|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
DIE GODDELIKE KULTUUROPDRAG IN DIE KONTEKS VAN GRONDBESETTING IN SUIDELIKE AFRIKADR CJ (STOFFEL) KRUGER
INLEIDINGVan die totale aardoppervlak word 360 miljoen vierkante kilometer of 71% deur die oseane en groot watermassas beslaan. Die oorblywende 147 miljoen vierkante kilometer of 29% verteenwoordig die totale landmassa waarop tans ongeveer 6,1 biljoen mense aangetref word. Afrika beslaan omtrent 30 miljoen vierkante kilometer van die totale aardoppervlak en Suid-Afrika 1,2 miljoen of 4% van die Afrika kontinent. Op hierdie oppervlak word, wat die totale bevolking van Suid-Afrika verteenwoordig, ongeveer 41 miljoen mense aangetref. Met 'n jaarlikse aanwas van 2,2% van die hoeveelheid mense in ons land, is dit baie duidelik dat grond steeds 'n belangrike rol in die mens se strewe tot oorlewing en voortbestaan is.
Polities word grond as 'n handige en aantreklike onderwerp, wat tot geografiese magsuitbreiding aanleiding gee, deur politieke leiers (demagoë) en partye aangewend. Hierdie artikel verteenwoordig egter nie 'n party-politieke inslag nie - dit gaan hier om die geopolitieke strewes van owerhede en hoe die onderwerp "grond" as strategiese medium tot magsuitbreiding aangewend word.
DIE CHRISTEN EN DIE BEGRIP GROND
Na die voltooiing van die skepping, het die mens 'n skeppingsopdrag (Gen 1 : 28 en 29) ook die kultuuropdrag genoem, van God ontvang. Daarvolgens moes hy oor die aarde heers, dit onderwerp en bewaak. Dit sluit die diere, plante en die ontwikkeling van die materie in. Verder is al die plante wat saad gee en bome wat vrugte dra, aan die mens as bron van voedsel gegee.
Vanuit die voorgaande blyk dit dat die grond sou moes bewerk word om te verseker dat die plante saad kan gee en die bome vrugte kon dra. Hierdie afleiding spruit uit die feit dat die mens op die grondoppervlak geleë tussen die Tigris- en Eufraatriviere, die Paradys, geplaas was. Verder is dit duidelik dat, met verwysing na die wêreld-kaart, die Paradys waarskynlik op die huidige Arabiese Skiereiland en wel binne die grense van huidige staat Irak, waarvan die hoofstad Bagdad aan die oostelike oewer van die Tigrisrivier geleë was. Daarby kan nog vermeld word dat dit grens aan Saoedi Arabië, waarvan groot dele 'n uitgestrekte sandwoestyn is waar reën 'n seldsame verskynsel is. Om in so 'n landbou-onvriendelike omgewing landbou te kan toepas verg kundigheid en toerusting.
UITVOERING VAN DIE KULTUUROPDRAG
Hoewel toegegee word dat met verloop van eeue daar groot klimatologiese veranderinge op aarde plaasgevind het, het argeologiese opgrawings bewys gelewer dat die grondgebied wat deur ons as die ligging van die Paradys aanvaar word, wel 'n oorwegend droë landskapgebied was. Die riviere Tigris en Eufraat wat in die Persiese Golf uitmond, was die hoofsaaklike bron van water.
Om landbou te beoefen benodig toerusting en gereedskap. Die mens moes uiteindelik nadat hy vanuit die Tuin van Eden verdryf is, die nodige implemente ontwikkel. Hierdie proses moet tereg as die oorsprong van die mens se ontwikkeling van kultuur beskou word. Kultuur word algemeen beskou as die produk van die mens in sy strewe tot aanpassing by die onmiddelike omgewing en dit ondervang 'n tasbare en nie-tasbare komponent.
Die implemente wat die mens in sy strewe om die kultuuropdrag tot uitvoer te bring, ontwikkel het, naamlik om oor die grondoppervlak te heers en dit tot sy voordeel te bewerk, het blykbaar 'n graaf, hark, pik en dergelike instrumente ingesluit. Hiermee het die mens dan ook 'n aanvang geneem om die Godgegewe kultuuropdrag te verwesenlik en al doende te ontwikkel.
Met die toename van die aarde se bevolking, en wel in opdrag van die Skepper om vrugbaar te wees, te vermeerder en die aarde te vul, het die mens se geestelike en sielkundige ontwikkeling ook riglyne en norme, as verwysingsraamwerk in die skakeling met en verhouding tot ander mense, vereis. Dit word hierna as die nie-tasbare komponent van 'n kultuur verwys wat vry algemeen as die mens se houding(s) en oortuiging(s) beskou kan word. Hierdie houdings en oortuigings lê dan ook aan die mens se gedrag en optrede ten grondslag.
