Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
INTERGELOOF BEVORDER DEUR LUTHERAAN EN ANDER SOGENAAMDE "CHRISTENE"
"Begrp vir mekaar se geloof kan Afrika-vrede bevorder
Dié berig in BEELD, Woensdag, 1 Oktober 2003 vertolk tiperend die New Age-filosofie van die gelykheid van alle gode en religies wat moet saamwerk om die ideaal van wêreldvrede te bevorder. Daar is "Chris-tene" wat hulle samewerking daaraan verleen met verbygaan van die gebod om geen ander gode - as die ware God van hemel en aarde wat Hom in sy Woord, die Bybel, geopenbaar het - voor sy aangesig te hê nie (Exodus 20 : 3). Die Bybelse vermaan in 1 Johannes 5 : 21: "My kinders, bewaar julleself van die afgode", dra vir hulle geen gesag meer nie. Hulle heg meer waarde aan menslike bedrieglike filosofieë as aan die norme en wette van die Here, wat gehoorsaamheid van ons eis.
Neels Jackson berig as volg: "Christene moet die Koran lees om 'n beter begrip van hul Moslem-bure te kry en só vrede in Afrika te bevor-der. Dié beroep is gister (30 September 2003) gedoen deur dr Ishmael Noko, hoofsekretaris van die Luther-se Wêreldfederasie, tydens sy voorsittersrede op 'n Suider-Afrikaanse intergeloofskonferensie vir vrede in Kempton Park.
Noko het gesê gesprek tussen mense van verskillende gelowe is belangrik. Daardeur gee mense aandag aan mekaar en kan wantroue en ongemak verminder word. Mense moet aandag aan mekaar gee. 'As jy dit doen, is dit goedkoop; as jy dit nie doen nie, is dit baie duur', het hy gesê.
Mense van verskillende geloofsgroepe moet tyd inruim om mekaar te besoek en leer om mekaar se heilige geskrifte met geduld te lees, het hy gesê.
Mense moet getuies wees van mekaar se gebruike van gebed, aanbidding en gemeenskapslewe.
Hy het gelowiges van die Abraham-tradisie - Christene, Moslems en Jode - ook herinner aan die gebod wat 'n mens verbied om valse getuienis oor jou naaste te versprei. Jou naaste, het hy gesê, kan enigiemand van 'n ander geloofsgroep wees. Hy het bygevoeg dat 'n mens net jou naastes kan liefhê as jy hulle ken.
Die konferensie is bygewoon deur Christene, Moslems, Jode, Hindoes Boeddhiste en aanhangers van die Baha'i-geloof en van die tradisionele Afrika-godsdienste.
Die gebod om die naaste lief te hê, word brutaal uit skriftuurlike konteks geruk en hanteer van, onder andere, 2 Johannes 1 : 9 - 11, waar die Woord van die Here ons leer en vermaan: "As iemand na julle kom en hierdie leer - die leer van Christus - nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke".