Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Evolusionisme en Skrifkriftiek

AKTUEEL:
Akademici en studente van PU vir CHO sluit aan by ANC

SKRIFOORDENKING:
Die Here se vereistes vir ware reformasie van sy kerk

Skrifkritiek: 'n Dodelike kanker?

Is beroepsport 'n beroep waaraan Christene vrylik kan deelneem?

Islam en sy profeet, Mohammed

Liturgiese sang

Ingrypende Reformatoriese verklaring van die NG Kerk Brakpan-Suid

Die skool van die Kerk gedurende die oorlog

Is kommunisme dood?

Die Goddelike kultuuropdrag in die konteks van grondbesetting in Suidelike Afrika

Godsonterende uitlatings op Radio 702

KERKLIKE JOERNAAL: 
"Bergbron Lewe!"

Skokkende berig en brief in Beeld oor kerklike besluite en teen gesag van die Bybel en belydenisskrifte

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Reformatoriese erfenis en roeping op onderwysgebied

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Slot

PERSRUBRIEK: 
Ordelike liturgie


Kategese deur die Kerk

Lotery

KOMMENTAAR: 
Die bydrae van (Beroep-)sport

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Bybelse Etiek

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 5  September 2000

SKRIFKRITIEK:  'N DODELIKE KANKER

DS DJ MALAN  -  LINDLEY EN STEYNSRUS

1. ROERINGE:
Net die noem van die woord ''Skrifkritiek", veroorsaak roerings in die Gereformeerde Kerke.

Daar is tydens die afgelope Nasionale Sinode in die wandelgange versoeke gerig aan sommige sinodegangers om tog net nie tydens die Sinode aantygings te maak dat Skrifkritiek sigbaar word in die GKSA nie, aangesien verteenwoordigers van ander Gereformeerde Kerke in die wêreld, ook daar teenwoordig is en juis probeer oordeel of hierdie kanker reeds in die GKSA aan die broei is.

Die debat in ''Die Kerkpad" en ''Die Kerkblad" oor hierdie saak bevestig dat dit ‘n baie sensitiewe saak is.

Die feit dat die GTV ‘n tema kies wat ons waarsku hoe ons praat en wat ons sê rakende die Gereformeerde Kerke in SA, as liggaam en bruid van Christus, wys dat ons op soek is na riglyne waarvolgens ons gesprek met mekaar, oor hierdie en vele ander temas, sinvol en opbouend kan plaasvind.

Skrifkritiek is egter een van die dodelikste kankers wat in die Kerk van Christus kan begin wortelskiet, omdat dit gerig word op, en posvat onder, getroue kerklidmate, en dus die kerk van binne uit rysmier.

2. WAT IS SKRIFKRITIEK?
Ons kan dit opsom deur te verwys na die NGB, artt 1 tot 7, maar veral artikels 4 en 5: Skrifkritiek tas hierdie artikels in ons Belydenisskrifte direk aan. In die besonder is art 5 wat soos volg lui, in die gedrang.

Art 5: Die Gesag van die Heilige Skrif
Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daariop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulle self, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

 3. DIE WORTEL VAN DIE PROBLEEM.

Skrifkritiek kritiseer of ontken dus, op 'n verskuilde of op 'n direkte wyse, die Goddelike gesag van die Woord van God. Dit beteken nie dat die gesag van die hele Woord van God eers in gedrang moet wees voordat daar gepraat kan word van Skrifkritiek nie. Selfs as die Goddelike gesag van net 'n klein gedeelte daarvan in gedrang kom, is Skrifkritiek ter sprake. Daarom die belydenis, NGB, art 5: ''Ons glo sonder twyfel alles wat daarin vervat is…". (klem: DJM).

4. DIE TAKKE WAT DAARUIT VOORTKOM.
Uit die wortel groei die volgende dwaalleer takke: (Vergelyk NGB, artt 1 - 7):

4.1 Byvoegings tot die Woord, met dieselfde of hoër gesagswaarde:
Daar word bygevoeg tot die Woord van God, in die sin dat buitebybelse gegewens, soos vervat in die Apokriewe boeke, (NGB, art 6: ''Onderskeid tussen die Kanonieke en Apokriewe boeke"), of in die kultuur-historiese agtergrond van die eerste lesers of van die skrywer, bygetrek word, met dieselfde of selfs hoër gesagswaarde as van die Heilige Skrif self. Dit raak dus dadelik ook artikel 7 van die NGB aan: ''Die volkomenheid van die Heilige Skrif", omdat daar geoordeel word dat buitebybelse gegewens noodsaaklik en 'n voorwaarde is, om die Woord van God te kan ''interpreteer". (Let wel: nie verklaar nie!).

