Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
DAAR IS OOK GOEIE ISOLASIE
PROF GJC JORDAAN IN: STANDPUNTE" (Die ALGEMENE KERKBODE, 10 en 11 September 1999, bl 5) By die pas afgelope ATKV-kongres was daar weer pleidooie dat Afrikaners met alle vorms van isolasie moet wegdoen. In die plek van isolasie word 'n ruimheid van gees gevra om almal te akkommodeer, ongeag volk, geskiedenis en selfs godsdiens . Dit is nie die eerste keer dat hierdie geluide gehoor word nie. Soms kry 'n mens die indruk dat isolasie tot sonde nommer een in die wêreld verklaar is.Maar daar moet gewaak word dat die kind nie saam met die badwater uitgegooi word nie. Want nie alle isolasie is sleg nie. Slegte isolasie spruit voort uit 'n kloostermentaliteit. Dit probeer die wêreld buite hou in die hoop om so van die sonde en die gevolge van die sonde ontslae te raak. Dit vergeet dat die sonde net so erg hierbinne as daarbuite woed.
Maar daar is ook goeie isolasie. En slegte isolasie. Ook hierin dui die Bybel vir ons die koers aan. In 2 Kor 6 : 14 word gelowiges gewaarsku om nie met ongelowiges in dieselfde juk te trek nie. Met mense wat jou met allerlei onwaarhede probeer verlei, moet jy niks te doen hê nie (Ef 5 : 7).
Oppervlakkig mag dit lyk of die Bybel uit twee monde praat. Maar in werklikheid bied dit vir ons 'n fyn balans. Enersyds mag die gelowige nie deur wêreldmyding sy/haar roeping in hierdie wêreld ontduik nie. Andersyds mag die gelowige nie deur wêreldgelykvormigheid sy/haar uniekheid in hierdie wêreld prysgee nie. Juis deur ons andersheid te erken, hou ons rekening met die realiteite.
Daarom moet pogings van gelowiges, ook van gelowige Afrikaners, om die uniekheid van hulle Christenskap nie orals te wil prysgee, nie sonder meer afgemaak word nie. Waar mense in hulle kultuurlewe 'n hoë premie op hulle Christenskap plaas, kan dit juis 'n uitstekende getuienis wees midde-in en aan die res van die samelewing. Daarmee sê sulke mense wat elke Christen behoort te sê: elke faset van my lewe is van my geloof deurdronge.
Maar mag 'n mens dan godsdiens en kultuur vermeng? Godsdiens en skool, politiek, ekonomie? Is godsdiens nie 'n saak net vir die kerk nie? Allermins. Wie geloof en godsdiens net tot die terrein van die kerk wil beperk, skep 'n nuwe vorm van isolasie. Godsdiens word geïsoleer deur dit in die kerk toe te sluit. Maar die werklikheid is dat ware geloof hom nie laat toesluit nie. Dit loop oor na die res van die lewe en kry daar hande en voete. Oók in die georganiseerde kultuurlewe.