Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
SIMPOSIUM SKRIFGESAG TEENOOR SKRIFKRITIEK 29 en 30 Oktober 1999 te Pretoria DIE BETEKENIS VAN DIE SKRIFGESAG VANUIT DIE NUWE TESTAMENT Inleiding van prof GJC Jordaan se voordrag tydens dieSimposium Skrifgesag teenoor Skrifkritiek te Pretoria, 29 Oktober 1999
Menslike bewyse of Geloofserkenning? Die gesag van die Bybel het in 'n noute beland - of liewer: die erkenning van die gesag van die Bybel. Want aan die gesag van die Bybel kan niks verander nie, ongeag wat mense daarvan maak.Wanneer ons dit sê, het ons al klaar stelling inge-neem - teenoor geleerdes van ons tyd wat sê dat die Bybel gesag het net insoverre as mense dit as gesagvol beskou.
Die Skrifgesag is van mense afhanklik, sê hulle, ... want die Bybel in sy geheel kom maar van mense. In die berugte woorde van prof Harry Kuitert van die Gereformeerde Kerken in Nederland, in 1969, het hy in sy boek Verstaat gij wat gij leest? geskryf:
"Alles wat oor bo gesê word, kom van benede."
Of nader aan eie huis. In 1996 sê prof Sakkie Spangenberg in 'n voordrag by UNISA dat as die kerk in die moderne wêreld aanvaar wil word, ons moet wegkom van die idee dat die Bybel die gesagvolle geïnspireerde Woord van God is.
Praat 'n mens van Skrifgesag, dan stapel sulke teoloë die vrae op:
Watter gesag? Kyk maar net na die Bybel - boeke vol mites en legendes, vol historiese en geografiese blapse wat mekaar links en regs weerspreek;
Boeke wat 2000 - 3000 jaar gelede geskryf is, wat vassteek by primitiewe en naïewe beskouings van mense van daardie tyd. Watter gesag kan dit hê?
En dan die uitdaging: Kom, bewys vir ons hoe sulke boeke enige gesag kan hê, veral in 'n verligte 21e eeu van mondige mense!
Hulle vra bewyse - menslike redenasies. So asof die gesag van die Bybel afhang van wat mense besluit. Asof die menslike verstand die maatstaf is. Watter arrogansie! Watter dwaasheid!
Byna soos iemand wat sy oë styf toeknyp en sê: Bewys vir my dat die son skyn. Al wat jy vir so iemand kan sê, is: Bewyse het ek nie, maar maak net jou oë oop en jy sal sy lig sien. Gaan staan daarbuite en jy sal sy warmte voel.
So is dit ook met die Skrifgesag. Dit is nie vir die mens om te bewys dat die Bybel gesag het nie. Die gesag van die Skrif is net eenvoudig 'n werklikheid waarvoor jy jou oë moet oopmaak. Die oë van die geloof. Maar as jy jou geloofsoë toeknyp, dan begin jy sy gesag bevraagteken en begin jy bewyse vra.
Daarom is die aangewese weg om, ... nie met allerhande menslike redenasies te begin nie, maar by die Skrif self: by die Ou Testament, ... en nou die Nuwe Testament.
| Maarten Luther het gesê: "As ek met die luidste stem en duidelikste
verklaring elke gedeelte van die waarheid van God bely, behalwe juis daardie punt wat die
wêreld en die duiwel op hierdie oomblik aanval, dan bely ek nie Christus nie, hoe moedig
ek ook al kan wees om Hom te bely. Waar die stryd woed, lewer die soldaat bewys van sy
lojaliteit; en hoe standvastig hy ook al op die hele res van die gevegsfront is, maar net
op daardie punt faal .en op loop
gaan, beteken dit dat hy vlug en dat sy gedrag skandelik is"
Ds H Hefer in sy Feesrede op 29 Oktober 1999, te Pretoria tydens die Simposium Skrifgesag teenoor Skrifkritiek |
Treffende gedeelte uit die voordrag van prof R Marè tydens die Simposium Skrifgesag teeenoor Skrifkritiek te Pretoria, 29 Oktober 1999
Die basiese vertrekpunt van die Skrifkritiek is dat die Bybel nie die Woord van God is nie. Variasies daarvan is dat dit nie onfeilbaar die Woord van God is nie, of dat nie die hele Bybel die Woord van God is nie.Hierdie standpunte kom voort uit die histories-kritiese ondersoek van die Skrif. Daar is natuurlik nie fout daarmee om die Skrif te ondersoek nie. Trouens, dit is ons roeping. Daar is selfs nie fout daarmee om krities in die ondersoek te wees nie - dit is juis daar-om dat 'n wetenskap soos Tekskritiek tot stand gekom het. Dit was noodsaaklik om sover moontlik wetenskaplik vas te stel watter manuskripte die oorspronklike teks weergee. Verder moet daar eerlik met die Skrif omgegaan word sodat die ondersoeker nie die Skrif laat buikspreek of dit altyd bloot op sigwaarde gelees word nie. Die ondersoeker moet juis die bedoeling van 'n teks of Skrifdeel probeer gryp. Hy moet rekening hou met die direkte en wyer verbande waarin elke woord staan. Maar die punt is: Dan is dit nie 'n kritiese ingesteldheid teenoor die Bybel nie, maar 'n bedagwees daarop of die Bybel reg verstaan word.