4.2 Onduidelik verstaanbaar, omdat God dit nie Self geskryf het nie. Skrifkritiek probeer deurgaans bewys dat die Woord van God nie duidelik genoeg is nie en dat ons dit teen 'n spesifieke, buitebybelse, menslik gekleurde, kultuur-historiese agtergrond moet lees en ''interpreteer", alvorens die ware betekenis na vore kom. In wese is die Woord van God dus ''onduidelik" en verklaar dit nie homself nie. God het dus in effek onduidelik of onvolledig geskryf, of dit glad nie geskryf en deur sy Heilige Gees geïnspireer nie, maar dit oorgelaat aan mense, wat foute gemaak of dit kromgetrek het. Hierteenoor is die NGB, artt 3 en 7, helder duidelik:

5.1 Die maatstaf is rasionele verstaanbaarheid en wetenskaplike bewysbaarheid:
Satan oortuig skrifkritici dat die maatstaf van ware godsdiens geleë is in die rasionele verstaanbaarheid en wetenskaplike bewysbaarheid van dit wat in die Woord van God staan. Die Goddelike gesag van die Woord van God word dus stadig maar seker verswak en later ontken, tot voordeel van die humanistiese verabsolitering van die rasionele of die moderne wetenskap. Slegs dit wat die menslike verstand kan begryp of dit wat die wetenskap kan bewys, word as ware Woord van God aanvaar.

5.2 Interpretasie vervang verklaring:
Skrifkritici ''verklaar" nie die Woord van God nie, maar ''interpreteer" dit. Enige interpretasie het egter 'n vertrekpunt buite die objek wat geïnterpreteer word. In die geval is dit gewoonlik die mens se ''gevoel of gemoed" wat die maatstaf word van wat wél en wat nie God's Woord is nie. Die vertrekpunt is dus nie die Woord van God self, wat Goddelike gesag dra nie, maar die wisselvallige emosie van die mens, wat van persoon tot persoon en van tyd tot tyd bepaal wat in die Woord van God jou ''aanspreek" en wat nie. Slegs dit wat jou ''tref" en ''aanspreek", is dus Woord van God. Dit kan daarom, as gevolg van die wisselvalligheid van die menslike emosie, van persoon tot persoon en van dag tot dag verskil. Daarenteen is die ware toedrag van sake die ''verklaring" van Gods Woord. Dan is die vertrekpunt die Woord self, omdat God sy eie Woord verklaar deur sy Woord en Gees.

Kultuur-historiese agtergrond:
Skrifkritiek gaan meestal uit van, of interpreteer Skrifdele, vanuit die kultuur-historiese agtergrond van die betrokke teks of die skrywer daarvan. Dit grond nie die verklaring van die Woord van God op suiwer eksegese deur middel van Skrif met Skrif vergelyking nie, maar gebruik as vertrekpunt buitebybelse gegewens, wat nie Goddelike gesag dra nie, en nie noodwendig korrek is of van toepassing hoef te wees nie. Dit dra dus in wese humanistiese gesag en is spekulatief, ongegrond, onvas en in baie gevalle onwaar. Kultuur-historiese agtergrond is wel bruikbaar solank Skrif, Skrif verklaar en kultuur-historiese agtergrond dit ondersteun. Daarom moet ons mooi besin of ons die regte pad loop met talle onderwerpe waaroor studiedeputate in opdrag van die kerkverband tans studeer.