Hoewel die voorafgaande na die verre verlede verwys, is die basiese eienskappe en optredes van die mens nog net so getrou aan die voorafgaande vanuit die verlede as wat dit vandag is.
DIE MENS SE ORIëNTASIE TOT DIE DAAGLIKSE LEWE EN GRONDBESIT
Elke mens beskik oor 'n spesifieke oriëntasie tot die daaglikse bestaan en sy/haar omgang daarmee. Hierdie oriëntasie word in die mens se gehuldigde ideologiese oortuiging vasgevang en mag wissel van 'n demokratiese tot kommunistiese ideologie. Sonder om in té groot en indringende detail te verval, word dit slegs genoem dat die Westerse kultuurtrekke, wat hoofsaaaklik deur die blanke Afrikaners gehuldig word, en wat op geykte beginsels van demokrasie geskoei is, wesenlik verskil van die swart Afrikane se kommunalistiese kultuurtrekke wat hoofsaaklik op 'n sosialistiese oortuiging geskoei is.
Dit is nodig om te vermeld dat Christenskap nie as 'n ideologie beskou moet word nie. Die voorreg om Christenskap te mag beleef moet as 'n Godgegewe voorreg deur die Heilige Gees se inwerking beskou word. Christenskap word dus as 'n credo of innige geloofsoortuiging deur Christene bely en beleef. Daarom het dit weinig met 'n ideologie of ideologiese oriëntasie as sodanig te make.
Oorwegend was die oorspronklike Vryburgers, die blanke Afrikaners, wat vanuit die Kaap die Goeie Hoop gedurende die Britse besetting weggetrek het, Christenmense met 'n sterk inslag tot private eiendomsbesit - 'n reg en nalatenskap vanuit Europa, wat die meeste van hulle om geloofsoortuigings verlaat het. Tans is die blanke boer, of hy/sy 'n Christen is of nie, nog steeds verknog aan die beginsel van privaat eiendomsreg en besit. Of daaraan 'n tweede gedagte gegee word al dan nie, die landbouer of veeboer is steeds besig om die Goddelike kultuuropdrag tot voordeel van almal en nie net vir homself en sy eie gesinslede nie, ten uitvoer te bring.
Die Swartes wat 'n nie-Christelike en dus in skriftuurlike sin 'n heidense afhanklikheid huldig, is soos genoem, van nature sosialisties. Privaatgrondbesit is tradisioneel ongekend. Kommunalisme, met ander woorde, gemeenskaplike grondbesit is selfs vandag nog baie sigbaar, selfs in die sogenaamde "groentetuin"-gebiede van die platteland waar tot vier gesinne of hele families onder die gesag van 'n sentrale figuur, gesamentlik die grond deel en bewerk.
Die afleiding wat gemaak word dat die Westers-georiënteerde kultuur en die Afrika-georiënteerde kultuur konkreet in konfrontasie en selfs in botsing tot mekaar staan, is nie vergesog en verkeerd nie. Met die oog hierop sal op die historiese besetting van Suid-Afrika se grondgebied deur Blank en Swart, gekoppel aan die geopolitieke uitbreidingsdrang van elke groep, met inagneming van die bybelse kultuuropdrag, gelet word.
'N GEOPOLITIEK-HISTORIESE OORSIG VAN SUID-AFRIKA SE GRONDBESETTING
Sedert 1400 toe die Swartes, vanuit die Sentraal Afrika se groot mere gebied in hul migrasie oor die Limpoporivier na die Suid-Afrikaanse grondgebied begin het, was magsug tussen die onderskeie fasmiliegroeperings, binne die Sotho en Nguni-groepe aan die orde van die dag. Aanvanklik was hierdie magstryd gemik teen die San (Boesman) en die Khoi (Hottentot), wat tradisioneel die noordelike grondgebied van ons land beset het. Die vervreemding, oftewel wegdrywing, van San en Khoi vanaf hul oorspronklike geografiese gebiede deur die suidwaarts migrerende "Bantoe", was bloot om grond vir aanplant en weiding te bekom. Die proses van "roofbou" of selfversorgende landbou op Suid-Afrikaanse grondgebied het hiermee 'n aanvang geneem.
