|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
IS KOMMUNISME DOOD?KOMMUNISTIESE WêRELDOORHEERSING BINNE BEREIK
Sydney Gregan - Nylstroom
Daar is, veral na die val van die Berlynse muur en die ontstrengeling van die ou Sowjet Unie asook vanweë die daaropvolgende politieke verwikkelinge in Rusland en ander Oos- Europese state, gesê dat kommunisme tot n val gekom het en dat kommunisme "dood" is. Dit word trouens deur die openbare media as n voldonge feit voorgehou en sal dus enigeen wat vandag nog die teendeel wil beweer, as ietwat van lotjie getik beskou.
Die fisiese afbreek van n muur tussen Oos- en Wes-Berlyn, die verwydering van standbeelde van Stalin in Sowjet state en die teregstelling van n diktator in Roe-menië wat op TV-skerms wêreldwyd vertoon is, het groot-liks bygedra tot die persepsie dat kommunisme dood is.
Die skokkende werklikheid is egter dat kommunisme nie dood is nie. Dit is sterker as ooit. Trouens, die stelling kan gemaak word dat die kommunisme n fase bereik het waar wêreldoorheersing binne sy bereik is, juis van-weë die feit dat die wêreldmening (wat deur die kommunisme beheer word) dit nie meer as n gevaarlike bedrei-ging beskou nie.
Daarbenewens swaai kommunisme steeds die septer in Rusland en ook in die ander voormalige Sowjet state, maar op n bedekte wyse. Die regerings van hierdie state bestaan uit Kommuniste uit die vorige bedeling (byvoor-beeld eers Jeltsin en nou Poetin in Rusland en Shevardnadze in Georgië) wat nou die kleed van demokrate aangetrek het, dog steeds kommunisme bevorder in die state waarvan hulle leiers, en hulle partye (met pragtige demokratiese name wat algemeen aanklank vind), die botoon voer. Die sogenaamde opposisie is ook niks anders as verbloemde Kommuniste nie, of dit nou van "regs" of van "links" is. Hierdie opposisie word in totaliteit deur die Kommuniste beheer. So het Jeltsin kritiek vanuit "linkse" geledere op Gorbatsjef se beleid van perestroika ("hervorming") en glasnost ("openheid") verteenwoordig en Ligachev vanuit "regse" geledere, tog was albei steeds Kommuniste. Ongeag wie die publiek steun in n komen-de verkiesing, n Kommunis sal steeds aan bewind bly en verkiesings is niks anders as n klug om die gewone man op straat te mislei nie.
Die KGB, die Russiese geheime diens, het verskeie kosmetiese veranderinge ondergaan, waaronder struktuur- en sewe naamsveranderinge vanaf 1991 tot en met 1995! Daardeur is meningsvormers mislei om te glo dat ook hierdie gevreesde organisasie "hervorm" het. Die realiteit is dat dit nou omvorm is in die politieke arm van die kommunisme in Rusland. Die skrywer Yevgenia Albats stel in haar boek: "The KGB: A State within a State", dat die KGB nou meer mag het as in die hele geskiedenis van die kommunisme. Dit het elke faset van die Russie-se samelewing binnegedring deur middel van 500 000 KGB lede; ook in die Russiese Ortodokse Kerk. Daarom bevind diegene wat hulle uit misnoeë met die Party tot die Kerk gewend het, hulle nog steeds in die mag van die kommunisme.
Maar die kommunistiese tentakels is nou ook veel wyer gespan as wat dit voor "die val van Kommunisme" die geval was. "Demokratisering" van ander state (waaronder die RSA) het plaasgevind onder die dekmantel van "meerderheidsregering" en "veelparty demokrasie" juis in die tydperk ná die "afbreek van Kommunisme", waar die mense salig gerus was dat kommunisme nie meer n bedreiging vir hulle sou ingehou het nie.
Maar wat is Kommunisme? Dit is n stelsel wat ontstaan het uit reaksie op die kapitalistiese stelsel; laasgenoemde wat privaat inisiatief voorstaan sodat elkeen die reg het om na sy vermoë, maksimaal te ontwikkel, te produseer en te verdien. Die kapitalisme is n stelsel van vrye mark en privaat eiendomsreg. Weens die feit dat mense se vermoëns verskil, en die gepaardgaande kompetisie wat kapitalisme meebring, is die gevolg van kapitalisme dat sommige mense meer as ander besit. Die kommunisme stel dat hierdie toedrag van sake n sogenaamde besittersklas en n werkersklas tot gevolg het - so hoor ons dikwels van die "haves" en die "have nots". Die Kommuniste is van mening dat hierdie toedrag van sake die wortel van alle kwaad is en dat dit n stryd laat ontstaan het wat, in die omstandighede van die werkersklas se onmag, n ongelyke stryd is wat slegs deur die besittersklas gewen kan word.
