Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
KERKLIKE JOERNAALKLASSIS PRETORIA-SENTRAAL BESLUIT OOR OMDIGTING VAN PSALMBERYMING
Die volgende saak sal as 'n beskrywingspunt namens die klassis dien by die GKSA se Part Sinode Noord-Transvaal:
"Dat die Part Sinode hom uitspreek oor die 'nuwe' Psalmomdigting, in die opsig dat Sinode 2000, DV te Potchefstroom nie 'n finale besluit neem ten aansien van die goedkeuring, aanvaarding en invoering van die 'nuwe' Psalmomdigting nie, totdat alle Psalms deur die deputate voorgelę is vir beoordeling deur die kerke.
Motivering:
1) Die werk aan die omdigting het reeds ver gevorder. Dit is bekend dat meer as 100 Psalms reeds deur TT Cloete en enkele anderes voltooi is. Steeds kon die kerke nie hiervan kennis neem nie en moet daar gewag word vir 'n rapport DV by Sinode 2000. Dit terwyl die ander meewerkende kerkverbande, met name die NGK en die NHK reeds op verskeie wyses die Psalmomdigtings in eie geledere beskikbaar gestel, gesing én selfs bespreek het.
2) dat dit bekend is dat die doel is om die omdigting teen 2001 te druk en beskikbaar te stel. Dit beteken dat die Gereformeerde Kerke 'n volmag aan deputate moet verleen om die werk af te handel terwyl slegs 'n selektiewe fraksie van die werk vir beoordeling aan die Sinode voorgehou word. Deputate tree namens die kerke in die Interkerklike Psalmkommissie op ten einde met die werk te help maar kan nie namens die kerke 'n besluit neem nie. 'n Volmag kan nie verleen word in so 'n belangrike saak nie.
Omdat die invoering van 'n nuwe omdigting veral die Gereformeerde Kerke as Psalmsingende Kerk raak is dit noodsaaklik dat alle kerke, en nie bloot 'n steekproef van kerke, soos deur die deputate bepaal nie, vóór die finale besluit van goedkeuring deur 'n Sinode ten minste alle Psalms ter insae moet hę. 'n Sinode kan nie slegs 'n klein gedeelte van die Psalms beoordeel en daarmee 'n hele beryming/omdigting aanvaar en invoer nie.
3) Daar die 'nuwe' omdigting radikaal verskil van die 1937 Totius-beryming sou dit die juiste weg wees om openheid na die kerke toe te bevorder en is daar geen rede waarom die kerke nie volledig kennis mag neem van die omdigtings nie.Die Sinode 1997 vra immers nie na die werkmetode nie maar wil die finale produk beoordeel."
(Hierdie beskrywingspunt/voorstel is deur die afgevaardigdes van die Klasssis Pretoria-Sentraal eenparig goedgekeur.)