Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Sintese... of Antitese?

AKTUEEL:
Die Nuwe Millenium

SKRIFOORDENKING:
Die Evangelie is Gesagsbediening
1 Petrus 1:10:12

Groet of seën by die aanvang van die erediens?

Afgodery met die Woord?

Simposium: Skrifgesag teenoor Skrifkritiek

  • Menslike bewyse of Geloofserkenning?
  • Skrifkritiese stellings dogmatologies besien
  • Mosies wat aanvaar is

God se plek vir die vrou in die gemeente

Ons roeping binne natuurlike verbande

Staan ons nog by die beginsels van Dordt en die stigting van die GKSA?
Verskil tussen Lutherse en Gereformeerde kerksang

Die gelowige en die praktyk van stakings

Daar is ook goeie isolasie

KERKLIKE JOERNAAL: 

OPVOEDING EN ONDERWYS:
VCHO geniet nie meer die goedkeuring van Sinode

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (2)

PERSRUBRIEK: 
Waarheen, NG Kerk?

KOMMENTAAR: 
(1) Prof Faan Denkema oor die 1999 Wêreldparlement van godsdienste
(2)Dr Willem de Klerk se stellings tydens ATKV-Kongres

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (9)
Mag ons toelaat dat ons ontwapen word?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Kloning in die Perspektief van die Christelike geloof.
Die beleid aangaande Kremasie

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 6  November  1999

MEDIESE ETIEK

 

KLONING IN DIE PERSPEKTIEF VAN DIE CHRISTELIKE GELOOF

DR MC DURAND

Aangesien kloning nòg onvrugbaarheid genees, nòg die lyding wat daarmee gepaard gaan verlig, is dit duidelik dat kloning nie deel van die geneeskunde kan wees nie (hierdie saak is meer breedvoerig in die vorige uitgawe bespreek). In hierdie artikel gaan ons stilstaan by die vraag en dit oorweeg of die daad van kloning al dan nie as sonde getipeer moet word.

Alhoewel kloning nie 'n antwoord op onvrugbaarheid is nie, het dit tog wel te doen met die vermeerdering van mense. Onvrugbare sowel as vrugbare persone, persone binne sowel as buite die huwelik, sal in die toekoms die menslike populasie kan vermeerder deur hulself met gebruikmaking van die tegniek van kloning te dupliseer. As gelowiges wil ons egter weet of die toepassing van kloning vir die totstandkoming van nuwe (mense-) lewe 'n daad van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan die Goddelike opdrag aan die mens om vrugbaar te wees en te vermeerder (Gen 1 : 28) is.

Die opdrag tot vermeerdering is die eerste skeppingsmandaat wat die mens van God ontvang het. Maar hierdie opdrag is geassosieerd met 'n instelling of verbintenis wat beveel is, naamlik die huwelik. Huwelik en die Goddelike bevel tot vermeerdering gaan hand aan hand. Josef antwoord tereg aan Potifar se owerspelige vrou: hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? (Gen 39:9) God dreig Abimeleg met die dood indien hy die huweliksverband van Abraham en Sara sou skend (Gen 20:3). Dit is duidelik dat God die mandaat van vermeerdering verbind aan die huwelik (vgl Gen 2:22 - 24). Enige skending van of indringing binne 'n huweliksverband is derhalwe 'n daad van ongehoorsaamheid. Dit kom ook tot uitdrukking in die sewende gebod van die Tien Gebooie (vgl HK, Sondag 41, vr/antw 108 en 109).

Kloning bring juis die grens wat hiermee gestel word in die gedrang. In die proses van kloning is dit nie net 'n egpaar wat die (elke keer weer) wonderlike seëning van 'n kindjie uit die hand van die Here ontvang nie. Tydens kloning is daar 'n derde party betrokke, naamlik die tegnies kundige. Ten aansien daarvan sou 'n mens aan 'n ginokoloog dink, maar dit is nie volstrek nodig nie, dit kan ook iemand anders in 'n tegnologiese laboratorium wees. Die tegnikus oes 'n eiersel van die vrou en plaas 'n kern van 'n ander sel daarin. Die eiersel met die nuwe kern word daarna gestimuleer om tot deling oor te gaan. Daarna word die delende selle vir verdere ontwikkeling in 'n baarmoeder geplaas totdat die geboorte van die nuwe lewe kan plaasvind (dolly was die produk ná 276 gefaalde pogings). Duidelik het ons in die proses van kloning nie meer te doen met 'n man en sy vrou wat in 'n geslote huweliksverband 'n kind van God ontvang nie. Hier het ons te doen met 'n "kind' (replika) wat in 'n laboratorium as 't ware gefabriseer word.

