Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
Hoofartikel
SINTESE ... óF ANTITESE?
Meer as tevore staan die getroue kerk van die Here en sy gelowige lidmate blootgestel aan die kragte en magte van die Satan om soos 'n brullende leeu te soek wie hy kan verslind (1 Pet 5 : 8). Dit is vir Skrifgelowiges nie verbasingwekkend nie. Die Bybel het dit geprofeteer. Die Seun van God sal nie op die aarde weerkom, voordat die geestelike verdrukking onmenslik swaar geword het nie: "En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word" (Matt 24 : 22). Die hewigste aanslag woed op die geestelike front. Dit raak die getroue kinders van God. Dáár slaan die groot teëstander van God toe met al die krag wat aan hom verleen is (2 Thess 2 : 1 - 17). Dit is wat ons tans in 'n mate ervaar met die toenemende relativering en verwerping van die gesag van God se Woord.Paulus waarsku ons om nie gou ons verstand te verloor of verskrik te word nie, asof die dag van Christus al daar is. "Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Thess 2 : 2 - 4).
Dit is die krisis wat mense verward maak sodat hulle nie meer weet wie om na te volg nie. Christus het dit ook voorspel: "Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. ... En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei" (Matt 24 : 5 en 11).
Die belangrike boodskap wat ons hiermee ontvang is om koelkop te bly en suiwer te onderskei of enigiets wat in God se Naam geleer word die toets van sy Woord kan deurstaan. Daarom is die opskrif bo hierdie artikel 'n ernstige vraag aan die troue lidmate van die Kerk. Die Here toon hier die antitese tussen die waaragtige diens aan Hom en dit wat daarmee in stryd is. Dié antitese moet in die eerste plek toegepas word op 'n godsdienstige verskeidenheid, wat almal verbetering van die lewe en 'n persoonlike geborgenheid predik. Ook hulle maak aanspraak daarop om die ware godsdiens te verkondig. So is Allah, volgens die Moslems, die enige God en Skepper van die heelal. Ander glo weer in reïnkarnasie van die menslike siel. Dit hang daarvan af hoe 'n persoon sy lewe geleef het of hy in die volgende lewe 'n hoër status al dan nie sal ontvang. So het elke religie, binne die verskeidenheid in ons land, sy eie geloofswaarhede wat geleer en waarvan die 'gebooie" nagekom moet word. Daar bestaan 'n duidelike skeidslyn, teëstelling of antitese tussen die Bybelse en buite-Bybelse godsdienste. "Watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? (2 Kor 6 : 15, 16).
Geen gemeenskap met die buite-Bybelse godsdienste (afgodsreligies) nie. Maar wat dan van die verskynsel van die vele kerke en sektes, wat hulle almal (reg of verkeerd) die naam kerk toeëien? Daarvan sê die Nederlandse Geloofsbelydenis in artikel 29: "dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is." Die wyse waarop dit getoets kan word? Dié antwoord vind ons in dieselfde artikel, naamlik: "Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf - kortom wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken." Dit slaan duidelik op die saamgaan en saamstaan op die terreine van die kerk en die geloof. Ten aansien daarvan geld die antitese, dat as iemand na ons kom en saam met ons wil gaan, maar nie die gesonde leer wat in die Bybel vervat is handhaaf nie, maar dit betwyfel en in die waan van sy verstandelike vermoë dit kritiseer en sekere dele verwerp: "As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie" (2 Joh 1 : 10).
Tog kan, as gevolg van die gebrokenheid van die lewe en die onvolkomenheid van ons kennis, die kring van die ware kerk wyer getrek word as in een verband uitsluitlik. Kerke funksioneer plaaslik. 'n Kerk in 'n bepaalde kerkverband kan in sy eie gemeente beantwoord aan die toets van die belydenis in art 29 NGB, terwyl 'n ander plaaslike kerk in dieselfde verband dié toets druip. Dit onthef so 'n plaaslike kerk egter nie om in sy wyere kerkverband reformerend te werk en alles te verwerp wat normatief verkeerd is nie. Andersom kan 'n plaaslike gemeente in 'n kerkverband independentisties afwyk van ooreenstemming in die leer, diens en tug van die kerk. Die toets bly maar steeds soos dit hierbo aangehaal is uit die NGB, art 29. Die antitese geld in die kerklike en die publieke samelewing oral waar die gesag van die Here se Woord onaanvaarbaar in die gedrang is. Dan kom daar 'n breekpunt: tot hiertoe en nie verder nie. Daarmee gaan ek (ons) nie langer saam nie.
Die neiging is daar dat Christene wil saamwerk met die sekulêre wêreld, sogenaamd om invloed te kan uitoefen. Dit werk meestal andersom uit. Die wêreld luister na die stem van die valse kerk, die hoer van Openbaring 17 : 18. "Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde". Sodra die antitese die plek inruim vir die sintese verloor die ware kerk van Christus die geloofwaardigheid van sy getuienis teenoor die wêreld. Daarom kán en mág die kerk nie die relativering van Bybelse geloofswaarhede (dogma) duld nie. Daarom geld die skriftuurlike antitese allereers binne dié kerke en verbande wat hulle die naam van "kerk" toeëien. Juis daarom mag die stem van die profesie, die geluid van die basuin, nie stilgemaak word nie. Juis daarom moet die kerklike tug bedien word ten aansien van diegene wat in waanwysheid die gesonde leer verwerp en 'n ander leer as wat God se Woord ons openbaar, voorstaan en propageer.
Die lewe is in talle opsigte gekompliseerd en geïntegreerd. Dit is daarom nie moontlik, ook nie voorskriftelik, om buite die lewe te gaan staan nie. Tog moet in die samewerking met andersdenkendes en ander gelowe die Christelike distansie, die antitese, gehandhaaf word om nie met die afwykende en wêreldse praktyke besmet te raak nie. Die ware Christen glo anders, denk anders, werk anders. Daar is onveranderlike lewensoortuigings wat gefundeer is in die Bybel wat rigting, koers en wysheid verskaf om in die samelewing 'n eie pad te loop sonder om aan die wêreld gelykvormig te word.
Dit geld ook vir die nuwe jaar, die nuwe eeu, die nuwe millennium, wat ons tegemoet gaan. Eenheid in die waarheid, stryd teen die ongeregtigheid. Kortom, geen sintese, geen vereenselwiging met die wêreld nie, maar 'n antitetiese benadering in die kerklike en maatskaplike bestaan. ®