Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
PERSRUBRIEK WAARHEEN, NG KERK? Onder die bogenoemde opskrif skryf Dr Sampie van Vuuren (NG Kerk Witfield) in die rubriek "Vuurhoutjie" in DIE KERKBODE van 3 September 1999 (bl 7) die volgende wat ons met instemming ter kennisname van die lesers hier publiseer.Dit sou 'n fout wees om die besluit van die Algemene Sinode oor kinders se deelname aan die nagmaal in isolasie te sien. Daardie ingrypende besluit is die kulminasie van 'n reeks verskynsels wat die koers wat die NG Kerk inslaan, duidelik aantoon.
'n Paar jaar gelede is by teologiese saamtrekke die gedagte sterk gestel dat die NG Kerk baie meer 'lidmaatvriendelik' moet word. Wesenlik het dit daarop neergekom dat hy kerk van die mense moet word. Hy bestaan nie meer ter wille van God nie; die mens en sy behoeftes het hoofsaak geword. Die kerk wat die mens se behoeftes voorop stel, is 'relevant'.
Ook die Bybel het meer 'mensvriendelik' geword. Daar is ontdek dat die Bybel 'n menslike boek met foute is en dat versigtig gepraat moet word oor die 'gesag' daarvan. By 'n predikantebyeenkoms is dit só gestel: vir die regte uitleg van byvoorbeeld Joh 3 : 16 moet 'n paar predikante saamkom en konsensus bereik oor die uitleg daarvan, met die moontlikheid dat hulle ook verkeerd kan wees. ... Die gereformeerde belydenisskrifte word ook al hoe meer in die teologiese opleiding en kategese afgeskaal.
Om byderwets te wees, is die eredienste in baie gemeentes verruil vir konserte met orkes, groepsangers, soliste, oppervlakkige liedere en al. Die maatstaf vir 'n lewendige erediens is nie meer die gelowige saamluister na God se Woord nie, maar mensstrelende jolige sang.
Hierdie mensgesentreerde sogenaamde 'lofprysingsgeleenthede' het 'n bydrae gelewer tot die prysgawe van geografiese gemeentegrense. Lidmate is dan volwasse genoeg om self te besluit waar hulle tuisvoel. Ongelukkig is hulle nie volwasse genoeg om aan te pas en 'n bydrae te lewer in die gemeentes waarin Gód hulle gestel het nie. Die tragedie is dat die opsig en tug van die plaaslike gemeente, wat weet hoe die lidmaat leef, daarmee prysgegee is.
Hoe onbelangrik orde in die kerk deesdae is, word geďllustreer deur die toepassing van die Algemene Sinode se besluit oor gemeentegrense deur predikante, kerkrade en ringe. Die besluit lui duidelik dat dit gaan oor uitsonderlike gevalle met bona fide-redes. In talle gemeentes en ringe is geografiese grense egter totaal afgeskaf. Een predikant uit so 'n ring het dit so gestel: 'Julle moet bykom, man, julle bly agter! Die NG Kerk is op pad!'
Op pad waarheen?
Die gereformeerde oortuiging van die 'heiligheid' van die sakramente (HK vr/antw 69 en 75; 1 Kor 11 : 27 - 32) is volledig prysgegee. Dit het reeds begin met die besluit oor die 'oop' nagmaalstafel (algemene Sinode 1994). Tipies Westers-individualisties is die gereformeerde beginsel van die gemeente se toesig oor die tafel van die Here oorboord gegooi. Die enigste maatstaf vir die heiliging van die nagmaal is die lidmaat se 'vrymoedigheid' om aan te sit. Dis nie meer die Here se verbondsgemeente wat deel in die feesmaal nie, maar losstaande Christen-individue.
In die lig van dit alles was die besluit om kinders tot die nagmaal toe te laat, ten minste die konsekwente gevolg van die rigting wat die kerk ingeslaan het. Daar is 'ontdek' dat die gereformeerde verlossings- en sakramenteleer onbybels is en dat die gereformeerde vaders die belydenisskrifte, wat hulle self opgestel het, verkeerd geďnterpreteer het. Volgens die besluit van die Algemene Sinode is die nagmaal nie meer die feesmaal van God se verbondsgesin nie, maar 'n 'gesinsmaal' van afsonderlike gesinne.
Dit is interessant dat kinders enersyds volwasse genoeg is om ten volle te deel in die nagmaal van die Here, maar andersyds so onvolwasse is dat hulle 'n eie 'jeugsangbundel' nodig het!
Die vraag wat ten grondslag van hierdie verskynsels lę, is natuurlik belangrik: hoe oorleef 'n Christelike kerk in die postmoderne węreld? In Junie 1959 het ek in 'n artikel in Die Kerkbode 'n perspektief op hierdie vraag probeer gee. Ek sluit daarby aan.
In die Protestantse kerke in die węreld word twee basiese oplossings vir ons vraagstelling gebied.
Die kontekstualisasie-benadering.
Hierdie rigting maak die mens in sy daaglikse kontekstuele nood die uitgangspunt in die
oordra van die evangelie. Die Bybel word beskou as 'n kultuurgebonde, menslike boek vol
foute en moet so aan die mense oorgedra word. Vanuit hierdie rigting vloei die gedagte dat
die kerk die mens slegs kan bereik as hulle die Woord by die mens aanpas en die metodes
van die węreld gebruik in die aanbieding daarvan.
Die evangeliese benadering. Hierdie rigting stel God en sy Woord sentraal en benader die mens en sy nood vanuit die Woord. Die kerk moet die Woord as God se spreke na die mens uitdra. Die kerk se roeping is om die Woord te verkondig, en nie om dit aan te pas by die mens nie!
Die NG Kerk het sedert sy stigting 'n sterk evangelies-gereformeerde karakter gedra. Vir baie predikante maak daardie karakter nie meer sin of saak nie. Trouens, dit het vir hulle 'n remskoen geword wat die kerk verhinder om byderwets te wees. Ons vind dan hierdie skisofrenie in die kerk: daar is 'n element van kontekstualiste wat die kerk in hulle rigting dwing, terwyl daar 'n kern van evangelies-gereformeerdes is. En tussenin huiwer lidmate in onsekerheid en verwarring.
Die NG Kerk kan nie bekostig om hierdie toestand oogluikend te aanvaar nie. Die feit is dat die twee rigtings onversoenbaar is, veral ten opsigte van hulle Skrif- en belydenisbeskouing.
Hierdie saak is so ernstig dat dit dringend op die tafel van die Algemene Sinodale Kommisssie hoort. Maar dit het ook tyd geword dat kerkrade die koers wat die kerk nou inslaan, goed bekyk en vir hulleself uitmaak waarheen die kerk op pad is, en of hulle bereid is om daardie pad te loop. Elke predikant staan voor die belangrikste keuse van sy bediening: kontekstualisasie met sy wrange vrugte, of gereformeerd-wees?