5.4 Die Teologie moet sogenaamd voortgaand ontwikkel en aanpas by die moderne tyd en die menslike wetenskappe.
Skrifkritiek buig die Woord van God om te sê wat die moderne hoorder graag wil hoor, en om aan te pas by die ''snel ontwikkelende moderne tydvlak". Daar word uitgegaan van die valse veronderstelling dat aangesien alle menslike wetenskappe ''groei" en ''ontwikkel", teologie soortgelyk moet ''groei" en ''ontwikkel", omdat dit na bewering in alle opsigte gelyk en eenders in wese aan alle ander menslike wetenskapsvelde is. Baie teoloeë, veral hulle wat besig is met verdere studie, of profesore wat diegene begelei op die studiepad, voel dus verplig om deurlopend in pas te bly, en selfs te kompeteer met die snel ontwikkelende menslike wetenskappe. 'n Grootse uitdaging vir diegene is om voortdurend ''iets nuuts gesê te kry" wat die moderne mens kan ''verbaas" en ''positief stem" om betrokke te bly, of betrokke te raak, by ‘n nuwe moderne kerkpraktyk, wat inpas by die humanistiese denkwyses en dagprogramme van ons tyd. Die beginsel dat die Woord van God nooit oud word nie, en altyd aktueel sal bly, en dat daar geen ontwikkeling of groei in die Woord van God kan wees nie, omdat dit afgeslote, volledig en volmaak is, word vandag al meer ontken of bevraagteken.

5.5 Menslike geskrifte in die Woord, of eerder stukkies Woord van God, temidde van hoofstukke ''mensetaal''.
Skrifkritiek verander dus die ewig vaste, ewig geldende, en ewig aktuele, Woord van God, wat afgesluit, volmaak en voldoende is vir ons geloof en redding, (vergelyk die NGB artt 1 tot 7 en die bevestigingsformuliere van kerkraadslede, predikante ensovoorts), na 'n grotendeels menslike geskrif, wat hier en daar wel ''Goddelike waarhede" bevat. Verder word hierdie ''nuwe Skrifkrities waarhede" op dieselfde wyse en trant as ''opspraakwekkende" media-berriggewing weergegee en oorgedra, en aan elke hoorder die geleentheid gegun om self te besluit wat hom / haar tref, om dit dan as Woord van God te kies. Die res van die Woord word geag as gewone mensetaal, sonder enige gesag.

5.6 'n Sistematiese, strategiese plan van Satan:
Skrifkritiek is ‘n uiters slim en fyn uitgewerkte sistematiese strategie van Satan, om vanuit die kerk self, die gesag van die Woord van God, en so vir God self, algaande af te takel, en om sodoende die speelveld van die opkoms van die Antichris gereed te maak. Dit het jare gelede is Suid Afrika begin met ''onskuldige" nuwe idees rakende ''minder belangriker" onderwerpe en begrippe, maar het nou aangegroei tot 'n grootse monster wat daagliks, ''ongemerk" sy tande inslaan in die vleis van die Liggaam van Christus. Voorbeelde van die doelgerigte groei van Skrifkritiek oor die afgelope aantal jare is:

5.6.1 Daar is weggespring deur gebruik te maak van die begrippe: ''storie", ''verhaal" of selfs ''fabel", om die Bybelgeskiedenis mee te beskryf. Dit verlaag die Goddelike gesag van die Woord van God, tot menslike gesag, of selfs tot dieselfde gesag wat die ''storie van Rooikappie" dra.

5.6.2 Daarna het die Evolusieteorieë begin opgang maak, wat vandag 'n magtige en oortuigende medium van verspreiding, deur middel van TV, veral deur middel van programme soos ''Discovery", en die talle ''fiksie-ruimteprogramme" op die op die skottel TV is.

5.6.3 Daarna is onder andere verklaar dat Jona nie werklik vir drie dae in die vis se maag was nie, en dat Noag nie werklik die ark gebou het en al die diere daarin laat klim het nie.Dit is gewoon as wetenskaplik onmoontlik afgemaak, en as ''Bybelse fiksie" verklaar. Daardie gedeeltes word ook ''Ou Testamentiese gelykenisse" genoem. Selfs hemel en hel bestaan nie werklik nie.

