewe raak te sien, soos die huwelik, gesin, kerk, skool, gemeenskap, sportklub en kultuurvereniging. In elkeen van hierdie samelewingskringe neem albei geslagte deel en gevolglik kom die verhouding tussen geslagte ook ter sprake, en daarmee gehoorsaamheid aan die sewende gebod.