Boonop het, volgens die kommunisme, die besittersklas n "opium" ontwikkel, synde godsdiens, wat vir die werkersklas uit die Bybel wil vertel dat hulle hul posisie moet aanvaar en daarvoor word die Kerk aangewend. Die Kerk, deur middel van die godsdiens, vergiftig dus die bevolking en die totale lewe van n volk en staat.
Gevolglik het die kommunisme die dialektiese materialisme ontwikkel waar slegs materie en dwang ter sake is. Omdat alles wat sleg is, ontstaan as gevolg van die ongelyke kapitalistiese verhouding, ontstaan n onver-mydelike haat deur die werkersklas teenoor die besittersklas wat oorgaan in n onvermydelike klasse-oorlog. Laasgemelde sal noodwendig daartoe lei dat alle eien-dom weer gemeenskaplike eiendom (vandaar die naam kommunisme) word, soos dit hoort, omdat almal gelyk is en die uitkoms van alles gelyke resultate tot gevolg moet hê. Stryd teen die kapitalisme en gevolglik ook teen die Christendom is dus onvermydelik ten einde dié ongelykheid uit die weg te ruim.
So gesien is dit n regverdige stryd, en ontdoen van enige Christelike of godsdienstige norme, is enige metode ten einde dit te bereik, geregverdig. Die doel heilig die middele. Die Christendom self moet gevolglik vernietig word, aangesien dit die kommunisme teenstaan. Kommunisme is in sy diepste wese dus ateïsties en antichristelik.
In leketaal kan daarom gesê word dat kommunisme sosialisme plus ateïsme is. Die sosialisme kan nie noodwendig as ateïsties beskou word nie maar staan in direkte kontras met die kapitalisme. So gesien is die sosialisme en kommunisme neefs en mekaar inderdaad goedgesind. Die groot leuen van die kommunisme is dat dit voorgee dat almal gelyk sal wees. Wat in elke kommunistiese staat gebeur het, is dat die middelklas vernietig is en dat die rykes net ryker geword het; selfs ook ten koste van die sogenaamde werkersklas ("All are equal, but some are more equal than others"). Daarom word kommunisme nie deur die Internasionale Geldmag gekritiseer nie; die kompetisie wat ontstaan vanuit die middelklas, is of word deur kommunisme uitgeskakel. Die Kommunisme het eintlik n super- of selektiewe kapitalisme tot gevolg; kapitalisme vir die super elite en sosialisme vir die res. In Rusland het die utopia wat die kommunisme geskep het, tot gevolg dat 75% van die bevolking onder die broodlyn leef.
Die kommunisme se leuse is: "Firmness in principle and flexibility in tactics". Enige taktiek wat werk, kan gebruik word om die beginsel (wat vasstaan), te bereik. Die waarheid is sodoende bloot pragmaties. Dit wat werk is die waarheid. Enigiets wat bydra tot die uiteindelike doel is die waarheid. Alles wat dié doel teenwerk is leuens en waardeloos. Enige woord wat nuttig is, hetsy dit "demokrasie", "vryheid" of "geregtigheid" is, kan (en moet) gebruik word, solank die resultaat kommunisme is. Hierdie woorde se betekenis staan ook nie vas nie, maar verkry hulle eie "kommunistiese" betekenis.
Netso kan (en moet) enige organisasie gebruik word om die doel te bereik. Waar daar n aversie vir kommunisme bestaan, sal n frontorganisasie met n naam soos "Sosiaal-Demokrate" gebruik word, waar kommunisme "dood" is, n party met die naam African Nationalist Congress! Die Kommunistiese Party (en desnoods sleutel-persone) opereer in die agtergrond, dog vervul die sentrale besluitnemingsrol in elkeen van hierdie frontorganisasies. Die kommunisme stel nie belang in massa-ledetal nie, maar wel in massaverslawing.
Die doel heilig deurentyd die middele. n Menseregte-handves, skeiding van magte, demokratiese verkiesings, kritiek teen die regering, die bestaan van kerke; dit alles word nou toegelaat net om die skyn van anti-kommunisme en pro-demokrasie te gee. Persone wat die kommunistiese ideaal sal verwesenlik, word egter in sleutelposisies geplaas; of dit nou in die Kabinet, die Reserwebank of die Konstitusionele Hof is. Dit is n allesomvattende strategie, n totale aanslag!
