Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
DIE GELOWIGE EN DIE PRAKTYK VAN STAKING DR P VAN DER DUSSEN - PRETORIA Staking - deel van ons alledaagse lewe
So word selfs noodsaaklike dienste vir die hele bevolking deur die stakings geraak. Dink maar aan die versorging van siekes, aan die onderwys..... Dit strek egter verder. Die kitsbankstelsel en die banke se elektroniese verbindingstelsel kom in die gedrang. Netnou-netnou vind kragonderbrekings plaas. Die howe funksioneer nie meer nie omdat die staatsaanklaers staak. Die staatsadministrasie werk nie behoorlik nie. So kom die stakings in elkeen van ons se woonkamer en kombuis in. Maar die saak gaan veel dieper. Voorheen sou (met enkele hoë uitsonderings) geen van ons lidmate en selfs van ons vriende en bure by stakings betrokke gewees het nie. Stakings was iets buite ons sigveld, iets wat tereg verwerplik is. Maar vandag sien die toestand daar anders uit. Wat voorheen werkersverenigings was - soos die Vereniging van Staatsamptenare - is tans vakbonde. Waar daar voorheen onderlinge vertroue ook in arbeidsverhoudinge was en stakings deur rewolusionêre groepe gebruik is hoof-saaklik om politieke druk uit te oefen, is die toestand vandag een van werkgewer teenoor werknemer op alle vlakke - vir mense in oorpakke tot vir mense in pakke klere. Geen werker, geen rang, geen posisie kom vandag meer van die vakbondwese vry nie. Dit is part en deel van die bedeling wat vandag geld.
Gelowiges word ingesleep
Die (Bybelgetroue) gelowige leef steeds in hierdie wêreld, al is hy nie van
hierdie wêreld nie. Daarom word hy teen sy sin en onwillekeurig by stakings ingesleep en
moet hy hom daaroor verantwoord. Hy worstel (ons hoop ten minste so!) met die probleem of
hy sogenaamde "nywerheidsoptrede" (die deftige eufemisme vir staking) kan
regverdig en daaraan mag of moet deelneem..
Voorheen was die Gereformeerde standpunt duidelik en onomwonde: n Gelowige mag nie staak nie. Daar staan immers in II Thess 3:10: As iemand nie wil werk nie, moet hy nie eet nie. Daar is ook die gelykenis van die arbeiders wat van vroeg-dag tot laatmiddag gehuur is en almal dieselfde loon ontvang het - dié wat een uur gewerk het, dieselfde as dié wat die hele dag gewerk het. In elkeen van hierdie gevalle gaan dit om wat die werker wil: As hy nie wil werk nie, kies hy doelbewus daarvoor. En hy verhuur hom vir n penning omdat hy dit wil doen. Tereg leer die Here Jesus dat geeneen van die huurlinge iets verloor of tekort gedoen word nie - elkeen ontvang die loon waartoe hy vooraf ingestem het. Die relativisme van die neo-modernistiese denke het ook in hierdie geval die vastigheid van die Gereformeerde leer versteur.
"Menseregte" word in sekere kringe van ons Kerkverband goedgekeur - kyk maar in Die Kerkblad, wat van tyd tot tyd nie skroom om menseregte aan te prys nie. Dit behels noodwendig ook aanvaarding van die mens se "reg" tot staking. En so kom die Skrifgelowige in verwarring en moet hy besin oor dinge wat voorheen vanselfsprekend was. (Wat op sigself baie goed is, omdat dit die amp van gelowige is om te besin)
Die ergste is dat stakings meestal oor luttele sake gaan - oor een of twee persent of selfs n breukdeel van een persent verhoging. Met ander woorde, geen werknemer ly honger nie, maar in hebsug word eise gestel wat deur werksweiering bekragtig en bemagtig word. Ter wille van letterlik enkele rand per maand word die ganse samelewing ontwrig, menselewens in gevaar gestel, gesagsverhoudinge uitgetart, die gees van rewoluisie aangeblaas. ..........................................................
Wat beteken dit om te staak?
Wesenlik beteken staking dat die werknemer weier om die werk te doen waarvoor hy gehuur en
betaal word, met die bedoeling om die werkgewer te dwing om aan n bepaalde eis of
eise van die werknemer te voldoen. Meestal gaan dit om n hoër loon wat nie in die
werksooreenkoms tussen werkgewer en werknemer uiteengesit is nie. Dit gaan dus nie oor die
nie-toekenning van n verhoging waaroor die werkgewer en werknemer kontraktueel
ooreengekom het soos jaarlikse kerfverhogings of merieteverhogings of
bevorderingsverhogings nie. Dit gaan om n verhoging van die ooreengekome
voorwaardes, byvoorbeeld n verhoging van die salarisskaal self.
Met ander woorde, dit gaan om n wysiging van die werksooreenkoms sélf, en wel
ten gunste van die werknemer. Die werksooreenkoms bevat dikwels n klousule wat
vir jaarlikse hersiening van die ooreengekome loon voorsiening maak. Dan kom daar
konfrontasie - dan word konfrontasie deesdae praktyk - oor die omvang en aard van
die hersiening. In hierdie konfrontasie kan die standpunt van die werknemer - eintlik die
werknemersgroepering - billik en regverdig wees. As n maatskappy se wins verdubbel
en hy bied sy werknemers n verhoging van 5% aan, is daar duidelik sprake van
onregverdigheid. Solank dit egter nie die oorspronklike werksooreenkoms misken nie, is dit
nie kontrakbreuk nie en het die werknemer dus geen wettige verhalingsreg op die werkgewer
nie. Daarteenoor staan dat deur te weier om te werk, die werknemer wat staak
kontrakbreuk pleeg, hoe regverdig(?) sy eis(?) om n groter verhoging ookal mag wees
of lyk...
