Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Sintese... of Antitese?

AKTUEEL:
Die Nuwe Millenium

SKRIFOORDENKING:
Die Evangelie is Gesagsbediening
1 Petrus 1:10:12

Groet of seën by die aanvang van die erediens?

Afgodery met die Woord?

Simposium: Skrifgesag teenoor Skrifkritiek

  • Menslike bewyse of Geloofserkenning?
  • Skrifkritiese stellings dogmatologies besien
  • Mosies wat aanvaar is

God se plek vir die vrou in die gemeente

Ons roeping binne natuurlike verbande

Staan ons nog by die beginsels van Dordt en die stigting van die GKSA?
Verskil tussen Lutherse en Gereformeerde kerksang

Die gelowige en die praktyk van stakings

Daar is ook goeie isolasie

KERKLIKE JOERNAAL: 

OPVOEDING EN ONDERWYS:
VCHO geniet nie meer die goedkeuring van Sinode

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (2)

PERSRUBRIEK: 
Waarheen, NG Kerk?

KOMMENTAAR: 
(1) Prof Faan Denkema oor die 1999 Wêreldparlement van godsdienste
(2)Dr Willem de Klerk se stellings tydens ATKV-Kongres

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (9)
Mag ons toelaat dat ons ontwapen word?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Kloning in die Perspektief van die Christelike geloof.
Die beleid aangaande Kremasie

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 6  November  1999

 

STAAN ONS NOG BY DIE BEGINSELS VAN DORDT EN DIé VAN DIE STIGTING VAN DIE GEREFORMEERDE KERK ONDER DIE SERINGBOOM TE RUSTENBURG?

Vanwaar die drang na die sing van gesange in die erediens?

KOPIE ONTVANG VAN 'N INTEKENAAR/LESER VAN ONS BLAD

DIE HISTORIESE AGTERGROND

a. Die verwikkeling in Nederland

1. Die konvent van Wezel, 1568, was van oordeel dat die berymings van Petrus Datheen in die kerke gebruik sou word "opdat niet door verscheidenheid der overzettingen iets worde ingebracht of tusschen komen dat minder bequaam is, ende minder zoude dienen tot stigtinge.

Opmerking: Die berymde bundel van Datheen het naas die Psalms ook 'n aantal gesange en berymde Skrifgedeeltes bevat asook enkele vrye liedere.

2. Die Sinode van Dordrecht, 1574, het besluit dat die Psalms wat Datheen berym het in die kerke gesing sou word, "mitsgaders de andere Gezangen daar by gestelt, totdat in de generale Synode anders besloten zal worden" (art 43), terwyl die gesang "O God die onse Vader bist" aan die vryheid van die predikante oorgelaat is (art 41).

Opmerking: Hierdie provinsiale sinode aanvaar dus voorwaardelik die sing van gesange naas die Psalms, maar met die uitdruklike voorwaarde dat dit net 'n tydelike reëling is tot tyd en wyl 'n algemene sinode daaroor sou beslis.

3. Die generale Sinode van Dordrecht, 1578, stel die beginsel dan ook baie duidelik dat alleen "de Psalms Davids van Petro Datheno zullen in de Christelyke 't samenkomsten ... gezongen worden, achter latende de Gezangen die in de Heilige Schrift niet gevonden worden" (art 76)

Opmerking: Hierdie sinode stel die beginsel duidelik dat alleen die psalms in die kerke gesing mag word.

Die besluit dat die gesange "die in de Heilige Schrift niet gevonde worden" en wat nagelaat moet word, het nie gehandel oor gesange waarvan die teks nie in die Bybel voorkom nie, maar oor al die gesange wat in die bundel van Datheen opgeneem is - en waarvan sommige wel berymde Skrifgedeeltes was. Alleen die psalms is in die Bybel as liedereboek opgeneem. Die uitdrukking "Gezangen die in de Heilige Schrift niet gevonden worden" het dus betrekking op alle liedere uitgesluit die psalms.

4. Die Sinode van Middelburg, 1581, het die begunstiging van die beryming van Datheen nagelaat, en slegs die beginsel gestel: "De Psalms Davids alleen sullen in de kerken gezongen worden, latende die gezangen die men niet vinde in de heilige Skrifture" (art 51).

Opmerking: Ook hier is nie gehandel oor die vraag of die teks van die lied in die Bybel te vinde is nie, maar oor alle liedere naas die psalms.

