Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
KOMMENTAAR PROF FAAN DENKEMA OOR DIE 1999 WęRELDPARLEMENT VAN GODSDIENSTE Prof Faan Denkema lewer in DIE KERKBLAD van 11 Augustus 1999, bl 10 - 13, uitgebreide agtergrondgegewens met betrekking tot die Węreldparlement van Godsdienste wat in Desember vanjaar in Kaapstad gehou gaan word."In Die Kerkblad van 24 Februarie 1999 is geskrywe oor die Węreldparlement van Godsdienste wat in Desember vanjaar in Kaapstad plaasvind. Ek voldoen graag aan die versoek om meer agtergrondgegewens te voorsien. Die siening dat ons Christene nie onbetrokke van die beplande parlement moet bly nie, het allerlei vrae veroorsaak. Dit is duidelik dat Christene hulle bedreig voel deur die plotselinge verskyning van allerlei nuwe religieuse groepe in ons midde, en onseker is oor hoe hierdie verskynsel beoordeel moet word. Deur 'n bespreking van die nuwe religiositeit wat sedert die sestigerjare na vore gekom het, wil ek probeer bydra tot 'n verantwoorde beoordeling van hierdie parlement", aldus prof Denkema.
Dit is nie moontlik om op 'n enkele bladsy die hele artikel aan te haal wat ons wil kritiseer nie. Ons beperk ons tot 'n paar sake wat prof Denkema daarin vermeld. Ons verwys die lesers wat daarin belangstel om sy artikel in die genoemde uitgawe van DIE KERKBLAD in sy geheel te lees.
" Die prysenswaardige doelwit van die parlement was om weë te soek waardeur die węreld se religieuse en geestelike gemeenskappe godsdienstige geweld kon verminder, kwaliteit van lewe bevorder en bydra tot omgewingsbewaring.
Die volgende drie beginsels sal ook die 1999-samekoms beheers:
Om intergodsdienstige harmonie te bevorder - maar nie eenheid nie.
Om 'n konvergensie (= ineenloping) van doelstellings te bereik - maar nie konsensus (=ooreenstemming) nie.
Om verhoudings en vennootskappe tussen religieuse groepe te skep - maar nie organisatoriese strukture nie.
Op papier klink sulke beginsels mooi, maar dis nie haalbaar in die praktyk nie. Die nege bladsye 'A Global Ethic' oor beslissende etiese beginsels het getoon hoe moeilik dit is om standpunte te formuleer wat aanvaarbaar is vir die 'Covenant of the Goddess' en Baptiste. Die resultaat was 'n dokument wat slegs vra vir vrede en minder onverdraagsaamheid. Die manifes wemel van vae formulerings wat selfs sake soos aborsie en eutanasie vermy uit vrees om ondersteuners te verloor. ...
Die meeste van die 125 groepe wat in 1993 teenwoordig was, moet as Nuwe Godsdienstige Bewegings (NGB's) geklassifiseer word. Die opkoms van honderde NGB's die afgelope dekades toon dat die moderne mens deur en deur religieus is. Die beeld dat die Westerse mens, wat deur die Verligting heen gegaan het, as gevolg van sekularisasie geen religieuse belangstelling meer het nie, is eensydig en verwronge. Die mens mag hom wel losgemaak het van die kerk, maar is bepaald nie a-religieus nie. Hy bly besig met die soeke na antwoorde op die vrae van lewe en dood en na die sin van lewe. ...
Allerlei sekte- en kultegroepe het soos onkruid opgeskiet. Gedagtes van karma en reďnkarnasie word toenemend populęr. In sekere boekwinkels is die afdeling oor esoterisme, okkultisme en New Age baie groter as dié oor die kerk en teologie (vir sover dié nog aanwesig is) Sonder vrees vir teëspraak kan 'n mens sę dat die 21e eeu se hooftema gaan wees: religie".
Tot sover enkele opmerkings van prof Denkema oor die aard van die saak.
