Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die vaste punt van ons bestaan

AKTUEEL: Sportverdwasing .... selfs-verafgoding 

SKRIFOORDENKING:
Die misdaad van Agan (Jos 7..)

Beswaarskrif van die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Oos-Moot

Christus se borgtogtelike lyding

In die begin was die Woord ...

Dr JAE (KOOS) Adendorff se pad : - Buitengesluit uit die NG Kerk te Elsburg -

KERKLIKE JOERNAAL: 
Algehele wantroue oor waarheidskarakter van Handelinge Sinode 2003

Klassis Pretoria Moot : Beskrywingspunte insake die verwerping van sekere sinodebesluite

Die Gereformeerde Kerk Witrivier : Besluit teen toelating van vroue in diakenamp asook teen gebruik van 2001 (CLOETE) omdigtings

Gereformeerde Kerk Pretoria-Wapadrant skakel oor na kleingroepbediening (KGB)

Belhar-belydenis deur NG Sinode aanvaar

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Godsdienstige indoktrinasie duer middel van skoolgodsdiens

BCVO persverklaring 24 September 2003

Hoeksteen vir Eg Suid-Afrikaanse universiteit gelê .... ten koste van die PU vir CHO !

Seksvoorligting op skole

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Postmodernistiese skrifuitleg -'n Doodloopstraat

PERSRUBRIEK:  Afrikaanse Radio-Advertensie gebruik die Bybel vir karikatuur van "Apartheid"

Intergeloof bevorder deur Lutherhaan en ander sogenaamde "Christene"

Geloofsbelydenis of ongeloofbelydenis?

Behoedende Kerklike berigte vanuit Nederland

"Vrijmaking" in Bergschenhoek (Nederland)

Pompeji "U raak die berge aan en hulle rook" (Ps 104:32)

QUO VADIS?

KOMMENTAAR: Appartheid 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van Outonomie

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 6 November 2003

SKRIFOORDENKING

DIE MISDAAD VAN AGAN

Josua 7: 1 - 16

- DS DP PRINSLOO - OUTJO, OTJIWARONGO, BIERMANSKOOL  -

Staan op! Heilig die volk en sê: Heilig julleself teen môre; want so sê die HERE. die God van Israel: Daar is 'n ban in jou midde Israel! Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie. ( Josua 7: 13)

In Josua 6 vind ons die bekende geskiedenis van: "Die mure van Jerigo". Hier het God die mure van Jerigo inmekaar laat tuimel en die stad is ingeneem. Die bekende wêreld het die mag van Israel se God gesien. In hoofstuk 7 lees ons van nog ’n bekende gedeelte, die misdaad van Agan en sy straf. Ons moet onthou dat Israel in die middel van ‘n heilige oorlog was. Die "heilige oorlog" is nie veroweringsoorlog nie, maar die stryd om die inbesitneming van die beloofde land. Stryd om vervulling van die verbondsbeloftes. In die heilige oorlog is die krag en strategie van die Israelitiese leër bysaak, omdat God self die stryd voer. Die sukses van hierdie oorloë hang nie af van die getalle nie, maar van Israel se toewyding en God se betrokkenheid daarin (Jos. 7). Dit is nie die volk se militêre mag nie, maar die HERE se krag wat die oorwinning bewerk, daarom ontvang die HERE ook die eer daarvoor.

Josua was op die punt om teen die stad Ai oorlog te voer. Hy laat die stad Ai eers ondersoek voordat hy aanval. Daar word besluit om slegs ’n deel van die volk te laat optrek teen die stad. Die uitkoms is beskamend. Ai behaal oorwinning oor die volk van Israel, dood 36 man en jaag hulle ’n hele end weg ook. Die volk van God moes hulle rug keer en vlug. Die wêreld lag nie net vir hulle nie, maar die nederlaag doen God se Naam oneer aan.

Maar wat was verkeerd, waarom het die volk dan die veldslag teen Ai so liederlik verloor? Die antwoord is nie ’n raaisel nie. Die groot rede waarom die Israeliete verslaan is, was omdat God nie geëer was nie. In vers 13 lees ons duidelik dat God sê: Daar is ’n ban in jou midde Israel!

Agan het van die bangoed gesteel. Israel het gesondig. Die sonde was verbreking van die verbond. Die verbond is ’n voorreg, maar lê ’n verpligting op. Die volk het die verpligting gehad om aan God te gee wat Hom toekom. Die sonde word dan nog nader aangedui as steel van die bangoed. As ons kyk na Josua 6:18 verstaan ons nog beter. Die misdaad is regstreeks teen God gerig. Sy verbond en sy eiendomsreg is geskend, want dit wat getoon het dat God die heilige oorlog veg is weggeneem, gesteel van God.

