Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
OPVOEDING EN ONDERWYS VCHO geniet nie meer die goedkeuring van die sinode,Vriendelikheid ...
Vriende van ons familie vir die afgelope vyftig jaar is nie meer welkom by ons aan huis nie. Hulle adem nog presies dieselfde gees en karakter wat hulle teenoor ons ouers geopenbaar het in die bange dae toe hulle met mekaar n afspraak gemaak het om die pad van hulle gemeenskaplike roepingsvervulling saam-saam te loop. Vriende leef graag gemeenskaplike oortuigings sáám uit. Dit is immers n kenmerk van die huisgenote van die geloof, dat hulle mekaar se bystand en ondersteuning, liefde en vriendskap, opsoek en waardeer! Geen Christen vind dit eties regverdigbaar dat die jong Turke van ons familie nou die ou en vertroude (en getroue!) vriende van die huis af wegskinder en probeer verwilder nie! Natuurlik sal hierdie ou vriende, ter wille van ons ouers, so lank as moontlik probeer om die dwase jonkheidsnuk te ignoreer. n Jongmens wat egter soek na dissiplinering kan met niks minder bevredig word nie.
Baie van ons familielede voel verleë oor die toedrag van sake, maar ter wille van die sogenaamde vrede deins almal terug van die argument wat deurgepraat móét word, naamlik: "waarom gedra jy jou so oneties teenoor ons huisvriende en waarom wil jy hulle nie meer in ons geselskap hê nie terwyl jy hand om die nek loop met andere wat ons ouers se aartsvyande was vanweë hulle Bybel-verdraaiende oortuigings en standpunte?"
Ons is nou Modern
Kleinboet argumenteer dat die Bybel en die Drie Formuliere heel in die haak is dit moet net nie tot aanstoot van die polities-korrekte maters op die voorgrond gestel word nie. Dit behoort mos vir almal genoegsaam te wees as iemand met sy mond sê dat hy n Christen is, al dra sy lewens- en wêreldbeskouing daar geen blyke van nie. Pa se ou vriende wil nie saamsing in dié polities-korrekte koor nie en daarom word hulle nou uitgestoot.
Ons is nou Wêreldburgers
Kleinboet sê dat die Amerikaners hom mooi geleer het toe hy daar was al die mense is nou burgers van die "Global Village" van die "New Age". Dit is nou n vloekwoord om te praat van n mens se Godgeskape identiteit en van sy moedertaal. Nee sien, almal in die wêreld moet solidêr n eenheid vorm. Die een struktuur (uiterlik) is die moderne wêreld se nabootsing van wat die Bybel (en die ou mense soos pa-hulle en hulle vriende) noem die eenheid van die gelowiges.
Kleinboet sê die "New Age"-eenheid is baie beter, want daarin kan verloopte Christene en wilde wêreldlinge op humanistiese gronde mekaar heerlik vind. Pa se dom ou vriende wil nie met hierdie wysheid vrede maak nie en daarom is hulle vir ons jong Turke n gevaar hulle kan ons poging om die jong geslag te oortuig dat hulle ons namaaksel moet koop, sleg in die wiele ry.
Misleidings en Leuens
n Godsdienssousie is noodsaaklik, vir die oëverblindery. Iets soos twintig minute per week in n kind se eie godsdiens op skool is meer as voldoende, voel Kleinboet en al sy matertjies. Dat ons kinders in die skole vir die volle werksweek gebombardeer word met lesinhoude wat teen die Bybelopenbaring uitskreeu, is vir dié liberale jeug geen probleem nie. Uiteindelik wil hulle tog almal by een wêreldvolk uitkom wat tog nooit Christelik en Bybelgetrou kan of mag wees nie!
Die volk slaap voort. Oupa en Ouma word uitgerangeer. Ook die Skrif en die Belydenis. Vrome woorde vervang oorgegewe, gelowige harte!
Belangrike MENSE klim op hulle seepkiste en skreeu dat oupa en ouma en pa en ma nog nooit gehoorsaam was aan die Here om armes te versorg, die verdruktes los te maak en die evangelie te verkondig nie en ek sien ry op ry gelowiges opstaan uit Nigerië, Malawi, Transkei, Vaalhartsskema, Kanoneiland, en someer en húlle sê: maar julle lieg mos nou allerverskrikliks!
Die Kerk en sy lidmate is vinnig besig om deur sy beheerstrukture hulleself onder regeringsdiktatuur te stel. Die sake wat die regering nie wil hanteer vanuit sy ideologiese onmag en sy revolusionêre lojaliteite nie soos reg, vrede, morele kwessies word nou die Kerk se alleenverantwoordelikheid. Die Kerk se leiers val plek-plek in met dié polities-korrekte voorskrifte,
MAAR
Wie moet dan ?
onder die Afrikanervolk die Woord van God bedien, ook tot húlle redding! Elke volk het mos sy geroepe Christene om in eie taal, volksaard en gewoontes die skepsele van die Here op te roep tot geloof in en gehoorsaamheid aan die Drie-enige God en Sy Woord alleen. Hieroor sal die Afrikanervolk homself aan God moet verantwoord!
- Wee diegene wat iemand probeer verhinder om God se Woord as roeping, gehoorsaam uit te voer!