Die Kommuniste weet (soos die Italiaanse Kommunis Gramsci beweer het) dat beheer van die menslike bewussyn van uiterste belang is. Daarom word die media beheer sodat denke by die oorsprong daarvan, beheer kan word. Beginsels word aangeval en aan begrippe nuwe betekenis gegee. Die Weste glo in die towerwoord demokrasie en omdat die doel die middele heilig, sal die Kommunis ook daarin glo; natuurlik met n eie betekenis. Vir misleiding om suksesvol te wees, moet dit die bekende aspirasies van die mense nadoen en na-aap. In die naam van hervorming en demokrasie bereik die kommunisme steeds sy doel, terwyl hy die bevolking van n land laat glo het dat aan hulle werklike aspirasies voldoen is.
Daarmee saam word van intelligente persone soos akademici gebruik gemaak om die bestaande waardes af te takel en te bevraagteken. Hierdie intellektuele ("nuttige idiote") se menings word gepubliseer en gepropageer en deur voortdurende herhaling (propaganda) daarvan, vind dit ingang by die meerderheid. So ontstaan eers twyfel en later n oortuiging dat die waardes wat voorgestaan is, nie alleen verkeerd was nie, maar onreg tot gevolg gehad het. Laasgenoemde het n skuldgevoel tot gevolg.
Met hierdie skuldgevoel wat mense beetpak (ook veral weens die kerk se verootmoediging oor sonde), word geen steen onaangeraak gelaat om die onreg om te keer en reg te stel nie.
Nasionalisme is die groot vyand van die kommunisme. Nasionalisme staan vir die voorkeur vir die eie en diskrimineer ten gunste van die eie. Dit stel skeiding daar. Nasionalisme onderskei dus. En nasionalisme het deur die beleid van skeiding (segregrasie) in die RSA tot sy reg gekom. Omdat segregrasie niks anders as apartheid is nie, is apartheid aangeval. Apartheid was die een enkele beginsel wat sentraal in hierdie aanslag gestaan het.
Apartheid moes gevolglik afgebreek word. Hierin het die NG Kerk, die Afrikaner Broederbond en die Nasionale Party n sentrale rol gespeel om goedgelowige Afrikaners te beïnvloed, maar ook om hulle te mislei en te bedrieg. So het prof Johan Heyns van die NG Kerk gestel dat "... ons sal vanaf die preekstoel teen apartheid preek, soos ons eens daarvoor gepreek het". In September 1989 nog het die NP verklaar dat hy nie met terroriste onderhandel nie; dít terwyl onderhandelinge reeds begin het! In Februarie 1990, vyf maande later, is hierdie valse belofte openlik verbreek.
In enkele jare vandat apartheid as n gesonde en boon-op enigste alternatief vir die Suid-Afrikaanse situasie gesien is, is dié omstandigheid omgekeer deur n aanslag vanuit intellektuele-, kerklike en politieke geledere binne die Afrikanervolk tot by n punt waar dit nie net meer as moreel verkeerd beskou is nie, maar as n sonde en n misdryf teen die mensdom.
Deur voortdurende propaganda van die liberaal-gesinde media het dié bedrog en misleiding die gewenste uitwerking gehad: Die Afrikaner het soos n ryp appel in die skoot van die kommunisme geval; dog dit sal nooit openlik deur Kommuniste gesê word nie. Selfs die prooi sal dit ook hewig ontken!
Frontorganisasies van die kommunisme en/of kommu-nistiese meelopers sluk hierdie mense in onder die dekmantel van demokrasie of met n benaming soos "nasionalisties". Hulle word lede van die ANC (wat deur die SAKP beheer word) of van die Demokratiese Alliansie (wat geen kritiek teen die kommunisme lewer nie, hetsy dit dan "dood" is (en kritiek n mors van tyd is), of omdat dit (uiteindelik) dieselfde beginsels as die kommunisme voorstaan (wat kritiek teen sy eie beginselbasis sal beteken!). Die liberalisme is weer op sy beurt die pa van die kommunisme en die pa sal nie sy seun verwerp nie.
Maar ook ander waardes word openlik (as die tyd ryp is) of subtiel (as dit nog sterk inslag vind), ook deurentyd meedoënloos aangeval. Waardes oor die verhouding tussen man en vrou, die gesagsverhouding tussen ouer en kind, geslagsgemeenskap, (en of Jesus die Christus is!), om maar enkeles te noem, word aangeval. Twyfel oor alles ontstaan en die mens raak verward en helaas verlore. Die resultaat is uiteindelik in sy wese liberaal en ateïsties, iets wat kommunisme bevoordeel.