Waarom dan met die banvloek tref? Die bedoeling van die banvloek was om die goedere of mense aan die HERE te wy. Somtyds is bepaal dat alles doodgemaak en vernietig moet word, maar soms is daar uitsonderings gemaak. In die geval van Jerigo is net Ragab gespaar en die metaal en metaalvoorwerpe vir die heiligdom van die HERE gegee (6:17-19). Die funksie van die ban kan saamgevat word in 4 punte.

Dit het verhoed dat Israel aan die afgodery van oorwonne volke blootgestel word. Dit het beklemtoon dat God oor alles en almal regeer. Dit het ook belemtoon dat die oorwinning aan God te danke was en dat God vir die oorwinning vereer moes word.

Wat het hierdie dinge met vandag te doen? Die lesers van hierdie blad hou tog vas aan die gereformeerde leer, diens en tug. Maar weet ons waarom ons hieraan vashou? Het ons al ooit stilgestaan om te dink waarom ek elke Sondag kerk toe gaan, waarom ek die gesag van die Woord van God wil beklemtoon en bewaar? Waarom my bloed kook as iemand die kerk van ons Here Jesus maak wat dit nie veronderstel is om te wees nie? Waarom ek skop dat sommige veranderings nie die kerk binne moet kom nie? Of het ons dalk ook al soos Agan vergeet waarom die oorlog gaan? Het ons dalk ook die eer van God in die Heilige oorlog vergeet, of die oorlog so begin veg dat dit om my eie eer en behoud of om die eer en behoud van een of ander menslike struktuur mag gaan, sodat ons kan vra: Het ons al die eer van God in die Heilige oorlog gesteel?

Net soos die volk van Israel wat aan die ander volke moes toon dat God die enigste ware God is, so het ons ook die roeping/verantwoordelikheid om dit vandag te doen. Die hele wêreld moet weet: Christus is ons enigste Verlosser en Saligmaker niemand kan die ewige lewe hê sonder ware en opregte kinderlike geloof in Hom nie. Die hele wêreld moet weet dat die ganse wyse waarop God gedien moet word vir ons in sy voorskrifte in die Bybel gegee word. Die manier waarop ons hierdie getuienis moet lewer is dan ook om die stryd op aarde te stry tot eer van God. Om die heilige oorlog waarin ons, ons bevind te veg tot eer van God-drieënig.

Hierin word ons net soos Israel nie alleen gelaat nie. Die krag en strategie van die gelowige leër van vandag is ‘n bysaak, omdat God self die stryd voer. Die sukses van hierdie oorlog hang nie af van die getalle nie, nie van ons eie vermoëns nie, want Christus het reeds die oorwinnig behaal. Ons word bemoedig deur die volgende woorde in die eerste algemene brief van Johannes 2:17: "En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

God gee dan ’n opdrag in Jos. 7: 13: "Staan op!" Josua moet gereed wees om die wil van God uit te voer. Dan gee God die opdrag dat Josua die volk moet heilig. Dit gaan hier nie bloot om hulleself gereed te maak nie, maar hulle moet geheilig word, gereinig word, afgesonder word vir God. God gee Israel en die familie van Agan nog ’n kans om in die reine te kom.

God gee ook vandag die opdrag: Staan op! Heilig julleself, sodat julle kan weet waaroor die oorlog van God gaan. Ons moet onsself gedurig heilig. Ons moet ons lewens inrig as dankbaarheid teenoor God. Ons moet vir Hom ’n volk wees. Ons mag nie soos Agan vergeet waaroor die oorlog gaan nie. Ons moet God gehoorsaam, sodat sy Naam ook daardeur groot gemaak kan word bo die ganse aarde. Ons moet besef, die lewe hier op aarde, die stryd wat ons stry vir die waarheid, moet tot God se eer wees.

Dit wat in die tempel moes wees om te toon dat God die oorwinning bewerk het, het Agan gesteel. Hy steel dus die eer van God. Hy bring onheiligheid in sy huis en tussen sy volk in. Josua besef dat die nederlaag God oneer aandoen, maar Agan besef nie waaroor die oorlog gaan nie.

Wat sal ons as gelowiges vandag vir mekaar sê: Is daar ’n ban tussen ons? Het ons dalk in die aardse stryd vergeet dat dit om die eer van God gaan? Is daar iets wat ons daarvan weerhou om alle eer aan God te gee? God vra vandag hierdie vraag aan ons en Hy gee aan ons die opdrag: "Staan op! Heilig julleself!"