Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
AKTUEEL DIE NUWE MILLENNIUM Die Christelike Dateringstelsel P VAN DER KOOI Die jare van ons aardse bestaan word aangedui en gedateer deur middel van getalle. Die jaar 1999 is byna verby. Dan begin die nuwe millennium, die 21e eeu, wat met veel rumoer en gepaardgaande bandeloosheid afgeskop gaan word.Vir ons betref dit die beëindiging van 'n siklus van drie-honderd-en-vyf-en-sestig dae, met hoogte- en laagtepunte, waarvan volgens die Bybel "die uitnemendste moeite en verdriet is" (Psalms 10 : 14, 25 : 18, 90 : 10). Al weer 'n jaar, al weer 'n eeu. wat toegevoeg is aan dit wat ons in die persoonlike bestaan herinnering, en met betrekking tot God se voorsienigheid (Heid Kategismus, Sondag 10) geskiedenis noem.
Die ingeskape wetmatigheid van die seisoenswisselinge, die aarde se omwenteling om sy as, dwing ons feitlik, ons kan dit nie anders en beter doen nie, om die verloop van die tyd te bepaal volgens jare van driehonderd-vyf-en-sestig dae met die noodsaaklike aanpassing van 'n ekstra dag in skrikkeljare. Dit is die Here se dateringswet waaraan die mensdom onderworpe is. So word die komende jaar, die jaar 2000, ook AD (Anno Domini) of in gewone taal "die jaar van ons Here" genoem.
Dat die jaar wat binne enkele weke sy eindpunt bereik, juis as 1999 bekend staan, is nie vanselfsprekend nie. Dit is nog maar vanaf die vyftiende eeu dat hierdie "Christelike" jaartelling in Wes-Europa algemeen aanvaar en ingevoer is. Hiermee is die geboorte van Christus sentraal gestel vir sowel die verlede en die hede asook met die oog op die toekoms. Dit is hierdie Christelike datering wat staan teenoor byvoorbeeld die Joodse chronologie wat by die skepping van die wêreld begin, soos "bereken" op ongeveer 3760 jaar voor die geboorte van Christus.
So was daar ook die Romeinse tydrekening wat aan dié van ons voorafgegaan het, wat begin met die stigting van Rome. Ook Sjina het sy eie tydrekening vanaf die begin van sy geskiedenis. Die Islamitiese lande dui hulle jare aan met 'n tydsberekening wat hulle eie is. Dit begin met "Hidjrah", Mohammed se verbreking van sy stamverwantskap waarmee hy tegelykertyd die eenheid en die verbreiding van die Islamitiese geloof in die plek daarvan gestel het. Dit is - volgens ons dateringstelsel - die jaar 622 ná die geboorte van Christus.
Die Christelike jaartelling met Jesus Christus as die "hoeksteen" van die Westerse beskawing, is deur Dionysius Exiguus in die jaar 525 uitgedink en aanbeveel. Dit was in die tyd toe die Rooms-Katolieke Kerk die offisiële staatsgodsdiens in die Romeinse wêreldryk geword het en tewens die "beskaafde" wêreld, insluitend byna geheel Europa, oorheers het. Dionysius se berekening was egter nie noukeurig nie en daaroor word tans in die terme van enkele jare verskil. Sy tydrekening is maar geleidelik aanvaar en ingevoer. Dit het tot in die vyftiende eeu geduur voordat Christus, oral in Wes-Europa, die algemeen aanvaarde middelpunt van die jaartelling geword het. Dit kan dus nie as vanselfsprekend beskou word dat ons na die geskiedenis verwys as die jare van vóór en ná Chrstus se geboorte nie.
Daar is ook al gepoog om hierdie dateringstelsel, waarin Christus as die ewige Seun van God sentraal staan, weer af te skaf . Dit was met die aanvang van 'n "nuwe bedeling", op 22 September 1792, in Frankryk. Dit was die verheerlikers van die Franse Revolusie wat 'n nuwe geskiedenis vir die mensdom wou inlui. 'n Nuwe toekoms waarin "reg en geregtigheid" sou heers. 'n Nuwe wêreld waarin die mens se rede en deug, uit en deur en tot homself, op die troon gesit is. Die "salige" begin daarvan was die "Skrikbewind" wat vir derduisende moorde verantwoordelik was. Die Brit, Edmund Burke, wat as die grondlegger van die Konserwatisme (as denkrigting) beskou word, het die Franse Revolusie tereg as 'n godsdiensoorlog, 'n oorlog teen die Christelike godsdiens getipeer. "Dit is 'n religiestryd. Dit is nie, soos ander en voorheen, 'n geskil tussen gesindhede nie, maar 'n oorlog teen alle gesindhede en elke godsdiens", aldus Burke.
Geen God en geen koning meer nie! Op 26 Augustus 1789 is in Frankryk die "Rede" op die troon gesit met die Verklaring van die Regte van die Mens en die Burger. Drie jaar later is dit in-grypend opgevolg met die afswering van die Christelike geloof. Dit betref sowel die geloof aan God asook die onderwerping aan die gevestigde, tradisionele instellings van gesag, wat volgens Christelike geloofsbeskouing namens God uitgeoefen is. Dié opvatting oor die amp van die owerheid (vgl Rom 13 : 1 - 7; NGB, art 36) is tersyde gestel, dit is van die terreine van staat en samelewing verwyder en verban. Ons ervaar tans dieselfde tendense in die "Renaissance van Afrika", die nuwe politieke bedeling sedert 1994 in ons land.
'n Nuwe revolusionêre bedeling het in Frankryk begin en daarmee saam 'n nuwe jaartelling. Hoewel eers in Oktober 1793 deurgevoer, is die jaar 1 gestel om te begin op 22 September 1792, die dag waarop (offisiëel) God en die koning vaarwel gesê is en die verloop van die wêreldgeskiedenis 'n "nuwe begin" gekry het onder die bestuur van Sy-Majesteit-die-Mens. God nie meer die Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van die volkere nie! Voortspruitend ook geen Christelike datering meer nie. So hittete was ons Christelike jaartelling daarmee heen. As die gees van die revolusie net maar sterker gevorder het; as daar geen sterk weerstand daarteen gebied was nie; maar veel meer, as die Here dit nie verhoed het nie! (Ps 124)
Die nuwe millennium waaroor die koerante byna daagliks skryf, die jaar 2000, breek binnekort aan. Dit sal niks anders wees as die jare wat daaraan voorafgegaan het nie. Die bandeloosheid, misdaad en geweld, die sonde en, andersyds, die Christelike stryd daarteen sal nog voortduur. Dit is opnuut 'n jaar van die Satan wat gryp na die mag deur te verlei en te verslind (1 Pet 5 : 8). Maar dit is allereers en bowenal die jaar, die millennium, van ons Here, die almagtige God. Opnuut word ons weer opgeroep tot diens. Diens aan Hom, diens aan mekaar, diens aan sy Kerk, aan ons volk, aan ons land en al sy mense.