Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Evolusionisme en Skrifkriftiek

AKTUEEL:
Akademici en studente van PU vir CHO sluit aan by ANC

SKRIFOORDENKING:
Die Here se vereistes vir ware reformasie van sy kerk

Skrifkritiek: 'n Dodelike kanker?

Is beroepsport 'n beroep waaraan Christene vrylik kan deelneem?

Islam en sy profeet, Mohammed

Liturgiese sang

Ingrypende Reformatoriese verklaring van die NG Kerk Brakpan-Suid

Die skool van die Kerk gedurende die oorlog

Is kommunisme dood?

Die Goddelike kultuuropdrag in die konteks van grondbesetting in Suidelike Afrika

Godsonterende uitlatings op Radio 702

KERKLIKE JOERNAAL: 
"Bergbron Lewe!"

Skokkende berig en brief in Beeld oor kerklike besluite en teen gesag van die Bybel en belydenisskrifte

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Reformatoriese erfenis en roeping op onderwysgebied

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Slot

PERSRUBRIEK: 
Ordelike liturgie


Kategese deur die Kerk

Lotery

KOMMENTAAR: 
Die bydrae van (Beroep-)sport

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Bybelse Etiek

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 5  September 2000

ISLAM EN SY PROFEET MOHAMMED

Marié Bosman  -  Pretoria

Hierdie artikel is aanvanklik geplaas in DIE BOODSKAPPER (APK), Julie/Augustus 2000 (bl 5, 6 en 8). Marié Bosman het spontaan meegewerk om dit vir publikasie in ons blad beskikbaar te stel

Vandag beteken Islam "onderwerping aan die wil van Allah", maar aanvanklik was dit die woord vir die krag wat ‘n woestynkrygsman tot die dood toe laat veg het.

In die eerste eeu na die opkoms van Islam het dié godsdiens deur die agressiewe optrede van die Moslem Arabiere van Spanje tot by Sjina versprei. Islam is die godsdiens met die tweede meeste aanhangers in die wêreld, en daar is selfs aansprake van Moslemkant dat ‘n vyfde van alle mense tot dié geloof behoort. Die toename van Moslems in die tradisioneel Christelike lande is veral opmerklik.

Weens die maklike toegang en godsdiensvryheid in Westerse lande het miljoene Moslems uit Asië en Afrika in die laaste jare na Brittanje, Wes-Europa en Noord- Amerika toe geëmigreer. Daar is al meer Moslems as Metodiste in die Verenigde Koninkryk! In Frankryk vorm hulle die tweede grootste godsdiens-groep. In die Westerse gemeenskap geniet die Moslem godsdiensvryheid en die voorreg om sy godsdiens te propageer en volgelinge te werf. Hy is egter nie vatbaar vir die ander aspek van godsdiensvryheid, naamlik kritiek teen ander gelowe nie, omdat hy uit ‘n kultuur kom waar kritiek teen die enigste toegelate geloof, Islam, met die dood strafbaar is. Die Moslem wil gevolg-lik nie aanvaar dat Islamitiese aansprake volgens Wes-terse wetenskaplike norme getoets kan word nie, en hulle is geneig om dit as ‘n persoonlike aanval teen die Moslemgemeenskap te beskou.

Dr Robert Morey, teoloog en navorser, verduidelik in sy boek, "The Islamic Invasion", die aard van Islam met ‘n interessante gelykenis. In ons eie omstandighede sal dit min of meer so klink: Pretoria is die setel van ‘n godsdiens waarvan Paul Kruger 'n magtige pro-feet van Baäl, die enigste ware God, is. Alles wat Paul Kruger geleer, geglo en gesê het, moet as die geïnspireerde Woord van Baäl aanvaar word. Die toesprake en briewe van Paul Kruger is in Hollands, die taal van die hemel, en vertalings van sy geskrifte kan nie werklik verstaan word nie. Eintlik is sy toesprake
in die hemel op ‘n klip geskryf; alles is deur die engel Gabriël uit die hemel aan hom gegee. Aangesien Kruger ‘n profeet van die ware God, Baäl, was, moet ons soos hy leef, eet en aantrek, en sy politieke sienswyse moet as die enigste aanvaarbare regeringsvorm beskou word. Sy volgelinge moet vyf keer per dag in die rigting van Kerkplein waar die Krugerstandbeeld staan, bid, en alle ware volgelinge van Paul Kruger ten minste eenmaal in hulle lewe ‘n pelgrimstog Pretoria toe onderneem. Daar moet hulle sewe maal om die Krugerstandbeeld hardloop en met Paul Krugerstraat af hardloop terwyl hulle die duiwel met klippe bestook. Kerkplein is eintlik deur Adam aangelê en al die Bybelse patriarge het daar gewoon. Ook mag aanhangers van dié geloof geen bespotting of lastering van die heilige geloof verdra nie.

Hierdie gelykenis mag vergesog klink, maar in werklikheid verduidelik dit die wese van Islam.

