Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
AFGODERY MET DIE WOORD? DS JR VISSER - PRETORIA-MARANATA IS KARL BARTH EN SY NAVOLGERS BETROUBARE LEIERS?
Antwoord op n artikel in
DIE HERVORMER van 1 Mei (2) Vorige Deel Ek het reeds eerder op die inhoud van hierdie artikel gereageer. Toe het ek vanuit die Skrif en die Belydenisskrifte aangewys dat die Skrif en die Belydenisskrifte geen skeiding tussen die Bybel en die die lewende Heer maak nie. Ook geen teenstelling tussen die Bybel as God se Woord en mensewoord nie. Hoe die HERE ook mense gebruik het nogtans bly die Bybel voluit die onfeilbare Woord van God. Die artikel roep teoloë uit die verlede op om te bewys dat hulle siening in hierdie artikel op goeie gronde rus. Die teoloë wat die redaksie van Die Hervormer noem is: Karl Barth, Thurneysen, Gogarten, Brunner, Bultmann, Haitjema, Miskotte, Noordmans, Van Niftrik. Maar is hulle betroubare leiers as dit oor die Skrifgesag gaan?Beoordeling van Karl Barth is genoeg
Die opvallende by die name wat in Die Hervormer genoem word, is dat al hierdie persone op een of ander manier met Karl Barth en sy teologie verbonde is. Tussen hierdie persone bestaan beslis wel verskille. Nogtans meen elkeen van hulle dat kritiek op die Bybel toegestaan is. Geen van hulle verwerp Skrifkritiek volledig nie. Karl Barth is onder hulle een wat daarin nog gematigd was. Barth was die grootste deel van ons eeu die mees invloedryke teoloog. Hy het nie net vanweë sy teologie nie, maar beslis ook vanweë sy dade en dapper woorde teen Hitler en die Nazisme groot bekendheid verwerf. Hoe het hy teen elke agteruitsetting, vervolging en verdrukking geprotesteer. Hierin moet ons Karl Barth prys. Hy het daarin volgens die leer van die Skrif, volgens die HERE se Woord gehandel. As dit oor die Skrif self gaan, moet ons ontdek wat hy daaroor gesê het en of dit n siening is wat deur ons nagevolg kan word. As ons Barth op hierdie punt nie kan volg nie, kan ons dit sekerlik ook nie met een van die ander wat genoem is doen nie want die meeste van hulle gaan nog verder.
Die drie gestaltes van die Woord
As Karl Barth oor die Bybel as God se Woord skryf, maak hy die volgende onderskeid:
1. Die Woord is die Woord wat verkondig word
2. Die Woord is die Woord wat opgeskryf is
3. Die Woord is die Woord wat geopenbaar word
Oor elkeen van hierdie drie nou n enkele woord.
1. Die kerk is volgens Barth geroep om te verkondig. Die Bybel is nou die boek waarin ons die verkondiging van die kerk vind. n Mens wat nou die evangelie verkondig, staan daarin gelyk met die Bybelskrywers. Die Bybelskrywers was volgens Barth nie onfeilbaar toe hulle in God se diens verkondig het wat ons in die Bybel lees nie.
2. God het volgens Barth mense gebruik om die Bybel te skryf. Hulle was volgens hom egte mense en daarby behoort dat dit mense met gebreke, foute en te min insig was. Dit kan n mens volgens Barth ook in die Bybel raaksien. Die Bybel is volgens hom n menslike boek en daarom met foute en gebreke.
3. Die Bybel is nie God se openbaring maar kan dit wel word. Die Bybel is n boek waarin ons die evangelie met foute en gebreke kan lees. Nogtans laat God dit van tyd tot tyd gebeur dat mense deur die Bybel Sy stem, Sy openbaring hoor. Dan word die Bybel vir daardie mens God se openbaring op daardie oomblik. Die Bybel is die feilbare menslike boek wat God se Woord kan word.
Is dit volgens die Skrif?
Dit is die kern van Karl Barth se leer oor die Skrif. Hierdie leer stry met dit wat die HERE in die Bybel vir ons gesê het. Die Bybel word nie God se Woord nie maar was en is God se Woord. Die HERE is die betroubare God. Hy het daarvoor gesorg dat dit wat ons in die Bybel lees, sy betroubare Woord is. Van die hele Skrif geld: "Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal." (Psalm 12:7) Die Bybel is die geinspireerde Woord van God. Sien o.a: 2 Tim 3:16,17 en 2 Petrus 1:19-21.
Wie begin sê dat die Bybel n menslike boek is wat op sekere oomblik God se Woord kan word maak van God n willekeurige en onbetroubare God. Die HERE se woorde en beloftes is vir elkeen wat dit hoor en lees altyd betroubaar en spreek die mens wat dit hoor of lees altyd aan. Hy spreek ook die mens met Sy Woord aan wat nie wil luister nie. Daardie mens kan nooit sê dat hy God se stem nooit gehoor het nie omdat die HERE die Bybel vir hom nooit tot Sy Woord laat word het nie.
Wie Karl Barth se Skrifleer volg, maak die HERE self tot n onbetroubare God en maak Sy beloftes tot onbetroubare beloftes wat geen ewige krag het nie. Dit bring mense op n dwaalweg. Ons hoop en bid dat die redaksie van Die Hervormer die weg van Christus sal wys in wie al God se beloftes ja en amen is. Ons hoop en bid dat die voorligting vanuit die Hervormer die dwaalweg van Barth en sy volgelinge sal wys tot reformasie van Christus se kerk.