Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Evolusionisme en Skrifkriftiek

AKTUEEL:
Akademici en studente van PU vir CHO sluit aan by ANC

SKRIFOORDENKING:
Die Here se vereistes vir ware reformasie van sy kerk

Skrifkritiek: 'n Dodelike kanker?

Is beroepsport 'n beroep waaraan Christene vrylik kan deelneem?

Islam en sy profeet, Mohammed

Liturgiese sang

Ingrypende Reformatoriese verklaring van die NG Kerk Brakpan-Suid

Die skool van die Kerk gedurende die oorlog

Is kommunisme dood?

Die Goddelike kultuuropdrag in die konteks van grondbesetting in Suidelike Afrika

Godsonterende uitlatings op Radio 702

KERKLIKE JOERNAAL: 
"Bergbron Lewe!"

Skokkende berig en brief in Beeld oor kerklike besluite en teen gesag van die Bybel en belydenisskrifte

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Reformatoriese erfenis en roeping op onderwysgebied

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Slot

PERSRUBRIEK: 
Ordelike liturgie


Kategese deur die Kerk

Lotery

KOMMENTAAR: 
Die bydrae van (Beroep-)sport

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Bybelse Etiek

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 5  September 2000

DIE SKOOL VAN DIE KERK GEDURENDE DIE OORLOG

PROF DR JP JOOSTE IN: "DIE GESKIEDENIS VAN DIE GEREFORMEERDE KERK IN SUID-AFRIKA 1895 - 1959" (bl 207 en 208)

Dit spreek haas vanself dat die Skool van die Kerk (te Burgersdorp) deur die (Tweede Vryheids-) oorlog getref sou word. En dit sou dan ingehou het dat aangesien twee-derdes van die Kerk deur die oorlog geheel en al lamgelê was, die skool ook daardie gemis sou moes gewaar en selfs meer daardeur sou kon ondergaan. Dit is egter nie daardie soort beproewings van die skool wat hier in die eerste plek bedoel word nie, want dit kon op die een of ander wyse die hoof gebied word.

As ons die belewenisse van die Skool gedurende die oorlog nagaan, sal dit blyk dat die Skool deur groter en swaarder rampe getref is, wat 'n baie ernstiger bedreiging ingehou het as die voornoemde. Hieroor hoef ons gelukkig nie te gis nie, want daar is veral twee dokumente wat dit baie duidelik weerspieël, te wete die verslag van die Rektor van die Skool en die rapport van die Kuratore aan die Sinode van 1904.

Die lotgevalle van die Skool gedurende die oorlog was dan soos volg:

Toe die oorlog tussen die Britse ryk en die twee Repu-blieke uitgebreek het, was die aantal studente 30. Die studente uit die twee Republieke het daarna vertrek. Hoewel hulle nie opgekommandeer was nie, het hulle hul pligte as burgers gaan doen. Ná hulle vertrek het die ander studente 'n versoek tot die professore gerig om die Skool te sluit, sodat hulle ook huistoe kon gaan. Die professore het die twee Kuratore van die Kaapkolonie, met wie hulle in verbinding kon kom, versoek om na Burgersdorp te kom vir beraadslaging oor die saak. Dit het gebeur, en toe is besluit om die Skool nie te sluit nie maar dat enige student wat verkies het om te gaan, kon vertrek sonder dat van hulle kant enige hindernis in die weg gelê sou word.

Almal het egter verder aangebly, totdat omtrent 'n maand later, November 1899, die distrik Albert, waarin Burgersdorp geleë was, deur die burgerkommando's van die Vrystaat beset is. Toe is met advies van die Kuratore van die Kaapkolonie besluit om die Skool te sluit. Die studente het toe na hulle huise vertrek, en die twee professore in die lettere, tesame met die ander studente het 'n ambulanskorps gevorm en saam met die burgers na die veld vertrek.

Na die terugtog van die Boere is die Skool op 1 April 1900 weer met 9 studente geopen. Slegs een van die sewe was reeds besig met teologie, maar hy is kort daarna onder beskuldiging van hoogverraad in die gevangenis gesit.

Hoewel daar nie een van die studente van die Repu-blieke gedurende die oorlog kon terugkeer nie, het die aantal studente tog weer aangegroei tot 18, almal afkomstig uit die Kaapkolonie.

In Februarie 1901 is die Skool weer ernstig in sy werk belemmer deurdat die kommandant van die Britse mag aldaar bevel gegee het dat al die studente wat nie van die dorp en distrik was nie, na hulle huise gestuur moes word. Hierdeur is die getal tot 5 verminder.

Op 5 Maart 1901 is die professor in die Teologie gearresteer en moes ses weke lank in die gevangenis bly totdat hy onder borgtog uitgelaat is en op 22 Junie voor 'n spesiale hof verskyn het op aanklag van hoogverraad. Die saak is egter toe teruggetrek, sodat hy op vrye voet gestel is.

Teologiese student WJ de Klerk, wat reeds vroeër gearresteer was weens hoogverraad, is in September 1901 uit die distrik verban en het meer as ses maande weggebly. Die redes vir hierdie optrede teen student De Klerk asook die redes vir die verwydering van die ander studente is nie aan die instansies bekend gemaak nie.

Teen die einde van die oorlog is die studente weer toegelaat om terug te kom, en so het die getal weer tot 20 gestyg.

Die Kuratore moes tot hulle smart rapporteer dat 3 studente van die Skool, naamlik J Venter, J Maré en J Kruger, in die oorlog gesneuwel het; verder was 9 studente weggestuur as krygsgevangenes. ...

Daarmee het ons nou 'n blik gekry in die stormtoestand wat oor die skool heengewoed het en wat treffend deur die Rektor in sy verslag soos volg aangedui is: ''Dat ek nou die verslag met 'n diepe gevoel van dankbaarheid skrywe by die gedagte dat God ons weer die geleentheid gee om vergadering te hou, kan u wel verstaan. Meer as eens het dit in die drie jaar wat agter ons lê, geskyn asof die Kerk en die Skool sou ondergaan deur die geweld van die storms wat ons dierbare land geteister het. Die Here het ons egter bewaar; en hoe donker die toekoms ook nog mag wees, dit is met die vertroue op Hom dat ons dit waag om voort te gaan.''

Nadat die Sinode die rapport van die Kuratore aangehoor het, is in verband met punt 1 daarvan, dit wil sê dié deel wat ons hierbo in hoofsaak weergegee het, die volgende besluit eenparig geneem:

''Die Sinode neem met smart kennis van die wederwaardighede wat die Skool in die oorlog ondervind het, betuig sy diepe dankbaarheid aan die professore vir al die opofferings wat hulle hul in die moeilike omstandighede getroos het om die Skool in stand te hou en voel innig met die geagte Professor Theologicus in alles wat hy gely het. Eweëens neem hy met diepe gevoel kennis van die feit dat drie studente gesneuwel het en soos helde op die slagveld geval het.''