Westerlinge begryp nie dat Islam 'n soort kulturele ryk is waarin die godsdiens en kultuur van die 7de eeuse Arabië godsdienstige status gekry het nie. Mohammed het die Arabiese kultuur met al sy sekulêre en gewyde gebruike geneem en tot die godsdiens van Islam gevorm. Sodra Islam die heersende godsdiens in ‘n land word, word die kultuur van daardie land deur ‘n soort subtiele rassisme verander in die kultuur van 7de eeuse Arabië. Omdat dit egter die leerstelling dat Mohammed se geloof en die Koran uit die hemel kom, in gevaar mag stel, doen Moslems nie navorsing oor die agtergrond van voor-Islamitiese Arabië nie.

Die ruwe Arabiese klimaat het ‘n geharde stamgebonde gemeenskap waarin geweld die reël was, voortgebring; en geweld is steeds ‘n kenmerk van 'n Moslemgemeenskap. Dit word selfs in die Koran geëis; in Sura 9: 5 word Moslems, byvoorbeeld, beveel: "Bestry en maak die heidene dood waar julle hulle kry..." Opsluiting sonder verhoor, marteling, politieke sluipmoord, die afkap van hande, voete, ore, tonge en koppe en die uitsteek van oë is nog steeds alles deel van die Islamitiese wet om-dat dit deel van die 7de eeuse Arabiese kultuur was.

Demokrasie het ook nog nooit in Moslemlande gefloreer nie, omdat Mohammed die destydse politieke wette van Arabië tot die wette van Allah verhef het. Sheiks of hoofmanne het met onbeperkte gesag oor hulle onderdane geheers, en tot vandag toe word Islamitiese lande hoofsaaklik deur heerssugtige diktators regeer. Wanneer skiet gegee word, neem sogenaamde Islamietiese fundamentaliste weer oor soos dit in Iran gebeur het. Weens ‘n gebrek aan begrip vir persoonlike vryheid in die stamlewe van 7de eeuse Arabië erken die wette van Islam nie vryheid van spraak, godsdiens, samekoms of die pers nie.

Vir die Moslem is daar nie ‘n sekulêre terrein waar hy vry van Islam is nie, want Islam is ’n algehele leefwyse, nie net 'n godsdiens nie. So is ‘n Moslem verplig om vyf maal per dag in die rigting van Mekka in Saoedi-Arabië neer te kniel en te bid om sy onderdanigheid aan Arabië te toon.

Hoewel ‘n Moslem die Salaah, vyf voorgeskrewe gebede, daagliks moet voordra, ken hy nie ware gebed nie. Die Salaah moet in Arabies, ‘n taal wat vir alle Moslems in nie-Arabiese lande ‘n vreemde, onverstaanbare taal is, opgesê word. Hy is ook verplig om ten spyte van ontberings en groot onkoste ten minste eenmaal in sy lewe by die Kabah in Mekka te gaan aanbid, omdat Mohammed die heidense ritueel van ‘n pelgrimstog na Mekka oorgeneem het ten einde die handelaars wat hieruit geweldig ryk geword het, tevrede te stel. Dit plaas ‘n drukkende las op arm Moslems wat 'n leeftyd moet afknyp en spaar om hierdie "pilaar van Islam" in stand te hou.Wat Mohammed geëet en nie geëet het nie, is nou verhef tot godsdienstige wette wat vir almal geld. Die klere wat ongeletterde nomadiese vrouens in die 7de eeu in die woestyn gedra het, het die kleredragreël vir alle Moslemvroue wêreldwyd geword, en omdat vrouens in Mohammed se tyd in Arabië as die man se eiendom beskou is, het Moslemvroue tot vandag nog nie basiese burgerregte nie.

Die geskiedenis van Mohammed bied baie insig oor die wese en ontstaan van Islam. Hy is in 570 in Mekka gebore as lid van die Quraysh-stam wat in beheer was van Mekka, die sentrum van al die heidense gelowe in Arabië. Die Arabiere was grondliggend animisties in hulle geloof.

Manlike en vroulike jinns of geeste wat in die bome, klippe, riviere en berge geleef het, is aanbid en gevrees. Heilige towerklippe sou die stamme beskerm het. In die Kabah ('n vierkantige kliptempel) in Mekka, was daar ‘n afgodsbeeld vir elke godsdiens en ‘n swart towerklip wat pelgrims moes soen. Heidense rituele soos gebede op bepaalde tye in die rigting van Mekka, pelgrimstogte na die Kabah in Mekka, klipgooiery na die duiwel, die gee van aalmoese, ‘n verbod op woekerwins en ‘n maandlange vastyd was diepgewortelde gebruike in die Arabiese godsdiens.

Mohammed is dus in 'n heidense gemeenskap opgevoed. Hy het as weeskind by familie groot geword en geen besondere jeugprestasies van hom word vermeld nie. Sy moeder het ‘n belangstelling in die okkulte gehad, en Mohammed sien reeds in sy kinderjare gesigte. Die aanvalle wat daarmee gepaard gegaan het, was moontlik epilepties van aard. Na sy huwelik op 24 met 'n welgestelde 40jarige weduwee, Khadìja voer hy 'n gemaklike bestaan. Mohammed word op 40 tydens 'n "openbaring" tot profeet en apostel (terminologie uit die Joodse en Christelike geloof) van Allah, die enigste god geroep.