Die huwelik word nie net geken aan sy geslotenheid nie, maar ook aan sy besonder samestelling. Net soos die geslotenheid deur die moedswillige ongehoorsaamheid van die mens geskend en bederf kan word, so ook die besondere samestelling daarvan. Ook dit kan deur ongeoorloofde handelinge besoedel word. God skep en verbind die mens in 'n huweliksband (Gen 2:18, 21 en 22). God bedoel die huwelik om heteroseksueel, monogaam en permanent te wees (vgl Matt 19:3 - 6). Dit is wat Genesis 2 : 23 en 24 beskrywend impliseer: "Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle sal een vlees wees." Dit is wat Jesus Christus in Mattheüs 19 onmiskenbaar duidelik interpreteer. Die apostel Paulus sluit daarby aan in 1 Korinthiërs 7:2. Dit is binne hierdie besondere verhouding en verband waarbinne die Here die kinderseën skenk. In skriftuurlike sin is dit nie die mens wat "maak" nie, maar die Here wat skenk. Nie die mens nie, maar die Here skenk of onthou die vrugbaarheid binne die heteroseksuele huweliksverband.

Met die toepassing van kloning word die wese van die huwelik aangetas. Kloning voltrek hom nie in die huwelik tussen 'n man en sy vrou nie. Kloning geskied uit 'n stimulus van 'n selkern. Daardeur word die heteroseksuele, monogame en permanente aard van die huwelik betekenisloos. In die tegniek van kloning is die onderskeid en verskeidenheid, die beperktheid en geslotenheid, asook die verband van die huwelik ongeldig. Dit waar God betekenis aan verleen het, dit wat God beskerm, word deur kloning betekenisloos gemaak.

Met die proses van kloning het ons nie met gewone sonde te doen nie, maar met 'n besondere gruwel. Kloning is nie net 'n daad van ongehoorsaamheid nie. Meer as dit! Dit tas die aard van God se skepping aan. Dit wat God goed geskape het, naamlik die betekenis sowel as die band van die huwelik, word deur middel van kloning aangetas en besoedel. Godself verordineer en bewerk vermeerdering in die weg van geboortes (Ps 127:3 en 5; Matt 19:14; 1 Kor 7:3 - 6). Daarenteen verontreinig kloning dit. Daarom is dit pervers.

In 'n volgende artikel hoop ons om hieroor verder te besin.

 

DIE BELEID VAN DIE STIGTING VIR ETIESE MEDISYNE AANGAANDE KREMASIE

Uit die aard van sy beroep sal die geneesheer al sy talente en die middele tot sy beskikking aanwend tot die beskerming en behoud van die menslike liggaam. Daarom sal hy nooit die liggaam van die mens verniel, of deelneem aan die vernieling daarvan nie. Daarom sal hy, wanneer hy aan die fisiologie of die anatomie van die mens verander, dit slegs doen met die oog op die verbetering van die pasiënt se aangetaste gesondheid. Aangesien kremasie die liggaam verniel sonder die hoop op enige verbetering van die liggaam, sal die geneesheer nie daaraan deelneem nie.

Indien gedink word dat bogenoemde ongeldig is, aangesien die arts slegs 'n professionele plig het om die lewende liggaam te beskerm, dan sal dit goed wees dat die arts sy funksies net beperk tot die lewende liggaam en nie die vorms invul vir sake aangaande die dooie liggaam nie.

Buitendien is kremasie sonde, daarom sal die gelowige geneesheer in elk geval nie daaraan deelneem nie.

Die geneesheer sal derhalwe nie die vorms vir kremasie invul of onderteken nie.