|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
IS BEROEPSPORT 'N
BEROEP WAARAAN CHRISTENE VRYLIK KAN DEELNEEM?
'n Etiese besinning
DS BC SMIT - BRITS-WES
WERK EN RUS
In die eerste aflewering oor hierdie onderwerp onder die opskrif "IS BEROEPSPORT N BEROEP WAARAAN CHRISTENE VRYLIK KAN DEELNEEM" (Die Kerkpad, Mei 2000, bl 7) is gewys op talle vrae wat opduik wanneer daar oor besin word oor beroepsport. Om op hierdie vrae te antwoord word gebruik gemaak van n aantal sentrale perspektiewe van n Christelike arbeidsetiek soos uiteengesit deur Prof. JH van Wyk. (In die Skriflig 30(2) 1996: 155-183)Sport as diens aan God: Teologiese perspektief
Omdat arbeid diens is wat verrig word in opdrag van God, (Gen 1 en 2) is verantwoording aan Hom verskuldig vir die arbeid wat verrig word. In hierdie geval daarom verantwoording oor die arbeid van sport wat as beroep beoefen word. Sportmanne moet in hulle arbeid die kenmerke vertoon van n werkende God. En daarmee staan ons onmiddelik voor die eerste beswaar teenoor beroepsport, want sport is n spel. n Aktiwiteit van menslike ontspanning en rus en daarom wesentlik anders as arbeid. Eerder as om beeld te wees van n werkende God, straal beroepsportlui die beeld uit van n spelende god.
Arbeid is ook n roeping. Aktiwiteit waartoe God die mens stuur. En dit roep die vraag op: stuur Hy wel ook mense om te speel as roeping? Of is dit die drogbeeld van "werk" wat die mensdom los van God vir homself gemaak het?
Arbeid moet in die derde plek ook gesien kan word as koninkryksdiens. Wat die mens doen, wat hy werk, is godsdiens. Dit sou dan inhou dat ook sport, wat af-leiding vir die moeë menslike siel behoort te wees, onregmatig tot godsdiens verhef word. Kan iemand wat spel sy lewenstaak en daaglikse arbeid gemaak het God se seën verwag as genadeloon?
Sport as lewensvoorsiening en selfontplooiing: Individuele perspektief
Arbeid is gerig op lewensonderhoud en lewensgenieting. Dit is genade wanneer die mens sowel sy ar-beid as die vrugte daarvan kan geniet. Wanneer plesier en selfverryking egter die oorwegende motief geword het van jou arbeid, is dit niks anders as egoïsme nie.
Terwyl die wenmotief so sterk klem ontvang in beroepsport (jou salaris word ast ware bepaal deur die prestasies en sukses wat jy behaal ten koste van ander) is beoefening van die beroep niks anders as arbeidsegoïsme nie. Die beroepsportman slaag moontlik wel daarin om sy liggaamlike vermoë te ontwikkel, maar God en die naaste verdwyn totaal uit die gesigveld.
Beroepsport as Naastediens: Sosiale perspektief
Arbeid behoort n drieërlei gerigtheid te hê: dis gerig op God en sy eer ten eerste, in die tweede plek ook op selfonderhoud, maar dan ook nog op die naaste en veral die behoeftige naaste. Beroepsport wat oor die algemeen afgestem is op selfverryking en beoefen word sonder n oog vir die die naaste, is daarom immoreel en egoïsties. (Vgl Ef. 4:28). Om daarom n sportkliniek in n arm woonbuurt aan te bied as deel van n toer wat miljoene Rand inbring, en dit dan nog met groot geskal in die media bekend te stel, is geen naastediens nie, maar selfdiens.
Sport as natuurbeheersing en kultuuropdrag: Kosmologiese perspektief
Die opdrag van die Skepper dat die mens die skepping moet bewerk, dit moet beheers en met verantwoordelikheid teenoor Hom ontplooi, roep net soos die vorige motiewe ook vrae op oor sport as n beroep. Hoewel gewys kan word op die oprigting van sportstadia as produk, moet die geweldige rommelstrooiing en besoedeling wat met sportbyeenkomste gepaard gaan, nie vergeet word nie. Of beroepsport enigsins binne die raamwerk van Matteus 24: 14 binne die konteks van God se koninkryk gesien kan word, is ook te bevraagteken.
Sport in die greep van sonde: Hamartologiese perspektief
Vanweë die sondeval word alle arbeid, ook dan sport vir sover dit gesien kan word as arbeid, deur sonde beïnvloed. In plaas van koninklike werk, word die mens, ook die beroepsportman of n leeglêer (van een onthaal en funksie na die volgende, as daar nie geoefen of deelgeneem word nie) of n werkholis (wat geen tyd meer oorhou vir n normale gesinslewe nie). Daarby is daar dikwels in beroepsport die risiko van persoonlike besering en verminking wat n oortreding is van die sesde gebod. (Dink maar aan boksers, rugbyspelers en ren-jaers). Die afgelope tyd is beroepsport ook al meer in die kollig vanweë die invloed wat beroepswedders op verskillende sportsoorte het. Trouens, vir beroepswedders gaan dit lankal nie meer oor die spel in sport nie, maar oor die geld wat daaruit gemaak kan word.
Sport en die verlossing in Christus: Soteriologiese perspektief
Arbeid behoort te deel in die verlossingswerk van Christus en die vernuwingswerk van die Gees. Die werklikheid is dan ook dat talle sportmanne en vroue aanspraak maak op Christenskap. Dikwels word hulle geloof dan ook voorgehou as die motivering vir sport-prestasies. Die vraag is egter in hoe mate die vernu-wende werk van die Gees in mense n werklikheid geword het, wat in hulle daaglikse bestaan totaal selfgerig besig bly.
Kan daar wel sprake wees van heiligmaking as die lewe net maar gaan oor die uitoorlê van opponente en om ten alle koste as oorwinnaar uit die stryd te tree?
Daarby word beroepsportlui amper deurgaans onder druk geplaas om die Rusdag te ontheilig, want Sondag is sportdag by uitnemendheid. Die dag wat deurgebring moet word as teken van God se verlossingswerk in die mens, word sodoende juis werkdag. Sporttoere en internasionale deelname werk boonop n vervreemding van die gemeenskap van die heiliges in die hand.
Sport en die eskatologiese motief
Sonder die hoop op n nuwe hemel en aarde word die mens se werk n wanhoopbestaan. As die mens se werk nie ewigheidsbetekenis het nie, is dit vergeefse moeite.
Die vraag is daarom of beroepsport anders gesien kan word as vergeefse moeite. Veral as die woorde van 1Timoteus 4: 8 in gedagte gehou word, dat liggaamlike oefening van weinig nut is, is dit onduidelik hoe sport bruikbaar kan wees vir die koms van die Koninkryk.
Ten slotte
Teen die agtergrond van die voorafgaande beoordeling is dit duidelik dat jongmense deur ouers en ook kerklik begelei moet word om nie sport as n loopbaan te kies nie. Sport het n bedryf geword waarin dit amper uitsluitlik gaan oor geld, ook wedgeld.
Dit is duidelik dat daar drasties fout is met n volk se sportbeskouing as daar miljoene rande beskikbaar is vir sport en sportborgskappe, terwyl miljoene mense werkloos bly en honger ly. Sport het inderdaad n afgod geword as n volk deur n sportnederlaag of die struike-ling van n vooraanstaande sportman in sak en as gedompel word, terwyl voortslepende geweld en bloed-vergieting en misdadigheid en bedrog deur dieselfde volk nie eers meer raakgesien word nie.