"Wat staan gelowiges te doen?" vra hy vervolgens. "Moet ons deelneem aan die verrigtinge van die węreldparlement (daar is 'n ope uitnodiging) of op die wal bly staan en kritiseer? Onder Christene is daar sterk uiteenlopende menings Sommige meen dat 'n Christen teenoor ander gelowiges maar één duidelike taak het: verkondiging van die evangelie en 'n oproep tot bekering. Enigiets anders is verraad aan die evangelie en word as sinkretisme beskou. Ander weer pleit vir dialoog en wil menslik - dus ook Christelik - met ander omgaan. Hulle meen dikwels van andersgelowiges dinge te kan hoor en leer wat hulleself in hulle omgang met God sal help en hulle geloof verdiep. Tussen hierdie twee uiteenlopende standpunte bestaan daar weer allerlei variasies."
Prof Denkema antwoord vanuit 'n "sending-gesigspunt" en is van mening dat "die evangelie nooit en nęrens verkondig kan word as die bereidheid tot 'n werklike ontmoeting en gesprek ontbreek nie. ... Geen getuienis sonder ontmoeting, só sou 'n mens dit kan saamvat. Die omgekeerde geld ook: geen ontmoeting sonder geleentheid tot getuienis nie. Soos ek na ander luister, só luister die ander (hopelik) ook na my. Ons altwee tree in gesprek met ons godsdienstige oortuigings en dit gee aan die Christen die geleentheid om oor sy Here te praat".
Maar is daar plek vir "getuienis" aangaande die God van die Bybel, die Drieënige, enige ware en almagtige God in die hemel en op aarde? Betref die intergodsdienstige gesprek nie vir die ander deelnemers 'n gelykskakeling van godsdienste onder die noemer van religiositeit wat op verskillende wyses beoefen word nie? Stel ons as Christene ons, op die wyse wat prof Denkema voorstaan, nie bloot aan die verskynsel van multi-religieuse gelykheid en wedersydse aanvaarbaarheid nie? Vergelyk daaroor die vermaning van Paulus: "... Watter ooreenstemming het Christus met Belial ...? (2 Kor 6 : 14 vv) God die HERE verklaar uitdruklik in die wette wat ewigheidswaarde besit (Ex 20 : 3; Deut 5 : 7) om "geen ander gode voor sy aangesig te mag hę nie". Daarmee is dit duidelik dat jy nie op 'n voet van gelyke erkenning en aanvaarding van religies kan deelneem aan dergelike demonstrasies van eenheid, van węreldparlemente van godsdienste nie. Dit is geen plek vir evangelieverkondiging nie, maar slegs om jou morele standpunte te stel naas en teenoor dié van die ander religies. In 'n parlement raak jy solidęr en staan jy onder die gesag van die konstitusie wat daar geldig is. Daarenteen bedryf jy sending as jy na die enkelinge in hulle omgewings gaan en dáár die evangelie verkondig en daarná in die samekomste van die bekeerlinge, aspirant lidmate van die kerk van Christus, daarop voortbou. Dit is bekeringswerk, sending (!) en kerkplanting.
Dit is 'n verkeerde gees wat heers by sekere van ons professore, om die verkondiging van die evangelie te soek in die deelname aan die multi-religieuse byeenkomste, soos in die geval van prof Koos Vorster by KODESA II, op 15 Mei 1992, en nou weer die pleidooi van prof Denkema om deel te neem aan iets soortgelyk. Word dit nie tyd dat die kuratore wat belas is met, onder andere, die toesig oor die leer en lewe van die professore, hieroor gaan sit en uitsprake lewer wat die toets van God se Woord kan deurstaan nie? Dit raak ook die standpunt ten opsigte van ander godsdienste, soos byvoorbeeld die Islam, ten opsigte waarvan em professor JA van Rooy, wat Allah, die god van die Mohammedane - al berus dit op 'n swakker kennisvermoë - as dieselfde God as dié van die Christene beskou. Watter gees heers daar by sekere professore van die TS te Potchefstroom? Waarom die hang na dialoog, na die gees van sintese in plaas van na die skriftuurlike antitese? ®