5. Die sing van gesange of Skrifberymings naas die psalms is nie deur die kerke nie, maar deur die owerheid ingevoer. In 1583 verskyn die "Kerkelijke Wetten op last der Staten van Holland ontworpen". Artikel 22 van hierdie staatswet vir die kerke lui soos volg: "dat men in de Kercken gebruyken ende singhen sal die hondert vyftigh psalm Davidts, die thien geboden, ende Lofzangen Zacharia, Maria ende Simeons, het geloove ende Vader onse ende anders gheen lofsangen".

Opmerking: Die kerke was destyds in Holland nog onderworpe aan die owerheid. Hier bepaal die owerheid dat die Kerke naas die psalms ook die Tien Gebooie, die lofsange van Maria, Sagaria en Simeon, die Twaalf artikels en die Onse Vader moet sing. Opmerklik egter is ook die bepaling "anders gheen lofsangen". Hiermee sê die owerheid dat die kerke nie ander liedere as bogenoemde mag invoer nie.

6. Die Sinode van 's Gravenhage, 1586, het die beginsels van Middelburg, 1581, nog gehandhaaf met die redaksie van art 26 ko: "De Psalms Davids zullen in de Kerken gezongen worden, latende de Gezangen die men niet en vind in de Heilige Skrifture".

Opmerking: Hierdie sinode beslis: net die Psalms mag gesing word. Geen ander berymings nie. (Sien opmerking by Dordrecht, 1578, voorgenoem).

Die owerheid was egter nie tevrede met die besluit van hierdie sinode nie. Hooyer - 'n outoriteit op die gebied van kerkreg - verklaar: "Bij de approbatie dezer kerkordening lieten de Staten blijken, dat zij hun niet geheel voldeed" (Oude Kerkordeningen, bl 305), maar laat dit deurgaan tot tyd en wyl.

7. In 1591 vergader die verteenwoordigers van die owerheid saam met die Sinode van 's Gravenhage en bepaal dat die liedere soos vervat in die Kerklike Wet van 1583 in die kerke gesing moes word (art 23).

Opmerking: Die toelating van ander liedere as die Psalms alleen is hier in die kerklike lewe geyk in opdrag van die owerheid en terwille van die begunstiging van die kerkorde deur die owerheid.

8. Die provinsiale Sinode van Utrecht, 1612, het in samewerking met die owerheid bepaal dat die volgende in die kerke in daardie ressort gesing moet word: benewens die 150 Psalms, die voorgenoemde lofgesange, geloofsbelydenis, Tien Gebooie en Onse Vader. Ook die volgende: Die Aandlied, O God die onse Vader bist, "mitsgaders soo vele andere Schriftuyrlijcke Lofsanghen ende Christelijke Liedekens, handelende van Christi Gheboorte, Besnijdenisse, Doop, lijden, Sterven, Opstandinghe van den Dooden, Opvaart ten Hemelen, Sendinghe des H. Geestes, etc.", terwyl die invoering van sodanige Skrifberymings moes geskied met voorafgaande goedkeuring van "de Magistraet ende Kerckenraedt van eyder plaetse" wat moes oordeel of dit goed en tot stigting sal wees "tot meerder opweckinghe in gheestelijke aendacht door Jesum Christum den Salichmaker" (Hooyer, bl 405).

Opmerking: Hier vind ons 'n radikale afwyking van alle voorafgaande sinodes se beginsel. In 1612 was die kettery van die remonstrante, wat deur die Sinode van Dordrecht, 1618/1619, verwerp is, in Utrecht al 'n oorheersende krag. Dit was dus nie 'n sinode van 'n Gereformeerde kerk wat hierdie besluit geneem het nie, maar Remonstrante. Om die guns van die ower-heid te bekom, gee hulle hier volmag aan die plaaslike magistraat dat hy mede kan beslis wat in die kerk gesing mag word. Die opmerklike is dan ook dat waar daar afwyking in die leer is, is daar afwyking van die Psalms af.

