Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
GROET OF SEëN BY DIE AANVANG VAN DIE EREDIENS? Dr AP Treurnicht se insiggewende kommentaar In die uitgawe van ons blad van Augustus 1997 het ons op bl 10 geskryf oor die "seëngroet" onder meer as volg: "Die uitspreek van die seën, of dit nou aan die begin van die erediens of aan die einde daarvan is, gaan gepaard met die opheffing van albei die arms en hande van die voorganger. Dit is die simboliek vir die oplegging van die seën. Die bedienaar van die Woord le die seën van die Here op die gemeente wat in sy Naam vergader. ... Die opheffing van slegs die een hand is 'n simboliek wat geen skriftuurlike grond het nie. Dit is 'n bloot menslike aanpassing om 'n spesifieke waarde aan die "groet" te verbind en dit sodoende te onderskei van die seën wat die gemeente ontvang aan die einde van die diens. Die HERE seën die gemeente wat in sy Naam vergader by die aanvang sowel as by die beëindiging daarvan. In albei gevalle behoort dit in sy Naam en volgens sy wil te geskied met die opheffing van die voorganger se beide hande." By die nagaan van dr Treurnicht se nagelate boekeversameling het ons in "Onze Eeredienst" van dr Abraham Kuyper, 'n handgeskrewe kopie vir 'n artikel gevind wat polemies oor hierdie materie handel. Dit is gedateer op 26 Januarie 1975. Treurnicht reageer daarmee op 'n artikel in DIE KERKBODE van 11 Desember 1974, wat aan sy kommentaar geheg is. Ons bring dit graag onder die lesers se aandag. ®D
aar is stellig vir die kerk ernstiger sake om te bespreek as die sogenaamde "groet" aan die begin van die erediens. Sommige van ons leraars en van ons korrespondente maak egter so 'n gewigtigheid daarvan dat 'n paar gedagtes seker nie onvanpas sal wees nie.Die meeste van ons was al die jare gewoond om by die die uitspreek van die seënspreuk of benediksie ná die votum en van die seën aan die einde van die diens, die hoofde te buig en baie het selfs die oë gesluit. Nou word ons vermaan dat dit verkeerd is. Ons moet na die liturg kyk! Want, word gesê, jy groet tog nie iemand met toe oë nie.
Vergun my 'n paar opmerkings.
1. By die seënspreuk is dit nie die gemeente wat groet nie. Jy kan dus nie die gemeente verwyt dat hy met toe oë of 'n toe mond groet nie!
2. As die seënspreuk, soos sommige sê, net 'n "groet" is en nie 'n seëngroet nie, is ons tog agterstevoor. Dan praat ons eers 'n ent weg met die gemeente, gee selfs 'n introïtuslied op en begin met 'n rits afkondigings vir die gemeente en eers daarna word plegtig gegroet! Ek vind dit 'n bietjie verspot.
3. Maar ook al sou die liturg ook die gemeente "groet" vóórdat hy aankondigings doen, het ek beswaar teen hierdie verskraling van die seënspreuk of benediksie tot 'n blote groet. Soseer word die groet ten koste van die seën beklemtoon.
Gesê word, dat ons liewer net moet praat van "groet" omdat die term "seëngroet" met die seën (aan die einde van die diens) verwar kan word. Watter verwarring kan daar wees, behalwe as ons 'n kunsmatige, geforseerde verskil tussen die seënspreuk of benediksie aan die begin van die diens en die seën aan die einde van die diens maak?
4. Watter verskil is daar? Die seënspreuk of benediksie aan die begin van die diens lui: "Genade vir u en vrede van God, onse Vader en die Here Jesus Christus". Om hiervan "net 'n groet" te maak en te sê: vergeet van die seën want dit hoort aan die einde, is onverantwoord. As dít net 'n groet is, is die "genade", "liefde" en "gemeenskap" aan die einde van die diens ook net 'n groet, 'n vaarwel. Maar as laasgenoemde 'n seëngroet is, is die "genade vir u en vrede" aan die begin wesenlik ook 'n seëngroet. Wie dit anders verklaar, dwing God's genadige toesegginge aan die begin en die einde van die diens in twee verskillende dwangbuise.
5. God staan nie net "agter die groet waarmee die liturg ampshalwe die gemeente aan die begin van die diens begroet" (aldus prop LK Louw. 1974) nie. Dis baie gevaarlike woorde, want dit plaas die liturg op die voorgrond en God agter hom. Ons het waarlik nie behoefte aan 'n groet van die liturg nie, maar aan wat Abraham Kuyper noem "die besef ... dat ons in die vergadering van die gelowiges voor die aangesig van die lewende God verskyn en dientengevolge die Benediksie ... as 'n Vrede vir u! van God's kant gevoel word (Onze Eeredienst, bl 205).
Let wel, Kuyper praat van hierdie "heilige groetenisse van den Almachtigen God en zijn verzamelde gemeente" (bl 202), "deze groetenisse des Heeren tot zijn volk", uitdruklik as 'n "benediksie", 'n "zegenende begroeting" waarvan die uitwerking moet wees dat metterdaad elke aanwesige gewaar hoe God nou in sy majesteit in die gemeente verskyn het en die Vrede vir u! oor sy volk laat uit-spreek het. Dit is teosentriese liturgie! Dit het veel, véél meer en dieper sin as die benadering van: "Vergeet die seën en kyk na my; ek wil u groet!"
6. Teen so 'n teosentriese agtergrond is die beswaar teen die seën aan die begin van die diens, as sou dit 'n misverstand wees, self 'n growwe misverstand. "Genade vir u en vrede van God" is wesenlik seëngroet, benediksie! Wie die seën hieruit wegneem en dit net tot groet maak, bring nie vernuwing in ons liturgie nie, maar pleeg verarming, berowing.
Die plasing van God agter die liturg in die groet en die wegneem van die seën uit die benediksie aan die begin van die diens doen groot geestelike skade aan die gemeente. Dit laat de mistieke warmte van die geestelike lewe afkoel. Dit veruitwendig die erediens. Dit maak die liturg tot een en alles en ondermyn die besef van God's heilige teenwoordigheid.
7. Oop of toe oë onder die seënspreuk? Watter saak maak dit? As dit net 'n groet is, kan ek verstaan waarom gesê word dat ons mekaar nie met toe oë groet nie. Maar hierdie "Genade vir u en Vrede van God" is nie die vriendelike hartewens van die liturg, wat ons alles wat goed is, ook genade en vrede, toebid nie. Dit is God Drieënig wat sy genade en vrede aan ons uitspreek en wat daartoe sy dienaar gebruik. As dit só is - en ek verkies dit 'n honderd maal bo die mooi groet van die liturg - kan ek geen fout daarin sien om in die bewustheid van God's teenwoordigheid en by die ontvangs van Sy genade en Sy vrede, my hoof te buig, my oë te sluit en my hart gelowig en dankbaar tot Hom op te hef nie. Laat dit vir die liturg wonderlik en eervol genoeg wees dat sy stem God's genade en vrede oor die gemeente uitspreek. En mag hy bewe van ontsag wanneer hy dit doen!