Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
Geloofsbelydenis of ongeloofsbelydenis?
AE Breytenbach van Wapadrant skryf in DIE HERVORMER van 1 Oktober soos volg:
Die eietydse geloofsbelydenis (Die Hervormer: 15 Augustus 2003), lyk na 'n poging om die ongeloofsgeloof van die Jesus Seminar te versoen met die geloof wat die Christelike kerk sedert die vroegste tye bely. Dit is seker goed vir die postmoderniste wat alles relatief wil maak, want anders as die tradisionele geloofsbelydenis, leen die eietydse formulering hom tot enige vertolking.
Van vroeg af bely die Christelike kerk: ... ons glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun ... wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria ... wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode ... ensovoorts. Hiervolgens word sy maagdelike geboorte en opstanding uit die dood as historiese feite gestel wat nie ruimte laat vir allerlei afwykende vertolkings nie. Daarteenoor beduie die eietydse geloof dat die vertelling van die maagdelike geboorte een van die maniere is waarop die belydenis (dat Jesus die Christus is) uitgedruk word. Die historiese werklikheid daarvan word dus hier-mee ontken - dis maar 'n vertelling wat iets wil tuisbring. Die verklaring dat die kerk hom nie uitlaat oor die historiese en biologiese besonderhede van Jesus se verwekking en geboorte nie, lyk na 'n onbereidwilligheid om die Skrif se getuienis hieroor te aanvaar, en om te verklaar dat die kerk nie bely dat Jesus die Christus is omdat Hy uit 'n maagd gebore is nie, maar omgekeerd, neem nie die feit weg dat as Hy nie deur die Heilige Gees verwek en uit 'n maagd gebore is nie, Hy nie die Christus kan wees nie.
In effek sê hierdie eietydse geloof: Ons kan nie sê dat dit werklik gebeur het nie, maar ons bely dit. Dit klink alte veel soos sommige van die briewe wat in Sherlock Holmesmuseum in Londen uitgestal word van bewonderaars wat skryf: Dear Mr Holmes, I know you do not exist, but ... en dan volg 'n lang brief aan die fiktiewe mnr Holmes, wat tog wel in die afsenders se verbeelding bestaan.
Die eietydse interpretasie is nie 'n geloofsbelydenis nie, maar 'n verwerping van die tradisionele Christelike geloofsbelydenis - in wese 'n ongeloofsbelydenis wat die Christelike geloof op dieselfde voet as ander gelowe plaas. Los dit asseblief en moet tog nie probeer om met woordspeling en formulerings sogenaamde wetenskaplike standpunte te akkomodeer wat die Christelike geloof in sy wese aantas nie. Dit dien nie die eer van God of die heil van sy kerk nie.