Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 6 November 2003
REDAKSIONEEL
Wanneer hierdie uitgawe die lesers bereik het, staan die jaar al weer einde toe. Dit was 'n jaar vol spanning en stryd op albei fronte, dié van die kerk(e) en dié van die staat en samelewing.
In die verband van die Gereformeerde Kerke het die aanvaarding van sinodebesluite wat betwis is, kerklike verdeeldheid teweeg gebring wat nie maklik herstel kan/sal word nie.
Die staat meng hom in en vergryp hom aan die regte en pligte van die ouers om self vir die onderwys van hulle kinders te sorg, sodat hulle nie voortydig blootgestel sal word aan valse ideologie en religie nie.
Misdaad, gedeeltelik voortspruitend uit politieke dryfvere, maar andersins ook uit misdadige neigings van persone wat in die tronke tuishoort, is daaglikse nuus in die media en op TV. Regspraak is gebind aan beperkinge wat wetlik bepaal is en wat aan die oortreders meer beskerming bied as aan die slagoffers van geweld.
Die verkeer op die paaie eis ook talle slagoffers as gevolg van swak voertuigbeheer of roekelose bestuur en voertuie wat onpadwaardig is, veral betreffende die remvermoë en bande wat grotendeels verslyt is. Talle paaie verswak en is vol slaggate.
Hierdie sake raak ook lidmate van die kerke wat skade ly of beseer en gedood word.
Siektes soos HIV/Vigs en tuberkulose versprei maar alte maklik, ook onder die blanke deel van die bevolking, terwyl die leiding van die owerheid slegs op voorkoming en nie op ingetoë en kuis te lewe, volgens die gebooie van die Here, gerig is nie.
Dit is die wêreld waarin ons lewe, die wêreld van ons bestaan wat ons ook die volgende jaar weer tegemoet sal gaan.
"Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies" (Luk 12:7).
Laat dit ons troos en versterk in die geloof, nou en ook in die nuwe jaar wat voorlê.