|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
GESPREK MET DIE LESERS REDAKSIONEELDit is al weer die voorlaaste uitgawe van die vierde jaargang van ons blad. In hierdie uitgawe is op verskeie wyses aandag verleen aan die Skrifkritiek en independentistiese handelinge en optredes van sekere kerke en persone in die verband van die GKSA en daarbuite.
Ons het die afgelope maand ook gebruik gemaak van die geleentheid om op Woensdag, 23 Augustus, in die program Weegskaal vanaf 9:00 tot 10:00 saans op RADIO KANSEL, tesame met prof Roelof Marč van die teologiese skool van die APK, 'n debat te voer oor die handhawing van die gesag van die Heilige Skrif teenoor 'n Skrifkritiese professor van die NH Kerk, prof PM Venter.
Daar is ook besluit oor 'n opvolg-simposium oor die saak van Skrifgesag in aansluiting op dié van laasjaar op 29 en 30 Oktober. Met die oog daarop het ons die reg verkry vir die vertaling van 'n boek wat in Nederland verskyn het oor die ontstaan van die Bybel. Dit is geskryf deur ds WJJ Glashouwer en dr WJ Ouweneel. Dit handel onder meer uitvoerig oor die Skrifkritiek, soos wat ons dit vandag betwis
Dit is 'n spanpoging om hierdie boek in vlot leesbare Afrikaans te vertaal en daarna te laat druk en bekend te stel. Die datering en aankondiging van die volgende simposium hang af van die verskyning van hierdie besondere boek.
Na aanleiding van die kommentaar in die vorige uitgawe van ons blad oor die evolusionistiese bena-derings in die program "Ek wil weet" op die senders van RADIO PRETORIA, is sowel mondeling as skriftelik beswaar gemaak daarteen gemaak by die besturende direkteur, ds Mossie van den Berg. Tot op hierdie oomblik, helaas!, met 'n onbevredigende resultaat en antwoord wat ons terug ontvang het.
Ons wil graag enkele persone bedank wat vir die verskyning van ons blad onbaatsugtige dienste lewer. In die eerste plek br Nico van der Dussen, wat nieteenstaande 'n besige werksbelading, elke keer klaarstaan om te help met rekenaarprobleme as daar is, en die plasing van die kopie op ons Webbladsy op Internet. Dan is daar enkele persone wat help met aanstuur van kopie, en ander met vertaalwerk uit Engels of Nederlands, as ons op hulle knoppie druk. Baie dankie vir hierdie hulp wat so vriendelik aangebied en verleen word.
ADMINISTRATIEF
Dit blyk dat van die lesers/inteke-nare nog nie mooi verstaan hoe ons sisteem van aanduiding vir herinte-kening werk nie. Ons verduidelik dit weer. Indien daar 'n nommertjie 4 agter die naam van die geadresseerde staan, dan is vir hierdie jaargang betaal. In alle andere gevalle verwag ons nog 'n finansiėle bydrae hiervoor. Om intekenare te herinner aan die versoek vir herintekening, verskyn hiernaas (in die gedrukte eksemplaar) 'n oranje of rooi plakker met die versoek om 'n bydrae aan die administrasie van ons blad oor te betaal. Daarnį kan, vanaf die volgende uitgawe, bydraes vir die volgende jaargang oorbetaal word. ®