Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
AFRIKAANSE RADIO-ADVERTENSIE GEBRUIK DIE BYBEL VIR KARIKATUUR VAN"APARTHEID"
C du Randt, Bloemfontein maak in die onderstaande brief in Beeld, Maandag, 22 September 2003, 'n saak bekend van 'n ontstellende misbruik van die Bybel en verdraaiing van die Christelike godsdiens. Dit moet dien om die beleid van afsonderlike ontwikkeling van die verlede op bespotlike en valse wyse aan die Gereformeerd-Christelike godsdiens en die Bybelse skeppingsopenbaring te verbind. Ons plaas dit onder aandag van ons lesers om te besef dat selfs die heiligheid van die Woord van die Here nie gerespekteer word nie as dit daaroor gaan om "apartheid" met wortel en tak uit te roei nie."Hiermee spreek ek my misnoeë uit oor die ophef wat gemaak word van die Afrikaanse Radio-advertensie oor die Apartheidsmuseum wat by die Pendoring 2003-toekennings op 5 September in Johannesburg as wenner aangewys is.Die feit dat die Bybeltekste verkeerd in die teks aangehaal word, word misgekyk en Deon Wiggett, kopieskrywer van die advertensie, word as 'n held op die podium geplaas. Huisgenoot van 18 September beskou hom selfs as "'n Doring met woorde".
Ek sou graag wou weet uit watter Bybel Deon die teks (volgens die advertensie Genesis 1) aanhaal;
"Man en vrou het hy hulle geskep. Wit en swart het hy hulle geskep, Kleurling en Indiër het hy hulle geskep. "En God het gesien dat die wit mense goed was.
Sy tweede advertensie lui as volg:
"Dominee: 'Geliefdes, ons lees vandag saam uit Jesus se woorde aan sy dissipels: Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Geseënd is die sagmoedige wit mense, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Geseënd is die sagmoedige swartes, want hulle sal in lokasies buite die nuwe aarde bly en in die wit mense se huise werk.'"
Ek vra myself af hoe lank ons gelowiges gaan stilsit en toelaat dat die inhoud van Die Bybel verdraai en bespot word. Gaan ons maar net toelaat dat dit onverstoord voortgaan of gaan ons optree? Ons opdrag volgens Lukas 19:40 is tog immers: "Maar Hy antwoord: 'Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep'."