Met die uitbreek van die "onverklaarde oorlog" of Mfecane (=Nguni) of Difiqane (=Sotho) in 1820, het die geo-politieke magstryd in alle erns in Suid-Afrika se Ooskus-gebied ontstaan. Uiteindelik was die oogmerk met hierdie menseslagting onder die destydse onderskeie Swart groeperinge, die verkryging van grond, hetsy vir selfonderhoudende (= "subsistance") landbou of weiding.
Veral word daar na die Xhosa ('n Nguni-stamverband) se suidwaartse migrasie as die kolonisering en vestiging in en van die Ooskus van die Kaapprovinsie verwys as "the Xhosa in the van (guard) continued to move (south) like a black glazier", (Smithers, AJ. 1973 The Kaffir Wars; Londen: Les Cooper Ltd.) Steeds, tydens hierdie migrasie van die "Bantoe" het weinige families 'n permanente vestiging in enige geografiese gebied bewerkstellig. Wel word erkenning aan die vestiging van kapteinskrale in spesifieke geografiese gebiede verleen, maar nie aan dié van families nie. Hierdie toedrag van sake moet aan die Mfecane toe-geskryf word.
Met die vertrek van die Vryburgers in ongeveer 1668 vanuit die Kaap in die rigting van die Ooskus, was 'n kulturele ontmoeting (botsing) tussen Blank en Swart 'n uitgemaakte saak. Dit het dan ook in ongeveer 1770 in die omgewing van die Keiskamarivier plaasgevind. Die Vryburgers wat die grond beset en in hul name as eienaars laat registreer het, was van toe-af deurentyd aan rooftogte vanuit die Swartes se Trans-Keiskamagebied onderwerp. Die gevolg was die nege grensoorloë. Hoewel vele redes aan hierdie oorlogsituasies toegedig mag word, bly die volgende die essensiële en grondliggende redes, naamlik:
1. Die toeëiening van grond, met ander woorde, grond-besit volgens die tradisionele "roofbou"-patroon van die Swartes.
2. Die gebruik van die grond, met ander woorde, self-versorgende landbou (van die "Bantoe") teenoor kommersiële landbou van die Blankes.
Vanuit die voorafgaande behoort dit duidelik te blyk dat die verkryging en toeëiening van grond by die blank kapitalisties georiënteerde kultuur met 'n bewuste of onbewuste strewe tot uitlewing van die bybelse kultuuropdrag teenoor die Swartes se kommunalisties gefundeerde kultuur, wat hoofsaaklik op self versorging van die onmiddellik betrokke afhanklikes, en grootliks op roofbou geskoei was, en in sommige geografiese gebiede, soos tans in Zimbabwe, nog steeds van krag is. Dit verteenwoordig inherent groot verskille.
Onomwonde kan gestel word dat die Westers gefundeerde kommersiële landbou in 'n getrouer mate aan die Goddelike kultuuropdrag uitvoering verleen as wat dit die geval is met die Afrika gefundeerde selfversorgende gewoontes en gebruike.
SAMEVATTING
Die huidige grondeise wat in Suidelike Afrika aan die orde van die dag is en wat deur die huidige Regering geloods word, het hoofsaaklik die volgende ten doel:
1. Die herlewing van 'n Afrika-kultuur (die sogenaamde "Afrika Renaissance"), wat erkenning aan onderlinge Swart etniese groeperinge tot gevolg gaan hê met die daaruit voortspruitende Swart etniese geweld as 'n neweproduk. Rwana-Burundi, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Sierra Leone en ander noordlig-gende Swart state is 'n heenwysing van ontwakende tradisonele Swart etnisiteit.
2. Die aanhitsing tot rassespanning. Die Blanke word steeds as die setlaar of indringer beskou wat die Swartes van hul "regmatige" grond vervreem het. Hierdie is 'n historiese onwaarheid met betrekking tot die RSA. Die Zimbabwe-situasie is anders as ons s'n. Die Blanke Boere in Suid-Afrika het boorlinge van Afrika geword. So ook Afrikaans. Dit is 'n inheemse taal, net soos, byvoorbeeld, Sotho en Zulu.
3. Die miskenning van die Christen as uitvoerder en toepasser van die Godgegewe kultuuropdrag. Verbloemd mag die heidense aanslag teen die Christendom ook hierin gesien word.
DIE CHRISTEN SE OPDRAG
Die Christelike boer en grondbesitter/bewerker se volmag en krag is in God gevestig. Met die geloofsoortuiging en in die woorde van Psalm 59 : 9 en 10 mag hulle hul plek op die aarde in ons land volstaan en verdedig.