Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
KERKLIKE JOERNAALPROJEK RENAISSANCE
"Ons Nasie opnuut met God"
Een Miljoen Christengelowiges verenig in gemeenskaplike lof en aanbidding 'n halfuur voor middernag op 31 Desember vanjaar asook die onderskrywing van 'n nasionale gedragskode wat duidelik sê hoe Christene in die nuwe millennium gaan leef en getuig.D
ie aksie hierbo word geloods deur persone en instansies wat 'n gesamentlike visie bekendgestel het.Dié visie word gedeel deur Maretha Maartens (redaktrise Finesse), Dr Izak Burger (moderator AGS) Ds Freek Swanepoel (vorige moderator NGK), Dr Bennie Mosterd (NUPSA), Prof Piet Meiring, Adv Leon Wessels, Ds Gebede, Past Honey, Past van Rooyen, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Radio Kansel, Rev dr Dave Pass, Aartsbiskop Wilfred Napier, Biskop Dandala, Aartsbiskop Njangonkulu Ndungane, Past Ray MC Cauley, Ds Cassie Carstens, Dr Fritz Gaum.
Dit word in die vooruitsig gestel om 'n massa byeenkoms te hou op die aand van 31 Desember om die nuwe millennium met 'n "Gedragskode vir Christene" in te lui. "Projek Renaissance is een van die grootste ekumeniese inisiatiewe van ons tyd. Verskeie kerkleiers het reeds hul ondersteuning gegee en die ondersteuningsbasis brei steeds uit. Die heerlike vooruitsig om een miljoen Christen-gelowiges in 'n nasionale gedragskode om middernag te verenig is asemrowend. Die teks van die gedragskode sal in ses tale beskikbaar wees wat Afrikaans, Engels, Zoeloe,Xhosa, Noord en Suid Sotho insluit."
Hierdie aksie is: 'n poging om die taal- kultuur- en godsdiensverskille te oorbrug en die massa in te span vir 'n demonstratiewe eenheid bo geloofsverdeeldheid. In die omstandighede van ons land word die Skepper van hemel en aarde deur 'n multi-religieuse masssa op uiteenlopende wyses aanbid. Dit betref 'n gebedsdiens waarin die enige waaragtige God Drieënig nie volgens die openbaring en leer van die Heilige Skrif geëer en geprys word nie. 'n Politieke ondertoon in die voorgestelde gedragskode is ook sigbaar duidelik aanwesig. Dit blyk onder andere uit die multi-kulturele samestelling van die inisiëerders. Kan ons daaraan deelneem? Ons antwoord is 'n pertinente Nee! Hierdie byeenkoms strek nie tot eer van die Here volgens sy Woord nie. Dit is maar weer 'n poging om die voorgestane reënboognasie geesdriftig te verenig met die lof en prys aan 'n goddelike wese as 'n verhewe motief.