|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
INGRYPENDE REFORMATORIESE VERKLARING VANHulle glo en verklaar dat die Drie Formuliere van Eenheid die Skrif suiwer vertolk. Daaruit volg logies dat, wanneer gereformeerde kerke aan hul belydenis ontrou word,hulle ook ontrou word aan die Woord van God en daarom aan God self (1 Tess 2 : 13).
Volgens dié verklaring treur hulle oor:
die Ned Geref Kerkverband wat in leer en lewe toenemend sy gereformeerde belydenisgrondslag verlaat, en wat ontrouheid aan die waarheid en ongehoorsaamheid aan die evangelie in sy geledere, ter wille van 'n kunsmatige eenheid verdra en selfs regverdig;
die feit dat hierdie verdraagsaamheid teenoor valse leraars en valse leerstellings vir die leuen ruimte skep om die kerkverband soos 'n kanker te deurtrek;
die feit dat herhaalde pogings om die kerkverband teen hierdie verdraagsaamheid te waarsku en die oproepe om in leer en lewe die gereformeerde belydenis te handhaaf, op dowe ore geval het;
die tweeslagtigheid wat die Ned Geref Kerkverband openbaar en wat gevolglik sy status as ware kerk ernstig in die gedrang bring. Aan die een kant maak hy daarop aanspraak dat hy 'n ware en gereformeerde kerk wil wees, maar aan die ander kant neem hy besluite en verdra hy leerstellings en lewenswyses wat in stryd met die Drie Formuliere van Eenheid is. Meer nog - die merktekens van ware kerkwees vervaag al hoe meer en die merktekens van die valse kerk word al hoe meer sigbaar (NGB Artt 27 - 32);
die besluite wat die Ned Geref Kerkverband op sy sinodale vergaderings geneem het, wat nie die toets van die Skrif en belydenis kan deurstaan nie;
die feit dat sinodes gehoorsaamheid aan bogenoemde besluite verwag, wel wetende dat dit vir baie ampsdraers en lidmate 'n binding van hulle gewete sal meebring en dat dit noodwendig tot verdeeldheid en selfs skeuring sal lei;
die feit dat lidmate so min kennis van en insig in die Skrif en die gereformeerde belydenisse het, dat hulle nie die dwaling kan onderskei en bestry nie. Meer nog, hulle word self deur die dwaling meegevoer;
die geestelike verval en verbondsverbreking wat daagliks al hoe meer sigbaar word in die lewe van die lidmate;
die afwesigheid van die kerklike opsig en tug wat die indruk skep dat die behoud van lidmate vir kerkrade en gemeentes belangriker as gehoorsaamheid aan Jesus Christus en as die eer van God ons Vader is;
die feit dat Godgesentreerde eredienste, waar Sy Woord en eer sentraal staan, al hoe meer vervang word met vermaaklikheids-georiënteerde byeenkomste, waar die mens se voorkeure en "behoeftes" in die middelpunt staan.
Hierdie verklaring word bykomend gemotiveer in sewe afdelings met uitvoerige verwysings en voetnote.
BESLUITE WAT NIE KAN ONDERSKRYF OF GEHOORSAAM WORD NIE:
Op grond van onder andere Hand 4: 19-20 en Gal 1: 6-10 verklaar die kerkraad dat hy God meer gehoorsaam moet wees as mense. Daarom verklaar hy hom vry van dié besluite wat in stryd met die Skrif en gereformeerde belydenisse is en wat daarom 'n binding van die gewete is. As voorbeelde dien die volgende:die toelating van die vrou tot die leer- en regeerampte;
die toelating van kinders, wat nog nie in die openbaar belydenis van hulle geloof afgelê het nie, tot die nagmaal;
die omstrede besluit dat die Belydenis van Belhar "op sigself genome" nie met die Skrif en die Drie Formuliere van Eenheid in stryd is nie;
die standpunt dat dit wat die Skrif oor die eenheid van die kerk leer, noodwendig organisatoriese vereniging van die familie van Ned Geref Kerke vereis;
die besluite wat impliseer dat 'n gesonde volksliefde nie deel is van die gehoorsaamheid wat ons aan Christus verskuldig is nie;
die besluit van die Algemene Sinode 1998 wat impliseer dat Jode en Moslems die God van die Bybel erken alhoewel hulle Hom nie reg ken en reg dien nie.
Die Verklaring stel in alle nederigheid maar met beslistheid, dat hierdie besluite nie kan onderskryf of gehoorsaam word nie.
DIE NED GEREF KERKVERBAND WORD OPGEROEP OM:
weer onvoorwaardelik onder die gesag van die Skrif as die onfeilbare en gesaghebbende Woord van God te buig;
die sogenaamde nuwe Skrifbeskouing te verwerp en alle besluite wat daarop berus te herroep en so in woord en daad tot die gereformeerde belydenis-grondslag terug te keer;
ook wat die gemeentelike lewe betref, deur die suiwere verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die uitoefening van die tug, aan Jesus Christus gehoorsaam te word.
Ds H Hefer - Posbus 8513, Minnebron 1549
Tel/Faks (011) 742 2371
E-posadres: heferh@mweb.co.za