9. Die Sinode van Dordrecht, 1618/1619 het in die vasstel van die artikel insake die kerklike sang te staan gekom voor die volgende probleme: Eerstens wou die Sinode die suiwer Skriftuurlike riglyn trek. Aan die ander kant was daar die Staatsordonnansies wat bepaal het dat naas die Psalms ook sekere ander berymde Skrifgedeeltes gesing moes word. Die Sinode moes hiermee rekening hou, want hulle het met goedkeuring van die owerheid vergader en verder moes hulle besluite oor die Kerkorde ook deur die owerheid geapprobeer word. Verder was dit ook nog in sommige kerke die gebruik om sekere Evangeliese gesange te sing. In die lig hiervan bepaal art 69 van die Dordtse Kerkorde (DKO) dan ook baie duidelik dat in die kerke alleen die 150 Psalms, die Tien Gebooie, Onse Vader en die Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon gesing sal word. Die gesang " O, God wat ons Vader is" is aan die vryheid van die kerkrade oorgelaat. En dan bepaal die artikel verder: "alle andere Gezangen zal men uit de Kerken weeren, en daar eenige alreeds ingevoert zijn, zal men dezelve met de gevoegelijkste middelen afstellen".

Opmerking: Die Sinode van Dordrecht het geen spesifieke beryming aanvaar nie. ... Hierdie Sinode spreek hom verder sterk uit teen die gebruik of invoering van enige ander berymings as die enkele wat spesifiek genoem word.

(Studiestuk van LS Kruger - Vervolg in volgende uitgawe - red)


Verskil tussen Lutherse en Gereformeerde Kerksang

Prof dr VE  'd Assonville, 24 November 1988

CALVYN se beginsel vir die kerklied was duidelik: die kerklied moet direk God se Woord vertolk. En daarvoor was die Psalms die geskikste en nie die vrye lied nie. Hier sien ons dan die duidelike verskil tussen Luther en Calvyn: By Luther is daar 'n vrye vertolking van die Ou Testamentiese lied volgens 'n Nuwe Testamentiese interpretasie.

'n Baie goeie voorbeeld waarin die verskil uitkom is juis die bekende "'n Vaste burg is onse God". Luther het dit berym na aanleiding van Psalm 46 en dit wyk verskeie kere af van die oorsponklike. Calvyn daarenteen hou hom streng aan die oorspronklike teks as hy Psalm 46 berym.

Hierdie verskil tussen die Luther-se benadering en die Calvinistiese beginsel sou later tot in die twintigste eeu nog steeds duidelik wees. In die Verenigde State van Amerika is aan die begin van hierdie eeu die twee soorte benaderings sterk beklemtoon. Dit het gekom van die kant van die Presbiteriaanse kerke en wel vanuit die destydse streng calvinistiese Princeton Theological Seminary, in Februarie 1907.

Ook is dit merkwaardig dat die Duitse teoloog Heinrich Vogel van Lutherse kant af die saak baie duidelik stel. In sy bundel van vyftig Psalms wat hy in Duits berym het, plaas hy 'n "Nachwort" (nawoord) waarin hy die onderskeid aantoon. Ons som dit kortliks op:

Die Lutherse Psalmdigter sal 'n vrye bewerking van die Psalm in sy geheel gee en dit word 'n "nuwe lied"; die Calvinis daarenteen is geheel en al aan die oorspronklike teks gebonde.

By die Lutherse digter is die vryheid primêr en die teks is die leidraad; by die Calvinis is die gebondenheid aan die oorspronklike teks primêr en daarna kom die digterlike vryheid.

Die Lutherse Psalmdigter doen sy werk Christosentries; die Calvinis beperk homself tot die inhoud van die teks. 'n Goeie voorbeeld kry ons in Heinrich Vogel se Psalms self. Neem byvoorbeeld Psalm 23: Hier noem hy die herder in die Psalm "Herr Jesu Christ" en Psalm 91 eindig hy met die aanspraak: "mein Heiland".

Die begin van hierdie onderskeid moet ons by Luther en Calvyn self gaan soek - by Wittenberg en Straatsburg. By Straatsburg het Calvyn in die Reformasie met die Psalmberyming 'n ander pad as Luther gegaan. Hy het 'n ander beginsel en 'n ander aksent gelë wat verder beheersend vir alle Psalmboeke in die Gereformeerde kerke in die wêreld in onderskeid met die Lutherse sou wees. Tot vandag toe is dit die allerbelangrikste vraag by alle Psalmberymings: wat is die beginsels? ...

Geen bloemlesing nie, maar een styl

Calvyn het nie willekeurig enige Psalm wat voorkom in sy bundel opgeneem nie. Van die Lutherse Psalms, omdat hulle te vry berym is soos byvoorbeeld Psalm 46, voldoen nie aan die vereiste van getrouheid aan die grondteks nie. Daar mag nie 'n vermenging van verskillende soorte Psalmbewerkings wees nie. Dit gaan ook nie om die digter of sy digkuns nie, maar om die Woord. Calvyn begeer 'n Psalmbundel in een styl.