Wanneer die kritiese 'n verheffing bo die boodskap, bo die leer van die Bybel, bo die inspirasie van die Skrif word, word dit onaanvaarbaar. As die kritiese ingesteldheid nie op my verstaan van die Bybel gerig is nie, maar op die Goddelike gesag van die Skrif; as my uitgangspunt 'n benadering vanuit die ongeloof is; of as ek myself bó die Skrif stel omdat ek die betroubaarheid daarvan afhanklik van my logika maak, of van die mens se insig of ander menslike kriteria, dan is daar geen sprake meer van 'n Gereformeerde Skrifbeskouing nie. ...
* In ons dag word die wonders en wondertekens waarvan die Skrif melding maak, deur die Skrifkritiek óf bevraagteken óf verwerp. Daar word geredeneer dat as 'n wonder wat tóe plaasgevind het, nie meer vandag gebeur nie, dit nie waar kon en kan wees nie.
Mosies wat namens die Forum:
"Die Bybel is God se onfeilbare Woord"
aanvaar is tydens die Simposium: Skrifgesag teenoor Skrifkritiek
gehou te Pretoria, op 29 en 30 Oktober 1999
Die Simposium is bygewoon deur professore, predikante en lidmate van vyf gereformeerde kerkverbande, naamlik (alfabeties) die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK), die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), die Nederduitse Gereformeerde Kerke (NGK), die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) en die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGKSA)
1. Die Forum is oortuig dat die gevolge van die aantasting van die gesag van die Heilige Skrif, onder die dekmantel van die wetenskap so skrikwekkend, vernietigend en verlammend vir die kerk van Christus is, dat ons n dringende beroep op geleerdes en wetenskaplikes doen om hulle daarvan te weerhou om in menslike dwaasheid strepe deur die Bybel te trek en dit aan die kerkvolk voor te hou, asof slegs teoloë die Skrif reg kan verstaan en uitlê.
2. Die Forum betreur dit dat sommige teoloë in hul eie willekeurige vertolking, onder andere die beskouing van Adam en Eva as nie-historiese figure, die kerkvolk mislei en verlei. Deur sodanige vertolking is hulle besig om die hele leer van God se Woord te verwring. Daarmee skep en glo hulle feitlik n ander evangelie. (Vgl Gal 1:6, 8 - 9).
3. Die Forum glo en bely die Heilige Skrif as die Woord van God en aanvaar daarom die absolute, onfeilbare en onveranderlike gesag van die hele Skrif. Daarom verwerp ons die standpunt dat die oorsprong en die letterlike of historiese waarheid van die Bybel nie belangrik is nie, maar dat die belangrikheid van die Skrif geleë is in die uitwerking wat dit op vandag se lesers en hoorders het.
4. Die Forum doen n beroep op kerkrade en kerkverbande wat op die grondslag van die Drie Formuliere van Eenheid staan, om teoloë (lidmate) wat Skrifkrities die Woord vertolk en wat die inhoudelike van die Skrif en Belydenisskrifte aantas en dit verloën, tot bekering te roep en om, indien hulle in hul dwaalleer volhard, die kerklike tug toe te pas.
5. Die Forum is oortuig dat die postmodernisme wat in verklarings van sommige teoloë en standpunte van kerklike kommissies en vergaderings voorkom, waarin homoseksualisme beskou en gepropageer word as nie strydig met die Woord van God nie, n dodelike virus is wat die gesag van die Skrif aantas.
6. Hierdie Forum aanvaar dat die wesenlike eenheid tussen gemeentes / kerke nie bepaal word deur hulle naam of kerkverband nie maar deur hulle onderwerping aan die gesag van die Skrif. Die vashou aan die onfeilbaarheid van die Bybel, soos by hierdie Simposium gestel, moet die saambindende faktor tussen gereformeerdes in Suid-Afrika wees.
7. Die Forum doen n beroep op kerkrade om in die openbaar standpunt teen die Skrifkritiek in te neem sodat dit landswyd bekend kan word.
8. Die bywoners van hierdie Simposium versoek diegene wat dit gereël het, om 'n soortgelyke geleentheid te organiseer waarop ander belangrike implikasies van Skrifgesag aan die orde gestel kan word, sodat die neerslag daarvan tot beskikking kan kom van lidmate van die Afrikaanse Kerke van Gereformeerde belydenis, om sodoende mee te werk aan die toerusting van die Skrifgebonde gelowiges.
| BUNDEL VOORDRAGTE GELEWER TYDENS
SIMPOSIUM: SKRIFGESAG TEENOOR SKRIFKRITIEK 29 en 30 Oktober 1999, te Pretoria FORUM: "DIE BYBEL IS GOD SE ONFEILBARE WOORD" Die betekenis van Skrifgesag vanuit die Ou Testament: Die betekenis van Skrifgesag vanuit die Nuwe Testament: Skrifgesag teenoor Skrifkritiek: n Dogmatologiese Besinning Skrifgesag teenoor Skrifkritiek: Skrifgesag teenoor Skrifkritiek:Skrifgesag gehandhaaf teenoor Skrifkritiek in die
Erediens, met besondere verwysing na die Woordverkondiging Skrifgesag teenoor Skrifkritiek: Gister en vandag, binne kerk en wêreld FEESREDE: Herdenking van Kerkhervorming van die sestiende eeu. R 20 - 00 per eksemplaar (versendingskoste ingesluit) Dit word gepubliseer en versprei deur die administrasie van DIE KERKPAD - Posbus 4237, Pretoria 0001 - Tel / Faks (012) 332 0879 |