|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
LITURGIESE SANG
DS JP COETZEE - EM PRETORIA-MEINTJESKOP
Kerklidmate gebruik maklik die term "gemeentesang" wanneer eintlik liturgiese sang bedoel word. Liturgiese sang is 'n element van die liturgie in die erediens.In die kerke van die reformasie is die erediens 'n ontmoeting tussen die God van die verbond en sy volk. Liturgiese sang moet dus in die volle sin van die woord deel van hierdie ontmoeting wees. Dit is van betrekking sowel op die woorde as die melodieë wat gesing word.
Die uitdrukking gemeentesang hou nie noodwendig die saak van liturgiese betekenis in nie. Dit lê, bedoel of onbedoel, die nadruk op die saamsing van mense en dra die kenmerke van 'n massakoor. Die keuse van woorde en melodieë wat dus gebruik word is dan ook nie onderhewig aan die beginsels wat vir liturgiese sang geld nie.
In kerke wat vasstaan by die gereformeerde bely-denisse mag liturgiese sang nie met gemeentesang verwar word nie. Tog gebeur dit dat die liturgiese sang in eredienste van sekere gemeentes deur gemeen-tesang verdring word. Die rede hiervoor moet gesoek word in die tans heersende, haas onbedwingbare sug na verandering. Dit heers op talle vlakke, helaas ook op dié van die kerklike samelewing. Dit is deel van die humanistiese lewensbeskouing wat hand oor hand toeneem. Dit raak ook die bewoording en melodieë van die sang in die eredienste.
BEWOORDING
Dit wil voorkom of mense moeg vir die Psalms geword het. Daar word gesoek na meer mensgerigte bewoording om die lof van die Here te besing. Die Psalms stel nie meer tevrede nie, dit word nie meer bely as die geïnspireerde Woord van God om sy lof te verwoord nie.
Vanuit die perspektief van die Skrifkritiek word die profetiese strekking, die messiaanse heilsverwagting met die Nuwe Testamentiese vervulling in die koms van Jesus Christus, afgewys. Die Skrifkritici se gebruik van die Psalms het geen probleem met sy Nuwe Testamentiese aanhalings nie. Vir hulle het die Heilige Skrif immers geen onbetwyfelde en bindende gesag nie.
Nou lyk dit of die geestelike bederf van die Skrifkritiek die woorde wat eie is aan die liturgiese sang, aantas. As 'n mens se gees hom nie meer wil en kan verlustig in die volle rykdom van die Woord van God nie, is gemeentesang die antwoord Dan word naarstig gesoek na liedere (gesange) en selfs liedjies om 'n sangontroering en belewenis te bewerkstellig. (Neem byvoorbeeld kennis van die sangprogram van die gemeente Bergbron op bl 15.)
Dit moet in gedagte gehou word dat die ontstaan van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, in 1859, sterk beïnvloed is deur die beoordeling van die woorde van die Evangeliese Gesange. Dit word gesê dat daar Skrifgetroue gesange is. So het byvoorbeeld die "Ons Vader"-beryming (Skrifberyming 28b/Gesang 294) populêr geword. Dit is besonder bevorder deur die filmster-tenoor Mario Lanza. Mense sing dit dikwels en graag vir die lekkerkry. Daar word al te maklik aan die onsuiwere weergawe van die grondteks verbygegaan. Dit betref reeds die eerste reël van dié beryming: "Ons Vader wat woon in die hemel ...". Die Bybelse teks leer nie dat die Vader in die hemel woon nie. In Mattheüs 6 : 9 is die onderrig van die Here Jesus as volg opgeteken: "Só moet julle dan bid: 'Onse Vader wat in die hemele is ...'. Die woordjies is en woon is nie dieselfde nie. Let ook op die meervoudsvorm hemele. Dit is nie dieselfde as die hemel (enkelvoud en 'n plekaanduiding). Ons volstaan met hierdie voorbeeld. Dit is maar een van baie wat aangevoer kan word.
Om aan die vernuwingsug te voldoen, is daar ook 'n poging onderneem om nuwe Psalms te aanvaar deur die sogenaamde omdigting (in onderskeiding van beryming). Dit is bekend dat die resultaat van die huidige omdigting lank vir die kerk geheim gehou is. Dit is gedoen deur die toepassing van kopiereg. Die jongste Nasionale Sinode van die GKSA het (gelukkig!) besluit dat die teks van dié omdigting in sy geheel eers deur die kerke beoordeel moet word alvorens 'n volgende Nasionale Sinode daaroor kan oordeel en besluit. Mens kan slegs die hoop koester dat dié beoordelings mag help om te verhoed dat dié voorgestelde psalmomdigting die liturgiese sang tot bloot gemeentesang, selfs in die eredienste, gaan aanpas.
MELODIEë
Liturgiese sang vereis melodieë met 'n geestelike karakter. Die modale toonaarde van die sogenaamde Geneefse melodieë is deur die eeue ná die Reformasie hiervoor gebruik.
Uit die humanisme het die Romantiek na vore getree. Dit het onder andere ook die melodieë, wat in die eredienste gesing word, geraak. Die modale toonaard is vir die Romantiek te droefgeestig en nie verheffend nie. En dan is dit opmerklik dat die drieslagmaat (lank-kort-kort) so aanvaarbaar geword het. Dit betref byvoorbeeld populêre melodieë soos die sogenaamde Voortrekkerwysies. Die melodie van Psalm 130 (Eerste beryming) vertoon die karakter van 'n wals. So ook die wysie van die bekende Gesang 177: "Ek sien 'n nuwe hemel kom". Laasgenoemde wysie kan ook gebruik word by die sing van byvoorbeeld Psalm 20. Voorheen is hierdie Psalm nie baie gesing nie. Maar met die meeslepende drieslagmaat-wysie wat redelik algemeen gebruik gebruik word, sing hulle dit nou dat dit daver. En dit, ten spyte daarvan dat die teks van Psalm 20 'n gebed vir die koning wat oorlog toegaan, betref. Tydens die bevestiging van 'n predikant, waar ek teenwoordig was, is hierdie Psalm onder andere op dié populêre wysie gesing. Dit is 'n betekenisvolle voorbeeld ten aansien van die praktyk van gemeentesang in plaas van liturgiese sang. Die teks van die Psalm word ondergeskik aan die wyse gestel. Die ampsbediening van 'n predikant staan tog nie in die konteks van 'n geveg, soos die teks van Psalm 20 dit beskryf nie?!
Liturgiese sang is 'n kerklik-godsdienstige saak. Daarteenoor is gemeentesang 'n soort kultuuraksie. Dit dien om die deelnemers en hoorders te bekoor. Dit is onvanpas vir gebruik in 'n Gereformeerde erediens.