Staking is rewolusie.
Staking is oortreding van die vyfde, die agste, die negende en die tiende gebod.
Die vyfde gebod: Miskenning van die wetlikheid van n ooreenkoms.
Die agtste gebod: Diefstal van die loon wat hy nie verdien nie.
Die negende gebod: Woordbreuk.
Die tiende gebod: Aanspraak op iets wat hom nie toekom nie.
Staking lei tot wanorde.
Staking is wanorde! Staking kom immers in stryd met die ordelike verhouding tussen
mense: Tussen werkgewer en werknemer, tussen werkgewer en werkgewer, tussen werknemer en
werknemer, tussen werkgewer en klant, tussen werknemer en verbruiker buite die
stakingsveld. Staking is daarop gerig om die ordelikheid van die samelewing - die
lewensorde, die "wyse van saam- leef" - te ontwrig, buite werking te stel,
minstens tydelik omver te gooi. Dit is dus wesenlik niks anders as n daad van
rewolusie nie. Voortspruitend beteken dit dat n wetgewer wat stakingsreg erken
en wettig, eweneens die vyfde gebod oortree en daardeur sy aanspraak om gesagsdraer te
wees, verbeur. So n wetgewer is geen owerheid nie. Want wie rewolusie wettig, blaas
in die diepste sin van die woord opstand teen God aan. En dan mag hy nie gehoorsaam
word nie; dan mag die gesag wat hy hom aanmatig, nie erken word nie..................................................
Die gelowige mag egter steeds nie staak in die enge en breëre sin van die woord nie, ten minste nie om sy eie belang te bevorder nie. In sy weiering om die rewolusionêre owerheid te gehoorsaam, mag hy nie teen-rewolusie pleeg nie, maar moet hy teen-rewolusionêr optree. Dit beteken dat hy die orde moet herstel wat deur die rewolusie vernietig is. Die gelowige moet dan toesien dat daar n ware gesagsdraer, n ware owerheid tot stand kom. Daarin kan hy miskien nie dadelik slaag nie, maar hy moet geduldig en soms minder geduldig daarheen werk. In so n geval mag werksweiering een van sy instrumente wees, maar dan is dit juis nie staking nie, maar die voer van n stryd uit die Evangelie teen die rewolusie.
Die onregverdige werkgewer...........................................
Die vraag is sekerlik geregverdig: Wat daarvan as die werkgewer die ooreenkoms wat hy
aangaan, nie nakom nie? Dan is hy net so skuldig as wat n staker kan wees, indien
nie meer nie. Hy versteur ook die orde en pleeg dus ook rewolusie. Hy dra immers die gesag
van besluitneming, wat sy verantwoordelikheid soveel groter maak. Nogtans gee dit nie die
reg tot staking aan die werknemer nie. Onwillekeurig kom die vermaning van die Here Jesus
aan Petrus in ons gedagte: Wat het jy met (n ander) te doen? Kom jý hier en volg
My! Ongeregtigheid by die werkgewer regverdig geensins ongeregtigheid by die werknemer
nie. Inteendeel: Die lydsaamheid van die gelowige werker sal juis vurige kole op die hoof
van die werkgewer gooi en hom miskien tot inkeer laat kom.
Daarom die roeping om ook in die sosiale bestaan die oppergesag van Christus te erken. Dit
is die antwoord van die gelowige op die stakings van vandag: Om te getuig van die genade
van God in sy lewe, ook wat die materiële dinge betref.
Teenoor die rewolusie die Evangelie...............................
Die gelowige hoef in die huidige tydsgewrig nie diep en lank na te dink nie. Hy moet maar
net kyk wát beteken dit om te staak en hóé daar gestaak word, en dan wéét hy: Ek
hoort nie daar nie, ek is nie een van die horde, die gepeupel wat die straat opgaan nie.
Ek mag nie my werkgewer skade berokken nie; ek mag nie andere skade berokken nie; ek moet
die belange van andere bevorder en deurgaans so optree soos ek wil hê mense moet teenoor
my optree (Heidelbergse Kategismus Vraag 111). Boweal moet ek die gesag van God erken. Ook
hier geld die uitspraak van die Here Jesus: Jy moet die Here jou God liefhê met jou
hele verstand en hart en siel en al jou kragte, en jou naaste soos jouself - ook al
moet jy daarvoor onreg ly...
In hierdie tyd van werkloosheid, van onregverdige afdankings, van gewettigde werkdiefstal
(wat is affirmative action anders?) besef ons al hoe meer die betekenis en
werklikheid van die bede: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Wat voorheen n
vanselfsprekendheid was, het vandag vir ons inhoud. Is dit nie genade dat die Here ons op
hierdie wyse "op ons knieë" gebring het nie? Sal ons, mág ons, die daaglikse
brood wat hy nog gee, in gevaar bring deur te staak? Om n paar rand meer of minder
elke maand? Nee, dit mag nie. Want in die bede Gee ons vandag ons daaglikse brood (wat
treffend en duidelik deur die Heidelbergse Kategismus verklaar word) is altyd, maar veral
vandag, opgesluit die bede: Ek dank U dat U my begenadig dat ek nie werkloos is nie en
dat U n werkgewer daargestel het wat as U werktuig my daaglikse brood aan my
voorsien. Ek bid vir hulle wat hierdie genade nie meer het nie en ek bid, o Here, dat U my
hart sal lei om dit wat ek het, met my broeders en susters te deel, en ook met ander
mense, omdat dit wat ek is en het, genade is en genade alleen..
Daarom die roeping om ook in die sosiale bestaan die oppergesag van Christus te erken. Dit
is die antwoord van die gelowige op die stakings van vandag: Om te getuig van die genade
van God in sy lewe, ook wat die materiële dinge betref.