Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
GESPREK MET DIE LESERS DIE EINDE VAN DIE DERDE JAARGANGDit is gepas om vóór alles die Here te dank dat Hy dit vir ons moontlik gemaak het om nou reeds drie jaar te verskyn. Van Hom het ons die seën van gesondheid ontvang, asook die insig en motivering om die werk te kon verrig. Daarbenewens het dit ons nie ontbreek aan die middele wat nodig is om ons blad keer op keer te laat verskyn nie.
Ná die Here, allereers 'n groot dankie aan die lede van die redaksiekommissie, wat met raad en daad bygestaan het en bereid was om die verantwoordelikheid vir die inhoud en verspreiding te deel. Hulle medewerking was in alle opsigte spontaan en ondersteunend. Voorts ons dank aan die ondersteuners en lesers van ons blad. In die besonder diegene wat ruim bygedra het met finansiële middele. Danksy hulle bydraes was ons in staat om Die Kerkpad stewig te vestig binne die verband van die GKSA asook by talle skriftuurlik behoudendes in die verbande van die APK, NGK, NHK en die VGKSA (Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika).
Ook verskyn ons blad nou op Web-bladsye op Internet, sodat dit wêreldwyd gelees kan word. So het ons reeds buitelandse reaksies ontvang. Die volume van die inhoud is ook met agt bladsye vermeerder, sodat die laaste twee uitgawes 28 bladsye elk beslaan het. Dit was moontlik danksy die adverteerders wat bygedra het in die finansiering daarvan.
Ook aan diegene wat van tyd tot tyd kopie gelewer het en op dié wyse die reëlmatige verskyning ondersteun het, is 'n hartlike bedanking werd. Sonder hulle onbaatsugtige medewerking sou ons blad nie kon voorsien in 'n wye verskeidenheid van leesstof en inligting soos wat aangebied is nie. Aan een en almal baie dankie vir die besondere belangstelling, medewerking en ondersteuning van ons blad.
HIERDIE UITGAWE SE LAAT VERSKYNING
In vergelyking met die verskyning van vorige uitgawes het hierdie een ongeveer twee weke later gereed gekom. Die rede daarvan is dat ekself (PvdK) die geleentheid ontvang het om 'n oorsese reis van vier weke na Nederland te onderneem. Daarbenewens die betrokkenheid by die reëlings van die Simposium Skrifgesag teenoor Skrifkritiek, op 29 en 30 Oktober. Alles is nou weer "back to normal" en ons hoop om die volgende jaar weer al ons uitgawes tydig aan die intekenare te laat toekom.
REDAKSIONELE BELEID
Ons volstaan vereers om vir die volgende jaargang weer ses uitgawes te laat verskyn. Ons verneem uit verskeie oorde dat die kopie wat ons publiseer, vir baie van ons lesers genoeg vir twee maande se leesstof is. Daar is ook logistieke probleme om op hierdie stadium meer as een uitgawe per twee maande te versorg. Nogtans bly dit 'n doelwit om in die toekoms ons blad maandeliks te laat verskyn.
ADMINISTRATIEF
In die vorige uitgawe is reeds ver-meld dat die gratis verspreiding van ons blad nou, behoudens enkele noodsaaklike teikenadresse, gestaak word. Diegene wat daardeur geraak word is allereers die kerkrade van die Gereformeerde Kerke (landswyd) aan wie elke uitgawe wat tot dusver verskyn het, gepos is. Dit raak ook diegene wat vir die eerste jaargang ingeteken het maar dit nooit hernu het nie. 'n Rooi plakkertjie verskyn op die eksemplaar van diegene, wat daarmee herinner word aan die versoek vir intekening. Indien daarop nie gereageer word nie, is dit die laaste uitgawe wat hulle ontvang.
Dit blyk dat sommige intekenare nog nie mooi verstaan hoe die rekenaar hulle finansiële bydraes registreer nie. Dit verskyn op die adresstrokie, op die koevert, regs langs die naam van die geadresseerde. Dit is vir die tweede jaargang 'n 2. As dit niks anders as 'n 2 is nie, dan beteken dit dat die derde jaargang nog verskuldig is. Waar dit 'n 3 is, beteken dit dat vir die derde jaargang betaal is, ensovoorts.
Ten slotte bid ons u 'n ryk geseënde Kersfees (Christusfees) en 'n voorspoedige nuwe jaar toe. ®