Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 6 November 1999
REDAKSIONEELDie einde van die jaar en tegelykertyd dié van die 20e eeu lê om die draai. Die vraag of die tyd wat daarmee geskiedenis word, volgens ons oordeelsvermoë goed of verkeerd was, sal allereers in die lig van God se Woord beantwoord moet word. Dan is die eerste toets of ons getrou bevind mag word. Het ons, elkeen van ons, genoeg gedoen om die geestelike en stoflike erfenis wat die Here aan ons toevertrou het te bewaar en te behou?
In die perspektief van die geloof is die antwoord verdoemend. Sedert die begin van hierdie eeu is daar 'n ontsettende verval in die getrouheid aan die uitlewing van die Christelike geloof. Dit geld vir die kerke wat die Gereformeerde belydenisskrifte handhaaf in die besonder. Die drang om buite die veilige"oewers"te tree van die suiwere Woordverkondiging, die bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het en die waghou teen die afwyking in leer en lewe, deur middel van die kerklike tug, het ons saamgesleur in 'n proses van relativering van norme en waardes wat daardeur aan betekenis ingeboet het.
Wat ons volk en land aangaan, het ons die vryheid vir politieke selfbeskikking wat ons in 1948 teruggewen het, in 1994 opnuut verloor. Ons staan nou teenoor 'n oormag van volksvreemdes wat oor ons regeer en wette uitvaardig wat uitgaan van "menseregte" in plaas van God se regte. Voorwaar, geen verblydende terugblik op wat verbygegaan het nie.
Een groot troos: Die toekoms is in God se hande, Sy Woord en beloftes hou stand in ewigheid. Hy vra van ons slegs om getrou te wees, om vir Hom en sy diens pal te staan, ook in die jaar van ons Here, 2000.
Mag Hy ons daartoe versterk in die geloof! ®