|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYWARE BETEKENIS VAN DIE CALVINISME
P VAN DER KOOI
CALVINISME IS SINONIEM AAN GEREFORMEERD-WEES VIR DIE WETENSKAP EN DIE PRAKTYK VAN DIE LEWE |
In die vorige aflewerings is die Calvinisme beskryf as die ontwikkeling in drie bestanddele of fases wat onderskei kan word, wat elkeen 'n eiesoortige verwysingsraamwerk het. Dit moet in vandag se behandeling van die Calvinistiese staatkunde en politiek verreken word.
Die verskillende bestanddele of fases is agtereenvolgens: (1) dié van die reformatoriese ontstaan in die tyd van Calvyn en sy tydgenote; (2) dié van die gebruik en toepassing van, asook 'n voortbou op en 'n verdere ontwikkeling en verdieping van die gestelde grondbeginsels. Dit is van betekenis aangaande die prinsipiële verwerping van die rasionalistiese rewolusieteorieë, asook die motivering daarteen, gedurende die tydperk van die soge-naamde Verligting en, aansluitend daarop, die fundamentele kritiek op die Franse Rewolusie en sy heillose gevolge.
Met die oog daarop was dit Mr G Groen van Prinsterer (1801 - 1876) wat die vaandel gedra en in Nederland die vader van die anti-rewolusionêre politieke denke geword het. Hy het 'n heel persoonlike en en besondere bydrae gelewer, wat veral met die oog op die staatkunde en politiek van groot betekenis geword het. "Groen onderkent een staatkundige antithese, maar deze gaat op een religieuze terug", aldus prof J Kamphuis ea (1974).
Mee as gevolg van Groen se lewe en strewe ontwikkel die volgende fase, (3) dié van ná die Franse Rewolusie en ná die val van Napoleon. Dit was aan-vanklik 'n tyd van geestelike dorheid. Maar die werk van hom en sy geesverwante het uiteindelik vrug gedra. In Nederland met dié van die stigting van die Anti-Revolutionaire Partij (ARP) in 1878, met as doelstelling om die historiese volkskarakter tot verdere ontwikkeling te lei, "overeenkomstig den gewijzigden volkstoestand en in een vorm, die aan de behoeften van onzen tijd voldoet".
Daarbenewens is in 1880 die Vrye Universiteit (VU) gestig, as 'n wetenskaplike vesting vir die Calvinistiese wêreldbeskouing wat "vrij van den staat en vrij van de kerk, op den grondslag der Gereformeerde beginselen land en volk ten zegen zou zijn". Op die vakgebied van die wysbegeerte spruit die latere dosering van die "Wysbegeerte van die Wetsidee" daaruit voort.
Dit alles stimuleer op sy beurt tot die motivering vir en stigting van die partikuliere Christelike nasionale organisasies vir die pers, die onderwys en op die sosiaal-maatskaplike terrein.
Hierdie laaste stadium het, met betrekking tot die vergestalting in die samelewing vir die Gereformeerdes in Nederland en die Calvinisme in die algemeen, aanvanklik 'n glorietyd geword. Die invloed van die AR Party op politieke gebied en dié van die VU op die terreine van die teologie en die wetenskap het, onder dr Abraham Kuyper se geniale en charismatiese leiding, groot hoogtes bereik. Die jaar 1901 het 'n besondere hoogtepunt geword toe die regse partye in Nederland die liberales oorwin het, met die gevolg dat dr Kuyper die kabinetsformateur en toe ook die Eerste Minister geword het.
Ongetwyfeld was Kuyper se belangrikste bydrae die aktivering van die "kleine luyden", naamlik hulle ontwaking tot Christelike aktiwiteit: "dat het aanwakkeren van het Gereformeerde nationalisme ook betekent strijd voor het sociaal recht". Sodoende het hy die grondslag gelê vir die ontwikkeling van staatkundige denke met konkrete noodsaaklike konsekwensies vir alle lewensterreine.
Ten slotte moet die aandag gevestig word op die relativering van die Calvinistiese waardes en die prinsipiële aftakeling van die AR Party en die VU asook die ander organisasies wat in die voetspoor daarvan opgerig is. Dit hang saam met die ontwikkeling van Skrifkritiek aangaande die verklaring van die Woord van God, die betwyfeling van die onbegryplike beskrywing van die sprekende slang in die paradys en die wonders in die Bybel, Jona in die vis ensovoorts. Dit is gepropageer in die Gereformeerde kerke deur dr JG Geelkerken, predikant van die Gereformeerde Kerk te Amsterdam-Suid. Dit het gelei tot heftige polemieke en ten slotte tot sy skorsing en afsetting . Vier dosente van die VU het hulle by dr Geelkerken geskaar, naamlik die professore dr RH Woltjer, mr PA Diepenhorst, dr HJ Pos en die lektor mr Chr Zevenbergen.
Dit het groot beroering veroorsaak. Die skriftuurlike fondament van die VU is daarmee aangetas. Hierdie hooglerare is in hulle poste gehandhaaf, nieteenstaande die kerklike afwysing van die afwykende opvattings ten aansien van die Heilige Skrif. Geen wonder dat die VU, vir wat die vakwetenskaplike fakulteite betref, die binding aan die Gereformeerde belydenisskrifte ter syde gestel het. Dit het gelei tot die skeiding van die geloofsbinding op die onderskeie terreine van die breë bestaan.