Die aanvaarde weergawe, uit vier teenstrydiges in die Koran oor sy ervaring is, dat die engel Gabriël hom geroep en die Koran aan hom oorhandig het (Sura 2:97). Met ‘n volgende openbaring word hy beveel om te preek, en daarmee hou hy 23 jaar vol. Aanvanklik werf hy min steun weens sy onbuigbare monoteïsme en sy streng oordeel oor die bandelose sedes, veral immoraliteit en dobbelary, die klasse-onderskeid en onregverdige ekonomiese orde van die tyd. Mohammed word so bespot en bedreig dat hy selfs tydelik weer politeïsme aanvaar. Volgens die Koran het hy naderhand vir die jinns, die geeste in die bome en klippe gepreek en hulle bekeer sodat hulle sy boodskap aan die mense kon verkondig.

Hy vlug na Medina waar sy prediking aanvaar word. Die veragte prediker word daar staatsman, regter en generaal. Mohammed besef egter dat hy sy eie familie en stam slegs met geweld van afgodery kan laat afsien, en hy en sy aanhangers begin hulle krag te toets met strooptogte op karavane. Na aanvanklike sukses sluit baie volgelinge wat betrokke wou raak by die vegtery, doodslag en plundering by hom aan. So bekom Mohammed rykdom en mag. Groot getalle Jode het hulle in Arabië gevestig en baie ryk geword uit handel en die goud-en silwerbedryf. Mohammed wend met die verkondiging van monoteïsme, onderhouding van die Joodse sabbat en hulle voedselwette en gebede na Jerusalem tevergeefse pogings aan, om hom deur die Joodse gemeenskap as profeet te laat aanvaar. Dus laat Mohammed die Joodse gebruike vaar, keer tot die heidense Arabiese rituele terug en begin om Jode te vermoor. Dit was tot groot finansiële voordeel vir hom om Joodse nedersettings te verower. Tot 'n duisend man is op een dag onthoof terwyl hulle vrouens en kinders as slawe verkoop is en al die eiendom in die dorpe geroof is.

Na vorige neerlae verower hy Mekka in 630. Die ou Kabah is aan Allah hertoegewy en as die sentrale heiligdom van Islam verklaar, veelgodery en afgodery is uitgeroei en sendelinge en politieke verteenwoordigers van Islam is na al die stamme van Arabië gestuur. Met sy dood was feitlik die hele Arabië as nasie verenig onder die invloed van Islam.

In sy persoonlike lewe openbaar Mohammed twee groot swakhede naamlik gierigheid en vrouens. Met die roof-togte op karavane en die Joodse gemeenskap het hy fabelagtige rykdom vir hom, sy familie en sy stam vergaar. Hoewel hy in die Koran ‘n man tot vier vrouens beperk het, het hy self 16 vrouens en 6 byvroue gehad. Aesha het as negejarige dogtertjie sy vrou geword en Zayab het hy by sy aangenome seun afgeneem.

Mohammed sterf onverwags in 632, en al was hy ‘n profeet van Allah het hy geen verwagting van sy eie dood gehad nie. Mohammed het nie die Koran geskryf nie. Ander mense het op stukkies papirus, boombas en been neergeskryf wat hy tydens sy toevalle en beswymings gesien het. Dié samestellers het na sy dood 114 Suras versamel en van die grootste tot die kleinste gerangskik, sodat daar geen logiese orde in die versameling stories, wette en vermanings is nie.

Dit is geheel en al 'n ander soort geskrif as die Bybel. Die invloed van ander gelowe in voor-Islamitiese Arabië het ook na die Koran deurgesypel. Verhale uit die Ou Testament, die Misnah, die Talmud en Joodse apokrie-we boeke was bekend. Die Christelike leer was ook in ‘n ongeleerde en verdraaide, selfs ketterse vorm soos die Gnostiese evangelies, in Suid-Arabië bekend. Dit verklaar die ooreenkoms met dele van die Bybel.

Omdat handelaars van Persië, Indië en die Verre-Ooste op die hoofhandelsroete deur Mekka gereis het, is dit nie verbasend dat die Koran stukkies van godsdienstige verhale uit die Zoroastrisme, Hinduïsme, Boeddhisme, Mitraïsme, Griekse en Egiptiese godsdiens bevat nie. Moslems glo egter dat die Koran uit die hemel kom, en hulle ontken enige menslike aandadigheid in die opstel daarvan.

BRONNELYS

Classe, Cyril: The Concise Encyclopedia of Islam Londen: Stacey International

Moray, Robert: The Islamic Invasion Harvest House Publishers

Oosthuizen, GC: Die Godsdienste van die Wêreld Pretoria: NG Kerkboekhandel

Sper, David: The Message of the Prophets Grand Rapids: RBC