In sy boek "The Perestroika Deception", skryf Anatoli Golitsin ('n persoon wat lid was van die KGB vanaf 1945 tot 1961 en wat in 1984 ook die boek "New Lies For Old" gepubliseer het en waarin hy die gebeure van 1989 en daarna omtrent die sogenaamde val van kommunisme 96% korrek voorspel het), dat die huidige kosmetiese veranderinge van die kommunisme in Oos-Europa die VSA en ander Westerse lande mislei het om te glo dat kommunisme dood is. Sodoende word geld ingepomp om "demokrasie" te herstel en vind infiltrering van gevestigde Westerse instellings soos NAVO plaas deur geharde Kommuniste met net een doel voor oë: wêreldoorheersing.
Alles wat sedert die moord op dr Verwoerd, maar veral ná 1994 in die RSA gebeur het, het die kommunisme bevorder. Die verkiesings is "free and fair" (ondanks die nou reeds bekende uitspraak van regter Kriegler oor die 1994-verkiesing en die feit dat 1,7 miljoen meer stembriewe getel was in die 1999 verkiesing as wat uitgereik was). Die grond in die land word herverdeel (aangesien die aanvanklike ver-kryging daarvan onregmatig was). Daarom word boere vermoor en Blankes beroof (want dit is geregverdig om dié wat het, dood te maak en van hulle af te vat). Privaat inisiatief word gesmoor deur hoë petrolpryse en hoë insetkostes (want die besitters moet die stryd aangesê word) en staatshulp (veral aan Blankes) ontbreek. Wetgewing word ingestel om privaat inisiatiewe (soos byvoorbeeld die daarstel van privaat hospitale) te verbied (die staat sal besluit wat goed is vir sy mense). Blankes word geleenthede ontsê deur "regstellende aksie" (om die onreg van die verlede reg te stel en sodat almal gelyk sal wees). Belastings neem n omvang aan wat besit van eiendom totaal ontmoedig (sodat alles gemeenskaplike eiendom sal word). Wette word ingestel om gelykheid af te dwing en ander om die Blanke te ontwapen. Die gevolg is Blanke verarming en ontmagtiging en uiteindelike verknegting. Dit is n verbloemde klassestryd wat ontketen is in die naam van "die onreg van apartheid".
Die totale openbare media word beheer en is in die hande van diegene wat die kommunistiese ideaal propageer, hetsy onbewustelik, hetsy bewustelik. Die aanslag is dan ook nie net bewustelik nie, maar ook onbewustelik, maar deurentyd fel. Intellektuele handlangers (wat vir dié taak uitgekies en geskool is) staan aan die hoof van dagblaaie en organisasies en laat nie 'n oomblik verbygaan om of die onreg van apartheid uit te wys of die utopia van die huidige bedeling te skets nie. Kritiek word beperk tot aangeleenthede soos wanadministrasie of korrupsie deur enkelinge, maar bitter selde, indien ooit, teen die stelsel. Wanneer daar kritiek teen die stelsel is, geskied dit dan ook met n houding van "ons bely en glo dat apartheid verkeerd was, maar..." Dit sluit die alternatief van apartheid, en gevolglik nasionalisme as teenvoeter vir die kommunisme onmiddellik uit.
As almal dan gelyk moet wees en geen onderskeid geduld word nie, soos wat deur liberaliste betoog en deur die ANC beoog word, wat is dit anders as wat die kommunisme voorstaan? As alle Christelike norme en waardes bevraagteken word en niks meer as absoluut waar beskou kan word nie, wat is dit anders as ateïsme?
Kommunisme het geseëvier in Suid-Afrika. n Halwe waarheid is n groter vyand van die waarheid as n volstrekte leuen. Kommunisme vermom in enige ander naam is steeds kommunisme. Wanneer die leuen van kommunisme ontmasker word, sal die krag van nasionalisme kommunisme die stryd aansê in hierdie land. Daarom sal die kommunisme alles in die stryd werp dat dit nie gesê word nie. Want daar is niks wat die Kommuniste meer vrees as die mag van nasionalisme nie.
Komaan! het iemand opgemerk.. Inderdaad. Maar dan sal sommige eers moet ontwaak!
Ook gepubliseer in: "Die Afrikaner", 14 Julie 2000 (red)