Die koerswysiging van die VU het op alle terreine van die gereformeerde lewe sy gevolge gekry. Veral in die onderwys en die openbare voorligting het die rede (rasionalisme) oor die geloofsake gaan heers. Dit is hoofsaaklik die gevolg van die miskenning die inhoudelike van die belydenisskrifte (die Drie Formuliere van Eenheid) by die vakwetenskaplike fakulteite van die VU. Daarmee is die oorspronklike beginselgrondslag vcrloën, aldus prof dr Klaas Schilder: "we hebben geen Vrije Universiteit gesticht om beginselkwesties onbesproken te laten, maar om ze heel opzettelijk wél te bespreken". Daar mag dalk verskil word oor die vraag of die Bybel die kinderdoop eis of nie, of die owerheid 'n bepaalde taak mag afdwing of nie, maar as daar 'n ander mening gehuldig word oor die Skrif as kennisbron, dan word alles op los skroewe gestel, sê Schilder.
Dit is juis die geval by die blindelingse volgelinge (epigone) van dr Abraham Kuyper dat hulle sy konsep van die Calvinisme nie vanuit die Skrif benader het nie. "In our opinion, Schilder and other writers were right to assert that qualifying the authority of the Bible means, in the end, undermining all christian action", aldus ds WG de Vries (1974:413). Gevolglik word vanaf die dertiger jare van die vorige eeu en spesifiek in die na-oorlogse (1940 - '45) omstandighede van Nederland die geestelike verval, in die Gere-formeerde Kerke en op die terreine van die Christelike organisasies, volgens die liberalistiese patroon ervaar. Dit het die kwade gevolge tot na ons land toe laat oorwaai. Die PU vir CHO en ook die UOVS met sy "Wysbegeerte van die Wetsidee" is daarmee geïnfekteer.
Die behoefte aan 'n reformatoriese beweging was daar ook. Dit is sterk bevorder deur die persarbeid van prof Schilder vanaf die tyd dat hy die alleen-redakteur van die konfessionele weekblad "De Reformatie" geword het. Dit het op 'n bepaalde wyse vervulling gevind in die oprigting van 'n politieke party wat hom weer aan die suiwere grondslag van die Calvinisme wou bind.
Dit was die Gereformeerd Politiek Verbond (GPV) wat in 1949, ná die Amersfoortse Kongres van Maart 1948, opgerig is. Op die eerste algemene vergadering van hierdie party het ds J Francke opnuut die basuin geblaas vir die politiek van die Calvinisme: Hy het dit as volg gemotiveer:
"Het gemenebest moet onder Gods geboden, onder het koningschap van Christus staan. Het volksleven, nationaal en internationaal, moet worden geleid en bestuurd en geregeerd overeenkomstig de ordinantiën des HEREN in Zijn Woord. Als burgers hebben wij de roeping van Godswege te ijveren voor sulk een regering. En als wij als burgers geroepen worden tot een overheidsambt, dan hebben wij dat ambt naar het Woord Gods uit te richten. Daarbij is elk kerklid derhalwe ook gebonden aan zijn belijdenis."
Wat aanvanklik in Nederland sy beslag gekry het, is ewenwel van wêreldwye betekenis. Alhoewel dit elders nie die groot invloed as oorspronklik in Nederland gekry het nie, is die Calvinisme as wetenskapsbenadering wel in ander lande bekendgestel en gedoseer. Sodoende beweer Emil Knodt, in 1910, dat "terwijl zich op de gehele aarde slechts ongeveer 56 millioen Lutheranen bevinden, zijn er ongeveer 120 millioen Calvinisten ..." Krities verwys L Praamsma hierna en vra, wat nou eintlik Calvinisties is. "Zijn degenen die zich in onze dagen graag Calvinisten noemen, wel waarlijk die naam waard? Mogen ze zich inderdaad geestverwanten noemen van de reformator van Geneve?" aldus Praamsma.
Hoewel getalsmatig dus nie betroubaar nie, verskaf dit wel 'n naasteby insig ten opsigte van die wêreldwye in-vloed wat die Calvinisme, tereg of ten onregte, verkry het. Helaas nie so wyd gepaard met die aanvaarding en toepassing van sy werklike geloofspersepsies nie.
By ons het die Calvinisme, veral insake die politiek en die wetenskap, besondere betekenis gekry deur die toedoen van Staatspresident SJP Kruger. Ooreenstemmend met artikel 3 van die AR Party se Beginselprogram het hy "ook op staatkundige terrein, die ewige beginsels van Gods Woord" bely. Daarmee het hy betekenis verleen aan die Calvinisme as 'n onderskeidende lewensbeskouing wat antiteties staan teenoor dit wat as die Engels-liberale denke gehuldig word.
Ook het die VU sy eweknie by die PU vir CHO gevind en die Wysbe-geerte van die Wetsidee wetenskaplike vergestalting in die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Die staatkundige beleid van afsonderlike ontwikkeling, onder dr HF Verwoerd se leiding, was verwant aan die voor die oorlogse (1940 - '45) anti-rewolusionêre (ARP) doelstellings insake die ontwikkeling van die voormalige Nederlandse oorsese gebiedsdele.
Dit is kortliks die agtergrond, die ontwikkeling en die vrug van die Calvinisme vanaf die optrede en prin-sipiële leiding van Johannes Calvyn tot op vandag. helaas nie sonder die relativerende invloede en die kragte van die verval wat ten aansien daarvan aan die dag gelê is en die slopende gevolge wat dit - ook in ons land en samelewing - gekry het nie. Dit is wat ons tans ervaar en waarvan die geskiedenis nog geskryf moet word.
Die hoofstukke wat in hierdie reeks beskryf is, dié inhoud, dit alles tesame, vorm die Calvinistiese fondament waarop tot vandag toe gebou kan word. Maar wat as Calvinisties getipeer is of word, behoort daarmee ooreen te stem en ook dié wat hulle as Calviniste pretendeer, moet daaraan getoets word.