|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
GODSONTERENDE UITLATINGS OP RADIO 702 RADIOMAN VAL BYBEL BLATANT AAN PROF ROELOF MARè - VOORSITTER VERENIGING BYBEL EN VOLK In 'n inbelprogram op Radio 702 het 'n sekere John Quelane op 'n arrogante wyse die een aanval op die ander teen die Bybel gemaak.Hy beweer dat:
die Bybel 'n gewelddadige boek is;
die Bybel 'n pornografiese boek is - erger as enige TV-uitsending;
die Bybel nie die Woord van God is nie - (van die belydenisse sê hy: "Rubbish"!);
die God van die Bybel diskriminerend is;
die Bybel die volgende leer: perversiteite, vermoording van jou eie kind, volksmoord, rassisme, grusame uitwissing van homoseksueles en ander.
Op grond van dit alles moet, sê hy, die Bybel verban word. Of dit moet minstens van kinders weggehou word. Soos daar ouderdomsbeperkings op programme oor die TV is, moet daar ook beperkings wees op die lees van die Bybel deur kinders. Hulle mag dit ook nie sonder die toesig van hul ouers lees nie.
Dit was 'n inbelprogram. Verskeie Christen-luisteraars het gebel om die aanbieder teë te gaan. In enkele gevalle het hy onbeskof teenoor hulle opgetree en hulle van die lug afgesny.
Daar is wye reaksie op hierdie laakbare optrede van dié program-aanbieder. Die dagbestuur van die Vereniging Bybel en Volk gaan 'n saak maak hiervan, om hom aan te kla by Radio 702 en sy afdanking te eis, asook openlike verskonings deur homself en Radio 702.
Is dit maar 'n voorsmaak van wat in die toekoms in Suid-Afrika op die Christene wag? Sal dié dinge ongestraf geduld word? Of sal al wat Christen is (77% van die bevolking?!) 'n bandjie van dié omstrede uitsending aanskaf, self daarna luister en dan hulle ernstigste protes aanteken, ten einde soortgelyke Godsonterende programme en uitlatings te stuit?
Bandjies verkrygbaar by Radio Pretoria se "Woord en Klank"-winkel. Tel (012) 543 1586