5.6.4 Daarna het die ontkenning van die bestaan van Satan stadig gevolg. Aanvanklik is beweer dat Satan 'n menslik uitgedinkte ''skim" is, wat reeds in die Bybelse tyd ontstaan het. Die mense van die Bybeltyd het sogenaamde siek en sat geraak het om gedurigdeur as sondaars aangewys te word. Daarom is ‘n oorsaak of beginbron van die sonde gesoek, en so het die idee van ''Satan" tot stand gekom. Hierdeur kry die mens dus geleentheid om die vinger terug te wys na Satan as die sondebok, telkens as die onderwerp, ''sonde", geopper word, en word die mens bevry van sy skuld, sonder en buite Christus om. Dit lê die basis om later vir Hom te kan uitskuif uit sy ''verlossingsrol", na bloot 'n groot menslike profeet.

5.6.5 Vandag word die dwaalleer aangaande Satan verder gevoer deurdat beweer word dat God slegs 'n God van liefde en genade is, en dat alle mense in werklikheid gered word. Daar word beweer dat ons ons moet weerhou van die dwase en valse leerstellinge, naamlik: dat die mens gesondig het, en dat daar ‘n Satan bestaan wat enigsins ‘n negatiewe invloed op die mens kan uitoefen. Die kernboodskap van die Woord van God word afgeskaal deur te beweer dat dit slegs behels dat God die mense, wat aan Hom vashou, met sy liefde omvou en dat enige gedagte rakende 'n werklike ''bose mag", inbreek maak op die realisering van die liefde van God tot die mens. Die Woord van God word so verklein tot slegs dit wat ''positief" en ''opbouend" en ''liefdevol" is. God haat niks of niemand nie, God oordeel niks of niemand nie, en God is nie in stryd met enige bose mag of magte nie. Die een deel van die verbond word dus afgesny , en slegs God se beloftes bly oor. God se verbondsoordele en sy verbondswraak word as dwaal-leer voorgehou.

5.7 NAGEVOLGE:
Satan slaag in sy doel, deur die Kerk van Christus te oortuig dat hyself nie bestaan nie, nie gevaarlik is nie, nie bedreigend is nie, en in werklikheid niks is nie. Dit maak die pad wyd oop vir die aanvaarding van alle gode as een en dieselfde "God". Dit is in wese ook die kern van die Nuwe Era Beweging, wat leer dat daar geen reg of verkeerd, geen waar of vals, geen skeiding tussen ware God en afgod, geen skeiding tussen ware kerk en valse kerk, ensovoorts, is nie. Die speelveld vir die koms van die Antichris word hier-mee gebaan.

5.8 WAARHEEN OP PAD?
Die noodwendige uiteinde van Skrifkritiek is: Die ontkenning van Christus as God, en selfs die ontkenning van God as die enigste ware lewende God. Die vraag moet dus vandag aan die aanhangers van Skrifkritiek gevra word hoe hulle kan bewys dat God bestaan, as aanvaar moet word dat Satan nie bestaan nie!

6. DIE GEREFORMEERDE KERKE?
Daar is al talle mondelinge en skriftelike bewerings geopper, gedurende die afgelope jare, dat Skrifkritiek reeds besig is om te ontkiem in die GKSA. Dit is ook so dat sekere buitelandse kerke wat met ons in korrespondensie is, (in een kerkverband staan), daaroor bekommerd is. Daar ontstaan selfs ‘n mate van spanning en ''vyandigheid" tussen gereformeerdes onderling rakende hierdie beweringe. Mag ons van hierdie dwaalleer bewaar bly, en mag God deur sy Woord en Heilige Gees ons lei om te reformeer.

7. OPROEP:
7.1 Dat alle lidmate van die GKSA, dringend gewaarsku word teen hierdie ernstige dwaalleer, naamlik: SKRIFKRITIEK, wat met rasse skrede toeneem, en deur middel van verskeie media, nou openlik aan die Kerk van Christus verkondig word.

7.2 Dat kerke versoek word om op soveel moontlik maniere die dwaalleer te beveg en te help om dit uit die kerk te weer, deur byvoorbeeld in te skakel na inbelprogramme op die radio en TV waar Skrifkritiek openlik verkondig word, en die waarheid teenoor die dwaalleer te verkondig, of om skrywes te rig.

7.3 Dat kerke versoek word om deur middel van self-evaluering seker te maak dat die dwaalleer nie reeds in die gemeente posgevat het nie en om die lidmate dringend toe te rus om die die dwaalleer te kan herken en dit te kan beveg.